My dagboek oor jou (6) …
My dagboek oor jou (5) …
Iemand sê gister: “Dink jy nie dis tyd dat jy nou aanbeweeg nie?” Hoe ondeurdag. Hoe bitterlik onvanpas. Hoe onnadenkend kan mense wees. As “aanbeweeg” ‘n opsie was, sou ek dit nie lankal gedoen het nie? Sou ek dan aangehou het om dag na dag te lewe vir hoop. Vir hoop … met hoop … oor hoop … om hoop. Hoop wat ‘n holte vul. Hoop wat ek troetel in my borskas waar my hart moet wees. Hoekom? Want hoop is al wat ek het. So eenvoudig soos dit.
Hoe het dit gebeur? Hoe het jy my hoop geraak? Maklik … jy was net eendag daar. Eendag toe ek stukkend en vol krapmerke en droë bloed in die stofpad gesit het. Jy was daar. O natuurlik wou ek jou nie daar hê nie. Want ek kom reg op my eie … soos altyd. Maar jy was daar en jy het gebly al het ek jou ook weggejaag. Sonder dat ek dit eers agtergekom het, het jy my opgetel. Die stof van my klere af geskud. Jy het met teerheid stukkie vir stukkie, dag vir dag my seerplekke gesond gemaak. Die bloed afgevee. Ontsmet waar nodig was. Steke ingesit. En pleisters geplak. Stukkie vir stukkie het jy my menswees heelgemaak. My hart, my siel, my ek. Dis toe ek geweet het jy is my MENS. My eie MENS. My rots en my anker. En as my boot wil sink in onstuimige see, is jy my boei. My vashouplek.
Aanbeweeg? … nie sommer nie. Nie terwyl ek en jy nog asemhaal nie.
Hoop? … altyd en sonder einde. Want waar hoop is, is daar lewe.
Moedverloor? … nie ek nie. Nie vir ons of vir jou nie.
Hoe kan ek dit sê? Maklik … want jy is my MENS.
Soms voel dit asof ek ook die trein wil vat na Moedverloor se vlakte. Maar dan kom staan HOOP voor my en verhoed dat ek ‘n kaartjie koop. Soms voel dit asof my hart buite my lyf gaan staan oor daar binne nie meer plek is vir die hartseer en verlange nie. Soms loop die trane soos ‘n rivier en oorstroom die walle van my oë. Die trane vorm ‘n poel water om my voete en my hart wil net in daardie waterpoel gaan lê met die begeerte om te verdrink. Maar dan kom HOOP en sit ‘n sagte hand om my hart sodat my gemoed weer rustig raak en die trane bedaar.
En soms … soms is die lug blou en son skyn en natuur gee my ‘n kosbare skildery as ek wakker word. Dan weet ek … HOOP is daar om te bly.
Net soos my liefde vir jou
xxx
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Borrels dit is n werk wat mens laat dink. Aanbeweeg in die lewe is nie altyd so maklik nie