![](https://ink.org.za/wp-content/uploads/youzify-fes/members/191/2024/10/Waterberg-Wilderness-Plateau-Hike.jpg)
Oor die oewer. (SILWER)
Ons vat die pad na die Gariep waar
goue waters van die rivier jou gul groet.
Ons durf die nabygeleë Tandjieskoppe aan
met sy interessante rotsformasie en ou
Duitse oorlogsgrafte wat jou oog vang.
By Lüderitz se afdraai hou ons verby
tot by Toekies se deli in Grünau.
Verby Gaisereckeberg se grondpad
wag kokerboomwoud ons in.
Tussen sonsondergang en sterrehemel
vind ons salige siele-rus vir die nag.
Dan vat ons die pad na Giant’s Playground,
waar enorme klippe Lego blokkies bou.
Ons vat die pad en kom by Koës aan.
Die langpad neem ons verby Windhoek,
Okahandja en dan na Otjiwarongo.
Ons volg die pad wat ons lei
na die Waterberg-plato se mooie park
waar die kranse ons met oop arms groet.
Langs die kampvuur dink ons terug
na die Oranjerivier se wye waters
en klipperige Khomasberge en ons weet:
ons het tuisgekom by borrelende fonteine
van die sponsige sandsteen wat die
water stadig vry laat … en JY is vry …
©MarleneErasmus
30/09/2024
2 Kommentare
-
Ricco
Artistiek! Skitterend in my opinie. Ek is nuut hier en werk stadig deur almal se werk om jul besonderse kuns te leer ken. Met respek Ricco
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir September 2024 – OOP projek