Jongste aktiwiteit:

Op die nuwe jaar.

Op die nuwe jaar.

Aan die begin van nog ʼn nuwe jaar is dit asof almal smag na ʼn vars, nuwe begin. Dit laat my wonder: is daar nog werklik so iets soos nuuts?

Die skrywer van Prediker verwoord sy soeke so:
“Wat was, sal weer wees; wat gebeur het, sal weer gebeur. Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie” – Prediker 1 : 9

As hy ook soekend was na sin van sy lewe, het hy gou tot die slotsom gekom dat daar NIKS nuuts in sy bestaan was nie! Dwarsdeur die wysheidsboek spreek die boodskap duidelik: Alles loop uit op niks!

So kan ons gaan kyk en soek na nuut in ons werksituasies, die geskiedenis oor die jare en die natuur om ons.

Die natuur oor die eeue: winde waai wanneer hulle moet waai, reën val wanneer dit so bestem is en die riviere loop, maar hulle kan nie die oseaan laat oorloop nie.

Kyk ons na die geskiedenis van die afgelope jare, vind jy selde iets werklik nuut wat nog nie voorheen gebeur het nie. Tye van konflik en oorlog het jare gelede al plaasgevind en die patroon herhaal homself nou in die hedendaagse tyd.

Mense werk hard, maak bymekaar en raak welgesteld. Ander werk, maar bly lewe onder die broodlyn. Alles tevergeefs.

Indien ons in 2023 soekend is na iets kraaknuut net in die wêreld, mag ons ons dalk spoedig in die maalstroom van ʼn sinnelose bestaan beland. Seisoene sal kom en gaan, soos in die verlede sal ons mor oor hitte en droogte tot die reën begin val en droogtes kom breek.

Gevalle van misdaad, finansiële nuus en wêreldgebeure verskyn in die koerante soos elke jaar. Net sodra misdaad onder beheer is, is daar weer nuwe golf van gevalle wat plaasvind.

Ons moet egter nie op moedverloor se vlakte bly nie, daar is beslis iets nuuts om te begeer. Die raad is oud: Prediker het lank gelede reeds die raad gegee: moenie net in jou bestaan jou soeke vestig nie! Soek allereers na Hom wat gesê het: “Kyk, Ek maak alles nuut.” Openbaring 21 : 5.

Die Vader het gekom om die mens geestelik nuut te maak sodat daar groei kan wees in ons. Sy wens is dat ons sal besef wie Hy is en wat Hy vir ons kom doen.
Elke dag is daar vonkelnuwe wonders wat om ons plaasvind soos om paar voorbeelde op te noem: die geboorte van ʼn nuwe baba, groot swaar reëndruppels wat neerplof in die stof en plantjies wat ontkiem en groei tot groot sterk plante.

Ek sien uit na ʼn kraakvars nuwe jaar, want die belofte is duidelik:
“Ek gaan ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde skep; aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie, hulle sal nie onthou word nie”. (Jesaja 65:17).

©Marlene Erasmus
30/01/2023
(451 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed