
Nuwe Horisonne.
Die son se laaste strale kruip oor die rug van die heuwels en die veld lê voor haar soos ’n goudgeel meer. Die wind fluister deur die lang gras en laat Lien se hare om haar gesig dans. Sy sug sag en trek haar baadjie stywer om haar vas. Lien Meiring staan op die ou plaasstoep en luister na die roep van die enkele naguil wat sy aandlied begin sing. Elke krakie op die stoep vertel die storie van haar lewe as kindwees hier op Meiringsrus.
Lien se lewe op die plaas is een van daaglikse roetine. Elke oggend, douvoordag, neem sy die melkkan en hoenderkosbak in haar hande. Die roetine is vir haar so bekend. Van laerskool af gaan sy na die naaste dorp waar sy ook haar matriekjaar voltooi het. Sy was altyd die plaasmeisie wat half eenkant was. Die dorpskinders het haar aanvaar alhoewel sy altyd soos die buitestander gevoel het.
Sy het haar voorgeneem om so ver as moontlik van die plaas af te gaan sodra sy klaar is met skool. Haar ouers is nie te vinde vir die idee nie. Sy weet sy moet met haar pa praat oor haar besluit om na die stad te gaan. Haar hart klop vinnig in haar bors, en sy maak haar hande styf toe en oop om haar senuwees te kalmeer.
Sy stap stadig na hom toe, die klank van haar voetstappe op die houtplanke van die stoep amper verdoof deur die sagte roep van die naguil.
“Pa,” begin sy, haar stem effens bewerig, “ek wil met Pa praat oor die toekoms.”
Haar pa kyk op, sy gesig verdonker deur ’n frons. “Wat is dit, Lien?” vra hy, sy stem diep en ernstig.
“Pa, ek het besluit ek wil na die stad toe gaan,” sê sy, haar stem meer vasberade as wat sy voel. “Ek wil iets anders doen, iets nuuts beleef. Die plaas is wonderlik, maar ek voel ek moet verder kyk.”
Haar pa kyk haar lank in die oë, en dan sug hy diep. “Lien, ek verstaan dat jy drome het, maar die stad is nie so eenvoudig soos jy dink nie. Dit is ’n harde plek, nie soos hier waar jy veilig en beskerm is nie.”
“Ek weet, Pa,” sê sy sag. “Maar ek voel regtig ek moet gaan. Ek moet uitvind wie ek regtig is, buite die plaas en buite hierdie lewe.”
Haar pa bly stil, en die stilte tussen hulle word net deur die naggeluide van die plaas gevul. Dan praat hy weer, sy stem sagter. “Jy weet, Lien, jou ma en ek wil net die beste vir jou hê. Ons wil hê jy moet gelukkig wees, maar ons is bekommerd oor wat met jou kan gebeur daar buite.”
Lien stap nader en neem haar pa se hand. “Pa, ek sal versigtig wees. Ek belowe. En ek sal gereeld bel en kom kuier so dikwels as wat ek kan. Maar ek moet hierdie kans vat.”
Haar pa druk haar hand en kyk haar diep in die oë. “Ek sal jou nie keer nie, Lien. As jy voel dit is wat jy moet doen, dan moet jy gaan. Maar weet, jy is altyd welkom hier op Meiringsrus. Dit is jou huis.”
Lien glimlag, trane blink in haar oë. “Dankie, Pa. Dit beteken baie vir my. Ek sal nooit vergeet waar ek vandaan kom nie.”
***
Die oggendson gooi ’n warm gloed oor die plaas, die grasveld glinster in die oggendson. Lien staan op die stoep voor die plaashuis, haar tasse langs haar. Sy draai een laaste keer om, haar oë neem die bekende tonele van Meiringsrus waar. Die reuk van vars gesnyde gras en die aarde se aangename geur vul die lug.
Sy sien haar pa en ma naderkom. Sy gesig is sag en liefdevol.
“Pa,” sê sy, “Dit is tyd vir my om te gaan.”
Sy pa knik, sy oë soos die blou see in die lig van die son. “Ek weet, Lien. Jy moet jou vlerke sprei.”
Hy druk haar teen hom vas in ’n stywe omhelsing. Toe haar los, kyk hy haar aan, sy oë vertel ’n storie van hoop en vrees oor haar besluit. Toe is dit haar beurt om haar ma styf vas te hou en te groet.
“Jy sal altyd ‘n deel van hierdie plaas wees,” sê hy sag. “Moenie vergeet waar jy vandaan kom nie.”
Lien knik met trane wat vloei oor haar wange. “Ek sal nooit vergeet nie, Pa. Dankie vir alles.”
Sy draai weg, elke tree ‘n stap weg van haar bekende omgewing na die onbekende.
***
Lien klim uit by die besige terminus, omring deur geboue wat hoog uitstaan teen die blou lug. Die son weerkaats teen glasvensters en beton. Sy luister na die besige stadsgeluide, sy wonder of sy ooit die regte ding gedoen het.
Die stadslug voel skerp op haar vel, veral na die vars, skoon lug van die plaas. Sy bevind haar in ’n wêreld wat groot en onvoorspelbaar lyk in vergelyking met die vertroude rustigheid van Meiringsrus.
Hierdie oomblik is die begin van ‘n nuwe hoofstuk, een met uitdagings om te groei en haarself te ontdek.
Wanneer Lien die volgende dag deur die besige strate drentel, raak haar aandag vasgevang deur ‘n kunstenaar wat op die sypaadjie langs die straatwerk werk. Sy staan stil en kyk na die jong man met sy verfkwaste in die hand, wat met vaardige bewegings ‘n kleurvolle prent skep.
Sy kan nie help om te glimlag terwyl sy die kuns bewonder nie. Sy voel ‘n onverwagse aantrekking na die kunstenaar. Lien se oë vang die subtiele uitdrukkinge op sy gesig op – ‘n mengsel van konsentrasie en vryheid.
“Goeie dag,” sê sy vriendelik, en die kunstenaar lig sy gesig op en glimlag. Sy oë is ‘n helder blou, sy gesig omring deur ‘n wilde bos rooi hare. “Ek is Leo.” Hy staan paar treë nader met sy hand uitgesteek.
Lien glimlag en skud sy hand. “Ek is Lien. Jou werk is pragtig. Dit het my aan die plaas laat dink in die stad se chaos.”
Leo lag sag. “Dankie, Lien. Kom jy van die plaas af?”
Sy knik. “Ja, van Meiringsrus. Dit is vir my nog baie vreemd om hier te wees.”
“Hoe voel jy tot dusver?” vra hy, sy blou oë ernstig maar vriendelik.
“Dis baie oorweldigend,” erken Lien eerlik. “Maar op ‘n goeie manier, dink ek. Ek probeer net om my voete hier te vind.”
“Ek verstaan,” sê Leo met ’n sagte glimlag. “Die stad is maar ‘n ander wêreld. Maar dalk kan ek jou help om tuis te voel. Ek ken ‘n paar plekke wat jy kan geniet, ver weg van die groot stadsgewoel.”
Lien voel ‘n ligte gevoel van opwinding by die gedagte om ‘n gids te hê. “Ek sal dit baie waardeer.”
En so begin Lien se avontuur in die onbekende stad, saam met Leo as haar onverwagse, maar welkome gids.
©MarleneErasmus
30/06/2024
(1153 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Junie 2024 – Die onbekende projek