OORLAT
“Dis maar ʼn valerige plekkie.” merk manlief diplomaties op toe ons Volksrust binnery.
Ek glo dat die dorpie eens heelwat anders daarna uitgesien het as vandag. Ek herroep die skoon breë strate, netjiese huise en goedversorgde tuine van talle soortgelyke dorpies uit my jeugdae. Vandag lyk hulle verwaarloos, vuil en deurmekaar, daardie dorpies waardeur ons ry, van wie ek die name dalk nog sou kon opspoor in donker geheue gange as hulle nie verander het nie. Verandering is nie maklik nie. As iemand die kaas skuif, en jy vee nie jou korreltjies moed bymekaar en gaan soek dit nie, dan gaan jy vrek van ellende. Is verandering regtig verandering? Wat is in ʼn naam? Of jy hom shuffle of bloody spade noem, dit bly mos steeds ʼn graaf.
“Hoekom het jy nou juis hier bespreek vir die aand?” vra hy toe ek niks sê nie. “Newcastle is net ʼn paar kilometer verder, dalk sou dit beter gewees het om daar te oornag.”
“As ons in Newcastle oornag het, het ons Amajuba misgery en ek wil more eers daar ʼn draai maak voor ons aanry.” verduidelik ek vir die duisendste maal, luister hy ooit na ʼn woord wat ek sê?
“Wat is nou weer so belangrik aan Amajuba?”
Daar het ek die antwoord, die man luister gʼn niks. Ek begin sing “I talk to the trees but they don’t listen to me”. Hoeveel keer moet ek nog hierdie appeltjie skil? Ek weet, al vertel ek hom nou van Amajuba gaan hy teen moreoggend weer vergeet het. Hy gaan die motor aanskakel en ‘huis’ intik in die slim tannie wat al die paaie ken, en ek sal hom weer moet herinner ons moet eers Amajuba toe, en dan gaan hy my weer vra hoekom.
Hy kyk vraend na my en ek maak of ek hom nie sien nie. Ek staar na die vuil strate met slaggate en verwaarloosde huise sonder tuine.
“Dis iets met die Anglo-Boereoorlog te doen, Pa” kom dit van die agterste sitplek.
“Watter een?” vra hy en ek is verbaas dat hy darem onthou dat daar meer as een was. Ek kan my kinders hulle onkunde nog verskoon want as dit ook nie vir my was nie sou hulle gedink het hulle land het eers in 1994 tot stand gekom. Alles voor dit was soos voor die skepping, woes en leeg en niemand vertel regtig wat aangegaan het nie. Almal praat asof hulle weet, maar meestal maak hulle dit op soos hulle aangaan. Dis my selfopgelegde taak om my kinders in te lig.
Wanneer vakansiepaaie die bordjies van vergete slagvelde of konsentrasiekampe, of boesmantekeninge of waar Vasco de Gama geland het op ons pad bring, draai ek af. Ek is lief vir die dinge van gister, want dit help my om sin te maak van die deurmekaar van vandag en wat om nie weer aan te vang more nie. Nie eers ʼn donkie stamp sy voet meer as een keer teen dieselfde klip nie, en almal weet ʼn donkie is onnosel. Ek lees baie oor die gisters van die hele wêreld, en is dankbaar as iemand belangstel as ek daaroor gesels, dalk is daar tog hoop want dit lyk asof die Prediker reg was toe hy gesê het daar is niks nuuts onder die son nie. Mense leer nie uit hulle eie of ander se foute nie en so vind ons oor en oor die wiel uit en kom ons nooit by die vliegtuig uit nie. Daarom moet ons by Amajuba stop en daarom moet my gesin weet wat daar gebeur het. Ons is nie meer onnosel as donkies nie.
Ek sug en begin die storie by die 1820 Engelse setlaars. Na ʼn paar sinne onderbreek manlief my.
“Ja maar wat het dit nou met Amajuba te doen? Gaan ry jy nou weer Kaïro om? Kan jy nie net reguit Kaap toe gaan nie?”
Ek vervies my.
“Jy’s nou soos daai predikante wat ʼn versie hier en ʼn versie daar gryp en dit ʼn preek noem. Elke ding moet binne sy konteks gesien word, anders kry mens ʼn skewe prentjie en maak jy dom besluite en herhaal die geskiedenis hom oor en oor en leer niemand uit hulle foute nie en ..”
“Okay! Okay! Vertel nou maar die storie soos jy wil. Ek het net ʼn eenvoudige vraag gevra en gehoop op ʼn eenvoudige antwoord, nie ʼn geskiedenisles nie.” Ek kan hoor en sien hy is ook nou geïrriteerd.
