Jongste aktiwiteit:

Pastoriehondpenarie

Pastoriehondpenarie

Geskryf deur Fanus Strydom

1827 woorde

 

** Kragwoordwaarskuwing: hierdie verhaal bevat enkele, gekruide woorde en terme wat deur sommige, sensitiewe lesers as vloekwoorde beskou mag word. Indien dit u sou ontstel, moet asseblief nie verder lees nie. Dankie. Die Skrywer.

 

 

“E….oop daai…..ou ….is….aak..!”

 

Die man storm so vinnig op my af ek skrik my amper van my voete af. Ek pluk vir Dionne Warwick van my ore af en hoor haar verlangs wegsing langs my nek af: “Why do you have to a heartbreaker…?”

 

“Askies Pastoor?” frons-groet ek die rooigesigman waar hy hygend tot stilstand kom voor my.

Hy snak verbete na lug en beduie naarstigtelik (maar woordeloos) na iets onheiligs oor my regterskouer. Ek vrees meteens die ergste en wonder of die man dalk die duiwel homself in die doringboom agter my sien! (Hulle beweer mos hulle kan goete sien wat ons gewone mense nie kan sien nie.)

Maar nog voor ek kan omdraai om te kyk profeteer hy weer sy waarskuwende dreigement oor my uit. Die keer nou duidelik hoorbaar en sonder voorwaardes of vryskelding, want hy het intussen bietjie lug terug gesuig gekry by sy longe in:

“Ek hoop daai jou hond van jou is reggemaak, anders..!” Hy wys boos na my skaaphond agter my.

“Anders wat?” wonder ek kortstondig oor die rooigesig pastoor se verskuilde dreigement. Maar ek sê maar eerder niks, want mens wil mos nou nie onnodig ʼn argument loop staan en opskop met ʼn man van die kansel so voor almal in ʼn openbare parkie nie.

Uiteindelik kry ek ook omgekyk.

Net betyds om te sien hoe my Skaaphondseun Chappies ʼn pragtige, vaartbelynde, blinkhaar Bassettteef opgewonde en vol ywer bestyg van agter af. En hoe hy haar (sommer net daar in die parkie voor my en die eerwaarde pastoor) bloots begin ry soos ʼn wafferse cowboy op ʼn wilde-weste rodeo-show.

“Chappies!” gil ek na my hond en voel hoe ek bloedrooi begin bloos.

Maar hy steur hom geensins aan my gegillery nie. Hy het ander, meer belangrike goete op sy skaaphondbrein. Ek sien dit sommer so in sy wilde, wydgerekte oë. Hulle bly net vreemd vasgenael staar na ʼn spesifieke, denkbeeldige eindpunt iewers anderkant die grensdraad op die horison van die park. Intussen pomp sy gespierde agterlyf verbete voort soos ʼn lister-enjin op volle galop.

“Sandy!” hoor ek vir Pastoor ook nou gil hier voor my en neem aan dat dit die pastorieteef se naam moet wees.

“Sandy?” frons ek half uit die veld geslaan. Ek sou dink “Debora”, of “Sara” sou meer gepas gewees het vir so ʼn heilige hond. Mind you, “Delila” begin al hoe meer toepaslik klink vir die waaghalsige toneel wat voor my en die ongelowige pastoor se oë aan die afspeel is.

Sandy steur haar nog minder aan Pastoor as wat Chappies hom aan my gesteur het.

Sy bly net draai en swaai en skoppelmaai met haar knopperige Basset-boudjies koketterig voor my malkophond se neus verby. Haar verleidelike Delila-plan om hom al hoe dieper die versoeking in te lei, duidelik deeglik aan die werk.

“Wel…” besluit ek intussen om eerder my fokus op die aanvallende pastoor te vestig, want sy attensies was nou wel meer aggressief, maar ten minste baie minder eroties. Ek meen om aan hom te verduidelik dat daar moontlike regstegniese kwessies by die saak betrokke mag wees. Dinge soos kousaliteit en  “tuus canis est nocens” moet dalk ook in ag geneem word. My eerste (en enigste) jaar B Juris-brein werk meteens oortyd:

“Dink Pastoor nie…” wil ek hom vra of ons nie dalk eers die meriete van die saak moet ondersoek, alvorens ons sommer net so lukraak oorgaan tot oorhaastige konflik en openbare  geweld nie.

Maar hy ignoreer my opregte pleidooie eenvoudig botweg en ek sien aan sy al-hoe-rooier-wordende gesig hoe hy begin stoom opbou. Kort voor lank begin hy half-histeries op en afspring voor my in ʼn poging om sy (duidelik hoogs-verhitte teef) van my hongerige hond se rooitong attensies te probeer red oor my skouer.

“Hy kan nog skiet, maar sy koeëls is uitgehaal…” probeer ek so diplomaties as moontlik aan die armswaaiende kanselman verduidelik dat daar geen gevaar van ongewensde swangerskap in die park se lug hang vandag nie. Hopelik sal dit hom kalmeer.

Maar dit doen nie.  Inteendeel, dit doen presies die teenoorgestelde.

Hy begin verbete stamp en stoot teen my, so asof hy ʼn duiwel by mý uit wil dryf en asof ek die een is wat sy hond teen haar wil molesteer. Dan probeer hy skielik links by my verbyglip.

En dit is toe dat ek die gruwel van ʼn ding in sy hand agter sy rug gewaar…

ʼn Lang, blink leersambok. Glibberig en skelm soos ʼn slang in die tuin van Eden.

Ek kyk vinnig oor my skouer om my opsies op te weeg, asook om die afstand te meet tussen die slangman voor my en my hond se opgekrulde agterstewe.

Hy (Chappies, nie die pastoor nie) het intussen die pastorieteef deeglik vasgevat gekry tussen sy voorpote en dans nou ʼn pasievolle hondekamasutra een-nul-een met haar oor die parkie se grasgroen grassies heen. Net daar in die oopte en reg oorkant die pastorie.

Ek kyk vir ʼn oomblik stilweg trots na my hoppende hondeseun. Waar hy daai bewegings geleer het weet net die Vader alleen!

Hy het dit beslis nie by ons  aan’t huis gesien nie, want ek is ʼn gesoute, selfopgelegde, selibate oujongkêrel van by die sestig jaar. Dus het sodanige, suggestiewe, ruk-en rolbewegings beslis geen bestaansreg in my (uiters karige) sosiale repertoire nie. En selfs al sou ek hulle (in ʼn oomblik van moontlike, onsinnige alleenheidswaansin) probeer uittoets het, sou my rug onmiddellik in ʼn onomkeerbare spasma ingekramp het. Met ʼn gevolglike noodtoestand wat selfs ou dokter Miller nie sou kon uitdruk of pluk met die beste van sy chiropraktiese intensies nie.

Dit was dus pure, onskuldige, Godgegewe diere-instink wat nou oop en bloot voor my en die pastoor (en ʼn paar ander, nuuskierige toeskouers) in die parkie aan die uitspeel was.

“Sandra…!” kommandeer Pastoor nou vir Sandy op haar volle geboortenaam. Die keer in ʼn heelwat hoër en dringender stemtoon. Omtrent netsoos wanneer sy preek op Sondae sy amperse klimaks bereik. (Net voor die kollekte opgeneem word.)

Hy mik weer vir ʼn gaping. Die keer aan my regterflank. Maar ek blok hom met ʼn slinkse sewes-skêrbeweging en kry die sambok stewig vasgevat in my regterhand.

“Wag so bietjie, Pastoor…” dans ek en die Godsman nou ʼn Pase Doble met die verleidelike, verraderlike slangsambok tussen die twee van ons. “Dis jou teef wat op hitte is, nie myne nie!”

Ek probeer verduidelik dat dit sy hond is wat jags is, nie myne nie. My hond het ewe onskuldig met sy balle (tennisballe!) saam met my in die park gestaan en speel toe klein Sandra soos ʼn jagse flerrie haar blinkgepoetsde teeflyf onderdeur die draad kom loop staan en deurdruk het.

“Sy kan bly wees ʼn kar het haar nie getrap nie!” plaas ek die skuld vierkantig voor sy sandaalgeskoeide voete neer op die gras tussen ons en wys beskuldigend na die besige straat tussen die pastorie en die parkie agter ons.

My strategie maak egter geen duit verskil nie. Ons tango passievol voort so tussen die dubbeltjies deur.

Die man se oë word net al hoe wilder en hy pluk verbete aan sy samboklang se stert om die ding uit my klouende hande bevry te kry.

