Omstandigheids Werk
Buite reën dit katte en honde
en tussen hulle, dik
hang die sonde.
Toegedraai in die wit laken
wyl sy kyk hoe tydsaam
hy aan sy sigaret teug,
vee sy haar hare oor haar voorkop terug;
sy verbloem haar ongeduld –
vermy sy oë en wag tot hy uiteindelik sê:
‘dankie, dan gaan ek maar’
toe eers slaan haar emosies op vlug
en word sy soos altyd weer naar.
Sy sluit die deur agter hom
toe en bêre die geld
vir haar kinders se monde
in die blou-sopkom –
en toe sy voor die katel van sonde
kniel,
rafel sy uit in F-majeur –
word haar siel
èèn, met die reën
en die katte
en die honde.
©Elizabeth Greef
5 Kommentare
-
Evelyn van der Merwe
Puik slot, knap gedaan.
-
neels
Waow mal hieroor
-
Arnold
Baie goed gewoord jy sommige mense se omstandighede vandag.
-
Koekekranka
Hierdie is 'n baie diepraakgedig wat swaarkry met sonde moet klaarkry... Puik maatskaplike kommentaar uiters gevoelvol oorgebring!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
borrels
Baie mooi Elizabeth. Ek het lekker gelees