“Wees bly ek begin nie by die Hugenote, of nog beter, by Jan van Riebeeck, of wag by Adam en Eva nie” brom ek en vou my arms oor my bors – my manier om te wys ek het ‘n stilstuipe aanval. Hoekom dink almal die geskiedenis is eenvoudige, kortpad stories oor ʼn dingetjie hier en ʼn dingetjie daar?
Stilte….. twee stopstrate ver se stilte.
“Okay, vertel nou verder.”
Ek ignoreer hom.
“Toe Ma!” kom dit van die agterste sitplek, en ter wille van my oningeligte kinders begin ek weer by die 1820 setlaars. Ek maak nie onnosel kinders groot nie.
Geskiedenis is soos die Bybel, as jy nie na die prentjie in konteks kyk nie gaan jy die kat aan die stert beetkry en dan is die duiwel een of ander tyd weer brieklos.
Alles is verbind met ʼn oorlat … soos Eva wat verbode vrugte geëet het oorlat sy ook wou slim wees, en toe word almal uit die paradys gejaag … en oorlat almal uit die paradys gejaag is val Jerigo se mure oorlat almal toe huisloos en landloos vir kwaadgeld die wêreld vol rondswerf … en oorlat Jerigo se mure geval het, het Judas soene uitgedeel oorlat hy ook sy eie idees gehad het van hoe dinge eintlik moet wees … en oorlat Judas linker wange gekus het gaan daar vier ruiters kom … en dan gaan…. oorlat ….
Amajuba was nie die begin nie, dit was ook nie die einde nie. Amajuba het gebeur oorlat die Engelse agter die goud en diamante aan was…. en oorlat die Englese op hulle herrie gekry het by Amajuba is daar toe weer ‘n oorlog oorlat die Engelse nie daai skatte wou opgee of daai verloor gelaaik het nie …. en oorlat die Boere die tweede oorlog verloor het veg hulle voort en word ons ‘n Republiek oorlat die volkie hier aan die suidpunt van Afrika gʼn niks knie buig vir ʼn Queen oor die waters nie en oorlat hulle veg vir hulle volk, taal en kultuur …. en oorlat ons ʼn Republiek word toe maak ons met ander soos die Engelse met ons gemaak het en toe word ons ‘n Demokrasie oorlat die ander volke in die land nie langer hul knie wou buig soos derderangse mense nie …. en nou gaan …. oorlat …
Natuurlik is daar ʼn hele rits oorlatte tussenin maar mens kan nie elke keer Kaïro om ry as jy Kaap toe wil gaan nie.
Die volgende dag het ons by Amajuba uitgekom … oorlat ek dit so wou… oorlat my pa en ma en onnies my vertel het hoe die dapper Boere die Engelse daar bloedneus geslaan het …. en daarna … oorlat….
Daai plek was eens die Mecca van elke ware Voortrekker en Bloubloed Afrikaner. Daar is nagwake en parades en kampe en kerk en feeste gehou want … wel … oorlat. Nou is dit ‘n verwaarloosde, vergete plek want wie worry nou oor die Boere en die Engelse se oorlog? Dis lank gelede oor en verby. Ons het ʼn nuwe oorlog … ons moet nou veg vir ons volk, taal en kultuur oorlat dit bedreig word … want …. oorlat.
En sal jy glo, daar herhaal die geskiedenis homself daai dag. Die ouer garde, dis nou ek en manlief, maak dit toe net so derde teen Amajuba uit, maar die jonges storm hom uit tot bo. Jy sien, met die oorlog jare gelede, het die Boere-ooms sommer met die eerste oogopslag gesien teen die kop kom hulle nie uit nie. Toe lê hulle onder teen die kop en skiet die wit rook uit die Kakies sodat die jongeres tot bo kan storm en die Kakies behoorlik kan bykom. Ons word vertel die Boeroompies kon skiet, want ʼn ou wat nie kon skiet nie het honger gaan slaap.
Terwyl ek daar teen die hang sit en wag vir die verslag en selfoonfoto’s van bo (mind you met ʼn wandelstok nie ʼn roer of vlag in die hand nie) toe besef ek Prediker was ʼn baie wyse man.
Amajuba mag dalk nou vergete, soos daai skildery van De Wet, Cronjé en De La Ray in die donker gang hang, uit die oog en uit die hart, maar die perde so oë lyk nog steeds moeg want die stryd om vrede het nog nooit opgehou nie. Ons veg wragtig nog steeds dieselfde oorlog as wat die Boere en die Engelse daai dag geveg het, net die vyand en slagveld het verander. Nou ja toe, daar is niks nuut onder die son nie, want ….
… daar is altyd ʼn blerrie oorlat …. en oorlat …. en …. oorlat … en dit net oorlat Eva nie die verdomde slang in sy maai gestuur het nie…
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2019 projek - TYD