“My hond is maar net ʼn mannetjie en hy doen wat mannetjies doen as dáárdie feromoon hulle aan die neusgate beetkry…” beduie ek so tussen ʼn two-step deur en leer (ek, die oujongkêrel !) vir die pastoor ʼn les in biologie, seksologie en dierlike gedragskunde net daar in die parkie oorkant die pastorie. “Hulle spring, nie waar nie? ” vra ek vir hom die voor die hand liggende toe ons albei vir ʼn oomblik moes stop om net eers weer asem te skep. Ek maak ʼn amper-suggestiewe salsa-beweging met my hande op my heupe in die hoop dat hy my punt sal verstaan. Hy kyk na my swaaiende heupe, maar sien blykbaar nie die punt nie.

 

Agter my begin Sandra meteens saggies kerm.

Voor my begin Pastoor meteens saggies kerm.

 

Sandy se geelbruin-oë stol groot en glaserig rond in haar Basset-skedel en sy begin saggies wimpel van lekkerte. Of benoudheid. Ek is nie meer seker nie, want my oë is nou sekuur op die woedende, mistroostige man voor my gevestig.

Ek sien hoe hy nou ernstig dreig om op my hygende hond af te storm met sy sissende, blink, sambok. En dit is toe dat iets in my binneste meteens meegee…

Ek druk myself meteens geweldadig en met ʼn gebalde vuis tussen my hond en die duiwelbesete slangman in:

“Kyk hierso, Pastoor, as jy vandag aan my hond slaan met daai sambok van jou…” ek wys na die sissende bliksemding in sy bewende hand, “dan bliksem ek vir jou net hierso in hierdie park voor al hierdie mense. Verstaan jy my nou mooi?!”

Ek wys na die skare toeskouers om ons.

Hulle snak hoorbaar na hulle asems.

Hy snak hoorbaar na sy asem.

Ek is nie seker of dit is oor my gevloekery, of oor my bultende, dreigende vuis reg voor die verskrikte pastoor se rooigeswelde neus nie.

“Wielie-wielie-walie. Die aap ry op die balie…” klink ʼn kinderrympie meteens van iewers vêr af  uit my lankvervloë kinderdae in my verwarde, verwoede gedagtes op. “Hoe bisar..?!” dink ek  nou meer verward, . “…dit moet die adrenalien wees.”

 

Agter my sien ek vir Chappies en Sandy nog vir oulaas eenkeer skoppelmaai ry voordat hy uitasem afgly van haar bokspring-lyfie af en hygend op die grond neerslaan langs haar. Sy gaan sit kerplaks op haar agterstewe, gooi haar pastoriehondbene onbeskaamd wyd oop onder haar opgeryde agterlyf en begin behaaglik lek oor haar varsgeplukte roosknoppie. Net daar voor almal in die parkie.

 

Hulle snak hoorbaar na hulle asems.

Pastoor mymer iets wat ek in der ewigheid nooit hier sal oorvertel nie.

 

Dan spring Sandy op, skud haar blinkhaarlyf, waai haar stert tevrede en begin skeef-skeef terugdraf pastorie se kant toe. Tussen haar en die hel van verlore maagdelikheid sal daar nou vir ewig net ʼn verweerde, gatgestampte heiningdraad bly lê.

 

Ek weet mens mag seker nie sleg praat van ʼn man van die kansel nie, want my oorle’ pa het my mooi grootgemaak en my in elk geval die dood voor die oë gesweer as ek dit ooit sou doen.

“Hulle besig hulleself met ʼn heel ander vorm van werk, woordeskat en taal as ons gewone, alledaagse, sondige kakistokrasie…” het Pa my altyd op sy unieke manier probeer leer. Ek is nie heeltemal seker of sy les ooit by my posbus uitgekom het nie.

Maar een ding weet ek vandag verseker hier waar ek vir Pastoor staan en dophou…

Hy het intussen kop-onderstebo en half verslae met sy verlepte slang al slepende in die stof agter hom begin terugstap pastorie toe. Sonder om my eers te groet of sy gewoontelike seën oor my uit te spreek vir die dag.

Ek vermoed hy besef maar alte goed dat hy vandag amper, amper gedonner is deur ʼn ware hondeliefhebber se honnekind-pa. Sommer net daar in die parkie oorkant die pastorie en ten volle aanskoue van almal in die omte.

Les geleer, meneer!

 

© Fanus Strydom

Maart 2024

 




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed