Die dood van ‘n kind 530 Woorde Goud
Debatteer die dood van ‘n kind.
Sy was so bitter klein Here. Die mensie hier aan my bors vasgedruk. Hoekom Here? Die vrae worstel deur my kop. Wat het ek verkeerd gedoen? Waarom sy? Dan stoot hulle die tweeling per abuis my kamer in. Dit skreeu binne my. So onregverdig Here! Hoe kon U! Net die jaar tevore my kleine Jeannie na U huis gestuur; nou klein Carla. Here, hoe onregverdig is U nie? Hier gee U vir haar twee volmaakte bondeltjies pienk. Myne lê toegedraai in groen hier teen my bors.
In daardie oomblik het ek verstaan. Salomo was wys. Ek wou opstaan. Hoe sou hulle weet as ek een van die tweeling net optel en loop? Here! Hoekom? Wat het ek verkeerd gedoen? Waar het ek U gefaal? Ek voer ‘n tweestryd met God. Uiteindelik kom haal hulle die twee pienk bondeltjies. Die suster kyk simpatiek na my. Sy uiter iets wat soos “so jammer” klink maar ek luister nie, klou net krampagtig aan die stil lyfie teen my bors.
“Carla, mamma is so jammer.” Ek probeer onthou. Nee, ek het al my pilletjies getrou gedrink. Ek rook nie. Ek drink nie. Wat het ek verkeerd gedoen? Ek verstaan nie? Ek krimp ineen wanneer hulle jou klein lyfie uiteindelik kom haal. “Dokter, sê asseblief vir my wat het ek verkeerd gedoen?” Die rou snik wat uit my bors skeur laat my stem hees en krakerig klink. Hy vat my hand en druk dit sag. “Mevrou, ek is so jammer, glo my dit is beter so.”
Regverdig. Hoe kan enige iemand ‘n kind se dood regverdig? Daardie onskuldige eenvoud waarin hulle leef. Hulle lewe lê nog oop voor hulle. As ouers bou ons hierdie mooi toekomsdrome vir ons kinders. Sien ons hulle hand aan hand saam met die liefde van hulle lewe stap. Hunker ons na kleinkinders wat ons teen ons harte kan vasdruk. Droom jy van oud word saam met jou kind.
Jy blameer jouself. Jy blameer ander. Dan blameer jy God. Jy worstel met jouself. Dan kom die besef dat niks daardie lewe gaan terugbring nie. Jy vind berusting in jouself. Jy vind berusting by God. Daar is ‘n gesegde – jy val nie verder as jou knieë nie. In hierdie tye leer jy om te bid. Leer jy om ten volle op God te vertrou. Die lewe gaan aan. Vir die ouer staan dit vir ‘n wyle stil. Deur die jare kom berusting en aanvaarding. Die Here neem en die Here gee. Niemand kan ooit daardie leë plekkie regtig vul nie.
Die seer word meer draagbaar. Met die jare vergeet jy soms. Tog elke jaar steek jy ‘n kersie op. Jy wonder hoe die klein gesiggie nou sou lyk. Vir ‘n wyle hunker jy na ‘n warm lyfie hier teen jou hart. Seer? Wanneer iemand jou vra om daardie herrinnering op te roep. Seer? Dit skeur deur jou siel. Ink en traan vloei saam en vorm woorde op ‘n wit lyntjies papier. Nee, daardie seer kom jy nooit te bowe nie, jy onderdruk dit net vir jou eie selfbehoud.
Naskrif: Altwee my dogtertjies is gediagnoseer met hydrocephalus. Daarin kon ek aanvaarding kry; maar seer bly maar seer.
Amanda DM
3 Kommentare
-
Ano
<3
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Maart 2024 - OOP projek