Jongste aktiwiteit:

Marcel se goue woorde

Amilé staan langs die oop graf. Sy wag dat die kis in die grond afsak. Die wind waai liggies haar hare heen en weer. Sy het niks meer trane om te stort nie. Dis asof haar traansakkies opgedroog het.
Twee weke gelede het Marcel laat weet dat hy terug vlieg na Suid-Afrika en hy was so opgewonde. Nou staan sy langs sy graf. Sy laat haar kop sak.
Die wind waai die grafblomme wat oral rond staan. Amilé dink aan hul skoonheid wat so kort duur. Sy kry ‘n nare gevoel en ‘n slegte smaak in haar mond.
“Hoekom moet dit nou met my gebeur?” dink sy saggies by haarself.
Skielik sien sy weer die motorongeluk voor haar afspeel. Remme skreeu, glas breek en daardie harde slag wat sy net nie kan vergeet nie. Sy sien hoe Marcel sy kop stamp en die gebreekte glas na haar kant van die motor aangevlieg kom. Die vlymskerp glas tref haar wang. Dit sny seer, bloed pomp uit elke gaatjie. Sy voel Marcel se hand op hare wat vinnig koud en slap word. Sy gryp sy hand styf vas en hou hom sonder om te los.
Die motor kom tot stilstand en hulle lê onderstebo met hul sitplekgordels nog vas. Hulle moes in die rondte getol het. Sy kannie asem kry nie en wil paniekerig gil. Sy gryp haar kop vas en laat los Marcel se hand. Haar kop pyn vreeslik en die donker duisternis oorval haar.
Amilé word wakker in haar bed in haar woonstel. Haar familie het haar seker in haar woonstel kom neerlê. Sy voel of sy gedroom het. En toe sy weer sien staan sy langs Marcel se graf. Sy voel mismoedig, afgemat, trane loop oor haar wange. Hy is weg en sy sal hom nooit weer sien nie.
Wit rose waai in die wind terwyl die dominee Marcel tot rus bring. Amilé kan niks hoor wat hy sê nie en voel net die seer in haar hart. Hoe gaan sy oor Marcel se afsterwe kom, sy voel alleen en leeg. Sy draai om en stap weg tussen die ou grafte in.
Twee weke het verby gegaan en sy sit nog steeds in haar woonstel, alleen. Sy voel of niemand haar smart ken nie, waarom kom niemand dan na haar toe om net vir haar ‘n bietjie vertroosting te gee nie? Haar selfoon lui nie eers nie. Sy voel verlate. Sy dwaal rond in haar woonstel en kan niks doen of begin nie. Sy kan nie eet nie en voel ook nie dors nie.
Amilé gaan sit voor haar skryftafel en kry haar gunsteling pen maar toe sy die pen op die wit papier neerlê om daardie goue woorde van haar te skryf, kan sy dit nie doen nie. En toe lui haar deurklokkie.
“Wie kan dit wees? Wie is daar?” vra sy, maar niemand antwoord nie. Sy kan nou met iemand gesels al is dit net ‘n posman.
Sy maak die deur oop. Dit is snaaks, die gang na haar woonstel is pikdonker. Lyk vir haar of almal in haar blok al slaap. Sy voel-voel voor haar met haar een hand maar daar is nie ‘n siel buite haar deur nie. Toe skop sy iets raak. Sy buk af en voel waar dit kan wees. Dit is ‘n karton houer. Sy tel dit op. Sy stap terug, sluit die deur agter haar en kry sommer ‘n koue rilling teen haar ruggraat af. Sy sit die houer op haar lessenaar neer.
Wie sal nou dit voor haar deur wou neersit? Sy loer op haar horlosie, dit is net na 12:30, middernag. Sy frons, tyd maak ewe skielik nie meer vir haar saak nie en toe skud sy net haar kop. Sy besluit om môre te loer wat daar in is, want nou is sy lus om te skryf. Amilé begin skryf en so het verskeie papiere en dokumente op die kartonhouer beland en sy het daarvan vergeet.
Toe die son se strale deur haar donker woonstel skyn, is daar ‘n vreeslike stilte en Amilé hoor dit. Sy draai om van haar lessenaar, haal haar skryfbril af en voel hoe die son sy verskyning in haar woonstel maak. Dit is soos musiek van Chritina Perri, A thousand years wat saggies in haar kop speel en sy voel om in die oggendsonstrale te staan. Sy staan op, gaan lê sommer netso op die vloer in die sonstrale en dit voel goed.
Amilé neem haar handsak, gooi dit oor haar skouers. Sy moet gaan stap. Dit is asof sy lig voel en net ewe skielik lewe gekry het. “Kan sy vry voel?” Sy voel of sy weer kan skryf. Soveel stories maal deur haar gedagtes. Na Marcel se dood was alles wit op swart maar vanoggend voel sy kleur. Haar stories het kleur nodig gehad.
In die park gaan sit sy op ‘n ou houtbank. Sy kom gou tot haar sinne toe sy die ou man langs haar sien sit. Hy lyk blind en sy merk sy loopstok langs hom. Hy het ‘n donker bril op en staar voor hom uit. Sy hoor ‘n paar kinders in die park speel en baljaar. ‘n Hond wat ver weg blaf. Sy ruik die geur van jasmyn.
