Resep vir geluk
(Woordtelling : 1166)
5 fyngemaalde naeltjies
‘n Knypie vars gerasperde vrywillige diens
1 opgehoopte lepel bewustheid
2 stingels groei-ingesteldheid
‘n Koppie liefde
1 Eetlepel lag
Meng als saam en bêre in ‘n lugdigte houer. Neem daagliks een teelepel van die mengsel sodra jy wakker word.
Dit is so maklik om gelukkig te wees, maar dit is ook nie iets wat sommer maar net vanself gebeur nie. Viktor Frankl, die wêreldbekende sielkundige, skrywer, en holocaust-oorlewende, het gesê: “Die groot vraag na die sin van die lewe is nie watter sin dit vir my bied nie, maar watter sin ek daaraan kan gee.”
Om ‘n onuitputbare bron van geluk in jouself te kweek en in stand te hou, is daar verseker ‘n paar voorskrifte.
Vind vreugde in jou werk. Dit moet nie net ‘n plek wees waarheen jy jouself jaar in en jaar uit, sleep nie, en net van die een naweek na die volgende oorleef nie. As jou werk jou nie gelukkig maak nie, soek iets anders, en as dit nie moontlik is nie, probeer jou fokus en ingesteldheid daaromtrent te verander.
Goeie verhoudings met familie en vriende is belangrik, maar jou eerste verhouding is met jouself. Koester die mense in jou lewe maar moet nie van enigiemand anders verwag om jou gelukkig te maak nie. Hou jou verwagtinge van ander laag en jou grense hoog, maar sonder om ‘n muur te bou. Hou diegene wat jou verniel uit jou lewe en behou diegene wat jou opbou en ondersteun.
Kyk na jou geestelike gesondheid. Hoe jy oor jouself voel, hoe jy oor ander voel, jou bereidheid om te vergewe en ou griewe te laat gaan, speel ‘n belangrike rol in jou daaglikse geluk. Skop verbitterdheid, onverdraagsaamheid, oordeel, skaamte, hartseer, vrees, drange, en valse trots onder sy agterend. Nooi aanvaarding, gewilligheid, liefde en vrede in jou lewe.
Hou op om jouself met ander te vergelyk. Hou op om te dink dat jy nie goed genoeg is nie. As jy elke dag jou bes probeer, is dit alreeds goed genoeg. Maak nie saak dat iemand anders ‘n taak beter of vinniger kan verrig nie, doen jy net die beste wat jy kan.
Jou omstandighede is nie jou identiteit nie. Jy is wat jy doen, nie wat met jou gebeur nie. Hou op kla. Een van twee dinge gebeur met mense wat die hele tyd kla. Hulle het (a) geen vriende nie, of (b) net vriende wat saam kerm en kla. Soort soek soort en dit wat jy uitstraal kom na jou toe terug. As jy wel swaar dra aan bekommernisse, kyk of jy iets kan doen om dit te verander. Indien nie, vertrou dat alles sal gebeur soos dit moet, ongeag wat die uitkoms ookal mag wees. Leer om die lewe buite jou omstandighede raak te sien.
Dankbare mense se gevoel van geluk is ook baie hoër as ander s’n. Al is ek geensins ‘n entoesias om ‘n dankbaarheid joernaal te begin nie, is dit tog ‘n goeie manier om jouself te herinner dat daar wel goeie goed in jou lewe is. Gewoonlik is dit die ervarings en gebeurtenisse wat nie ‘n bloue duit kos nie. Soms is dit nodig om doelbewus te soek na die mooi in die lewe, die dou op die groen gras wat soos diamante blink, en dat die blommetjies se gesiggies verhelder sodra die son daarop skyn.
Skakel die TV af en raak aktief, geniet die buitelug. Beperk bietjie die tyd wat jy voor ‘n skerm deurbring en onthou dat daar ‘n hele wonderlike lewe buite daardie vier mure is. Gaan stap, verkieslik buite en nie in ‘n winkelsentrum nie. Slaan of skop ‘n bal. Kyk na die lewe met die oë van ‘n kind.
Leef vandág. Sorg dat jou lyf en gedagtes op dieselfde plek is. Ek is ongemaklik oortuig dat tyd vinniger verloop as ‘n paar jaar gelede, so leer jou gedagtes om nie iewers in die toekoms rond te dwaal nie, of dalk onnodiglik aan die verlede vas te klou nie. Jou herinneringe aan die verlede gaan nie verdwyn net omdat jy nie dag en nag daaraan dink nie. Waardeer die goeie in jou verlede en vergeet die slegte dinge.
Leer af om jou probleme “weg te gee” en neem verantwoordelikheid vir jouself. Dit is onmoontlik om in die langtermyn jou probleme met drank of medikasie te verdoof. Om jou pyn net aan die Here oor te gee en te dink dat dit wonderbaarlik gaan verdwyn, is niks minder as magical thinking nie. Met ander woorde, dit is ‘n manier van ontduiking en moedig nie geestelike groei aan nie. Jy is hier op aarde geplaas om te leer hoe om jou moeilike omstandighede te hanteer, nie hoe om dit te vermy nie.
Wees bewus van die manier waarop jy met jouself praat. Praat met jouself asof jy jou eie beste vriendin is. Gewoonlik sal mens nie die hele tyd op jou beste vriendin skel nie, of haar vertel hoe sleg sy is nie. Indien so iets wel gebeur, sal jou gou vind dat daardie vriendin lankal padgegee het. Ongelukkig kan jy nie van jouself wegkom nie, so moedig jouself eerder aan as om af te kraak.
Hou op dink dat die son ondergaan wanneer jy gaan sit. Jy mag dalk besonder goed wees in jou werk, of dalk ‘n uitsonderlike prestasie behaal het, ‘n indrukwekkende titel voor jou naam skryf, maar dit beteken nie dat jy jouself hoër as ‘n ander moet ag nie. Niemand se **** ruik soos laventel nie.
Help ander waar jy kan en doen dit sonder om iets terug te verwag. Mense wat met ‘n oop hand en -gemoed gee, is verseker gelukkiger as diegene wat ‘n verskuilde agenda het. ‘n Luisterende oor kan ‘n wêreldse verskil vir iemand anders maak en dit gaan jou nie geld uit die sak jaag nie. Wanneer jy iemand anders help, help jy eintlik ook jouself.
Mense wat ‘n groei-ingesteldheid het, hanteer die lewe ook sommer baie makliker. So ‘n persoon is oop vir verandering en nuwe idees. Hulle het ‘n lewenslange ingesteldheid om te leer en te groei. Hul glas is nie net half vol nie, dit loop sommer oor. Mense wat in ander belangstel, leer ook by hulle. Jou wêreld verbreed en jy kyk met nuwe oë na ‘n ou situasie. In Carol S. Dweck se boek, Mindset: The New Psychology of Success, praat sy van ‘n groei- of gevestigde ingesteldheid. Mense met ‘n gevestigde ingesteldheid fokus op intelligensie en talent, eerder as om jouself voortdurend te verbeter. ‘n Groei ingesteldheid sien oneindige potensiaal in elke situasie en weet dat hulle deur volharding en moeite hul omstandighede kan verander. Só ‘n persoon gee ook nie so maklik op nie. Talent beteken niks as jy nie bereid is om ook hard te werk nie.
Hou houding teenoor jouself en ook ander bepaal hoe gelukkig jy sal wees. Maak van elke dag die beste een, want dit is ook die enigste dag wat jy het. Gister is verby en more is nie gewaarborg nie.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Maart 2024 - OOP projek