‘n Stukkie Afrika
In die winde wieg die vaal grasland;
aan sy grense verrys saambreeldorings – swart gebrand.
In die wit sand lê my spore…
‘n kwê-voël skree en ‘n houtkapper roep na reën.
Hier en daar blapse groen wilde-appelblaar;
in die haak-en-steek is daar lewe te bespeur;
sonbesies krrrr en mopanieblaarvlinders kraak;
op ‘n klip in die warm somerson bak ‘n likkewaan.
‘n Persblou kombers rol oor die horison.
Die Bosveld word heilig – stil.
Plompe druppels bars op die grond –
‘n seënoffer deur God se wil!
In ‘n oomblik word die aarde transformeer,
asof ‘n skilder spatsels kleur oor ‘n doek kom smeer…
Of is dit net dankbaarheid wat uitskree:
“Hý, het weer kom gee!”
Daar is helderrooi fluweel en bottergeel,
wit word teen groen afgespeel;
en tussen koel skadu’s wei ‘n koedoebul,
teen skemer weerklink ‘n tarentaal se gil.
As die son sak…dan verskyn die maan en sterre in duisendtal;
iewers in die nag talm die tjank van ‘n jakkals en ‘n hiëna se lag.
Die eens droë loop – nou ‘n stroom – druis en klots teen die rots.
en ek weet – my hart is in hierdié stukkie bos!
2 Kommentare
-

Woordsmous
Dis die hart van 'n bosveldnooi wat hier praat!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2018 projek