Sy groet die ou man maar hy draai sy kop net skuins na haar kant toe en knik.
“Vertel my, wat is op jou hart vandag?” vra die ou man.
Sy kyk verward na hom en kan nie glo wat sy nou-net gehoor het nie. Hy is blind maar kan haar sien.
“Nee, ek dink meneer maak ‘n fout, ek het niks op my hart nie!” sê sy heiwerig.
“Ek kan sien jou hart is seer. Ek kan jou sien, helder soos ‘n engel uit die hemel.”
Amilé kyk nou baie verbaas na die ou man en dink daaraan om haar handsak te neem en weg te stap. Maar iets sê bly nog.
“Jy skitter soos die sterre, die son is jou vriend en jy kom nou net uit daardie donker gat! Jy voel verdwaal en wit op swart is nou jou maat, maar ook soek jy goue woorde,” sê die ou man terwyl hy voor hom uit staar.
“Jy is gestuur om langs my te kom sit want vandag gaan ek jou ‘n boodskap gee, die geheim wat alles dryfkrag gee.”
Amilé weet nie of sy moet luister of net moet terug stap woonstel toe nie. Sy staan op om reg te maak om te gaan, toe kyk die blinde ou man op na haar.
“Bly, jy sal nie spyt wees nie,” sê hy.
Amilé gaan sit. Sy voel ongemaklik.
“Ek luister,” sê sy.
“Die geheim is, …… en ek weet dit is die moeilikste ding om te doen, maar as jy laat gaan en nie meer teen alles veg nie, sal jy berusting vind.
Hy draai sy kop na haar kant toe en glimlag.
“Jy is die mooiste wat ek nog gesien het en ek wil vir jou sê, jy is amper daar. Hou moed, bevryding is naby.
Amilé staar net in die blinde ou man se donkerbril oë en wonder nog steeds hoe hy haar kan sien. Sy frons.
Die ou man voel-voel na sy loopstok, staan op en stap af met die paadjie. Amilé staar agterna. Sy sug en skud haar kop. Sy kyk op in die lug na die son en dink om maar terug te stap na haar woonstel.
Haar woonsteldeur staan oop. Haar ma is binne en sy is besig om te pak. Sy sien haar ma stap na haar kamer en gaan staan botstil voor haar bed en snik. Sy stap na haar toe.
“Mamma?” vra sy.
Haar ma hoor haar nie, en toe tik sy haar op haar skouer. Haar ma draai om en loop vinnig en sonder enige gevoel deur Amilé sonder om haar te stamp. Dit voel vir Amilé of iemand nou net deur haar siel gestap het. Sy is geskok.
“Mamma!” roep sy weer.
Maar haar ma hoor haar nie. Sy stap agter haar ma aan en dit is toe dat sy sien hoe haar ma al haar woonstelbesittings in houers pak. Die houers staan oral in haar woonstel en gemerk, “Amilé – liefdadigheid”. Sy skrik, want toe onthou sy, sy het altyd gespot dat sou sy die dag sterf, moet haar ma al haar besittings vir liefdadigheid skenk.
Sy voel meteens benoud. Kan dit wees? Sy kyk af na haar hande en hulle is besig om te verdwyn. Nou raak sy paniekerig. Wat is besig om te gebeur? Sy kyk op en voor haar is die kartonhouer van die vorige aand. Sy stap nader en loer daarin en sien ‘n ring en ‘n brief. Sy lees haastig sonder om aan die brief te raak.
“My liefste Amilé. Sal jy met my trou en my die gelukkigste man op aarde maak? Ek gaan jou kom haal want ek mis jou. Ek is baie lief vir jou, Marcel.”
Sy kyk na die ring en probeer dit aanraak maar dit val op die grond neer. Saam met die kartonhouer val alles van die tafel af. Sy skrik en dink weer aan die ou blinde man se woorde van vroeër. En nou weet sy diep in haar binneste dat die ou blinde man engele sien en toe verstaan sy. Meteens skyn die son se strale weer by haar woonstelvenster in en sy steier terug. Haar voete verdwyn en ewe skielik voel sy lig soos ‘n veer. Sy voel liefde en vryheid en soos fluisterende woorde omhels Marcel se goue woorde om sy vrou te wees haar. Sy verdwyn in die strale van die son en meteens is die woonstel donker.
Sy is weg sonder dat haar ma enige iets vermoed het.
“Dit is snaaks, maar hoekom lê die ring op die grond?” vra Amilé se ma en tel dit op. “My liefste dogter, as jy maar net geweet het dat Marcel jou sou vra om te trou, voordat julle in die motorongeluk gesterf het, jy sou so gelukkig gewees het.”
Sy vou die houer toe met alles daarin, soen dit en sug hard. Min wetend dat Amilé, haar mooi dogter, nou net langs haar gestaan het en dieselfde ding ervaar het met Marcel se goue woorde.




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed