Ode aan my broer
ek sien jou nog as kind met jou blonde kuifie
wat selfvoldaan wip in die wind
die ondeun op jou gesiggie
wat van die ewe onskuld blink
wanneer Pa ons berispend nader wink
ek voel nog jou oë weerkaats in myne
soos spieëls waarin ons samesyn vasgevang is
in woordelose gedagtes van broederskap
ek hoor nog die opgewonde gebabbel van jou stem
wanneer jy met jou handgebare Psalm 133:
(‘Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon!’),
hardop saam met my lees
ek proe nog Mamma se melktert
waaraan ek en jy altyd so lekker kon smul
totdat ons mae van ongemak skaterlag-brul
ek ruik nog die rook van Pa se pyp
en ek proe nog die bitter smaak van Pa se pypolie
wanneer ons skelmpies agter die krismisroos gerook het
my geheue vertroetel nog die nostalgiese glimlag
wat die hemelblou van jou oë vas kon hou
en geheimsinnig om jou mondhoeke plooi
blaai ek vandag deur die fotoalbum
van ons kinderlewe
soek my oë na jou foto; jou prentjie
in my boek van onthou
heimwee treur-traan-drup hartseer
vind ek jou rustend onder die heimwee
van my onthou
in die fotoalbum van ons kinderlewe toegevou
Leon; my broer; my kleinboet;
ek sal jou altyd … altyd … onthou
as Psalm 133 van my hart
——-ooo000ooo——-
(© Pieter Mostert)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir November 2024 – OOP projek