Jongste aktiwiteit:

My taal – my trots (Silwer – 597 woorde)

Dis die jaar 2022. Middel van die winter. Ek sit knus toegewikkel in my gehekelde poncho en wag dat die vergadering begin. Dis nou al geruime tyd dat die media oorheers word deur taalteenstrydighede wat gemoedere hoog laat loop. AfriForum het dit goedgedink om hierdie vergadering te belê sodat almal wat ‘n sê het, hul sê kan kom sê.
Eenkant in die saal sit die broeders van ouds. Stywe nekke en groot bekke. Die knypbrilletjies op die punt van hul neuse weerspieël hul geleerdheid. Hulle is dan ook die eerstes wat ‘n spreekbeurt kry toe die geleentheid daarvoor aanbreek.
Na ‘n lang relaas oor die ontstaan van Afrikaans, eindig prof Allesweet met die volgende stelling: “Ons kan dus nie toelaat dat Afrikaans afgewater word met allerhande vermengings en afplattings deur verskillende nasionaliteite nie. Ons taal is gevorm deur voorgeslagte wat in hul grafte sal omdraai as hulle moet hoor hoe dit besoedel word deur invloede van buite. As ons wil hê die taal moet bly voortbestaan, moet ons die onkruid uitroei.”
Die stoel begin brand onder my sitvlak en my hand skiet op in die lug. Die man met die mikrofoon stap nader en hou dit voor my mond.
“Laat die voorgeslagte rus in hul grafte,” begin ek braaf. “Vooruitgang het baie dinge laat verander en ‘n taal moet tred hou met vernuwing en verandering. Afrikaans is nie ‘n verouderde taal waarvan die rakleeftyd verstreke is nie.”
“Ja, maar …,” val een van die wysneuse my in die rede.
“Laat die dame asseblief klaar praat,” maak die mikrofoon-man hom stil.
“Afrikaans is ‘n lewendige, vernuwende taal wat groei en ontwikkel van geslag tot geslag. ‘n Taal wat sinkroniseer met elke hartklop en asemhaling van dié wat dit praat.”
“Juis daarom moet ons waak daarteen dat daar nie skewe of volksvreemde woorde wortelskiet in ons taal nie,” val ‘n ander wysneus my in die rede.
Ek kyk direk na hom. “Meneer, ‘n taal is soos ‘n plant. Niemand het werklik beheer oor die groei daarvan nie en kan dit nie regtig aan bande lê nie. Hoe meer aandag en liefde dit kry, hoe weliger groei dit, in alle rigtings. Taalpuriste is geneig om telkens die snoeiskêr te wil uitpluk om die taal getemper en beheersd te probeer hou. Hoge woorde word op professionele wyse ingespan, veral in geleerde kringe, wat jongmense die verkeerde indruk daarvan gee. ‘n ‘Snob-taal’ noem sommige dit soms.”
“Ons moet tog ‘n voorbeeld stel, trots wees op ons taal …,” waag iemand uit die gehoor dit.
“Ja, beslis, maar mens kan net trots wees op iets wat vir jou waarde het. Iets wat met jou hart praat op ‘n manier waarop jy dit verstaan.”
“Afrikaans is goed en verstaanbaar genoeg vir dié wat dit suiwer praat en wil hou, soos ons volk, sonder allerhande verdraaiings en beïnvloeding van buite,” kom dit uit die stywe nek-kamp.
Ek maak of ek hom nie hoor nie en gaan ongesteurd voort. “Afrikaans is ook lankal nie meer eksklusief ‘n blanke volkstaal nie. Dis ‘n taal wat aan almal behoort wat dit praat en lief is daarvoor. Dis nie ‘n taal wat aan bande gelê kan word nie. Almal wat dit praat het reg daarop en praat dit soos dit gemaklik op hul tong en in hul kultuur pas. Daarom is dit ‘n lewendige, vernuwende taal wat sal aanhou groei. Groei verby doemprofete se bewerings en gerugte dat Afrikaans ‘n bedreigde taal is wat kan uitsterf.”
‘n Dawerende applous breek los. Voordat ek gaan sit, kyk ek prof Allesweet vas in die oë en knipoog vir hom.
©Driekie Grobler




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed