My huis kan ook dig
My huis kan ook dig
Venaand se gebeure
Vind plaas agter geslote deure
Daar waar ek lê op ‘n kussing vol vere
In die hoek ‘n wasgoedmandjie met ongewaste klere
Die vloere sing van dansende mense
Die mure hang vol van opregte wense
Die vier mure is hartseer se grense
Die kombuis spog met ‘n 100% sukses persentasie van versaadige pense
Die kaste lyk oud
Veral onder die wasbak wat lek, met deure oop ruik dit effens benoud
In die hoek die verdwaalde ou yskas maak nog al die jare koud
Plafonne se lyne
Verduidelik die pyne
Knieë geplak of vir koors medisyne
Dit vertel ook van lang aande met goedkoop rooiwyne
Die kamers sal wag
Betroubaar na elke lang dag
Waar hy luister na ons drome in die nag
Gesels ons met hulle eerlik en sag
Klein voete het hier leer loop
Kort daarna balletskoene gekoop
Linte in lang hare vas geknoop
Gesprekte neem oor op die mees wyse leer bank
Die gang weergalm van ‘n lagende klank
Die eetkamertafel maak sy oë toe soos ons die Vader saam dank
Verbeelding hardloop vry in ons eie persoonlike land
Die vensters oop want hulle kry warm
Die liefde is baie, maar geld bly arm
Die badwater in die storm bly kalm
Soos die stoof vir ons verduidelik die springmielies is reg, hy stuur ‘n walm
Die stoep fluister terwyl die vuur laat aand brand
Molly ons plothond rol laf in die sand
Die heining se jare is antiek, geroes, loop hy met krukke in sy toestand
Die mooiste prentjie word geneem
Sonder kamera
Of foon
Die mooiste prentjie word geneem
Deur die siel
Dit word gebêre om deur te blaai en te vertaal in gedigte
Deur
© Regardt Belo
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.