
Koop nou jou kaartjies!
(Woordtelling 1077)
Is daar ooit nog plek vir ’n sirkus in vandag se samelewing of is die doel daarvan dekades gelede reeds uitgedien? Immers is ons enigste vermaak nie meer die staat se Operahuis, spoggerige partytjies waarheen jy jou blinkste uitrusting kan aantrek, of ʼn eindelose geskinder oor ander se doel en late nie. Nie eens ons rolprentteaters trek meer die getalle van ʼn dekade of twee tevore nie. Openbare vermaaklikheidsplekke loop leeg want al die vermaak wat ons kan begeer, in enige vorm, is 24 uur per dag beskikbaar en sommer ook in die veilige ruimte van jou eie huis. Elke lid van die huisgesin kan homself boonop op sy eie manier besig hou, afhangende van sy voorkeur.
Daar is seker nie ʼn huis waar daar nie ʼn televisie- of rekenaarskerm is nie, en vermaak in al sy vorme is beskikbaar met die druk van ʼn knoppie. So, waar pas die sirkus in hierdie oorgestimuleerde wêreld in? Selfs dieretuine en akwariums word al hoe minder. Kleiner wildparke waar diere ʼn groter ruimte het om in te beweeg, word al hoe gewilder en meer bekostigbaar vir die algemene publiek.
Dit is dalk baie oulik om ʼn ses-ton olifant op ʼn klein stoeltjie te sien sit, maar ook net vir ʼn oomblik. Hoe moes hierdie arme wilde dier se gees nie gebreek word om aan die mens se grille te kan voldoen nie? Hy dans op sy agterpote en mense ry op sy nek – als dinge wat nie net onnatuurlik is nie, maar ook glad nie goed vir sy skelet is nie. En wanneer die applous stilgeword het, staan hierdie arme dier met ʼn ketting en slot om die been en vreet aan ʼn baal droë gras. Geen geleentheid om die wye vlaktes te verken en uitgesoekte sappige blare van die bome af te pluk nie. Geen takke om af te breek nie. Net vasgeketting en ingeperk. Het hy óóit vryheid geken?
Dit is net so hartseer om die magtige leeu te sien. Eens aangewys as die koning van die diereryk, maar in die sirkus is hy nie eens ʼn skaduwee van sy ware, wilde natuur nie. Om en om sirkel hy daardie arena en word geniepsig gepiets wanneer hy nie wil ‘hoor’ nie. Waar is die dae toe die afrigter ewe dapper sy kop in die leeu se bek gedruk het, en die leeu nié sy kake uit frustrasie toegeklap het nie? Daarna terug in ʼn klein hokkie op wiele. Gefrustreerd en woedend oor sy ingeperkte gevangenisskap.
Wat ʼn tragiese en eensame lewe moet dit nie wees nie? Ek kan nie help om te wonder hoe ʼn mens sou voel om in ʼn klein hokkie opgesluit te word, toertjies doen om ander te laat lag, net om weer na ʼn uur of twee terug in die hokkie gesit te word nie. Dit klink soos afsondering in die tronk, en ons almal weet dat mense wat vir lang tye in afsondering aangehou word, nie heeltemal dieselfde is wanneer hulle daaruit kom nie. Iewers langs die pad word hul gees gebreek.
My gees roep na vryheid om te kan kom en gaan soos ek wil, en nie om toertjies te doen om ander te vermaak nie. Te veel praatjies en kuiertyd saam met ander maak my geïrriteerd en ongelukkig. Hoe moet wilde diere nie voel nie? My hart pyn om te dink hoe gemaklik ons is om ʼn ander se vryheid in te perk vir ons vermaak. Dit is niks minder as mishandeling nie, maar omdat dit ʼn diér is, dink ons dit is op een of ander rede maar reg so. In kort, ons behandel diere as minderwaardige wesens, en daarom is dit okay om hulle so te behandel.
Vroeër jare het ons gereeld die dieretuin besoek, spesifiek sodat die kinders kan sien hoe ʼn regte leeu of olifant lyk. Dit is goed en wel om foto’s van diere in ʼn mooi boek te sien, maar dit vergelyk nie rêrig met die ware Jacob nie. Vir ʼn stadsjapie wat te arm is om die wildtuin te besoek, was ʼn besoek aan die dieretuin ʼn beter bekostigbare manier om diere te sien, tog bly dit hartseer. Al het hulle meer vryheid as hul maters in ʼn sirkus, is dit nog steeds nie ʼn goeie antwoord nie. Vandag dink ek dat dieretuine ook maar net ʼn sagter vorm van mishandeling is.
Sommige plekke word egter tog goed bestuur en hul diere lyk op die oog af in ʼn goeie kondisie, ander is nie heeltemal so gelukkig nie. Watter wilde kat wil in elk geval net op ʼn klein stukkie grasperk beweeg en kan glad nie sy jagtersinstink uitleef nie? Of, soos ons self beleef het, die jagluiperd wat eindeloos op en af teen die draad gepatrolleer het, en verwoed op Swaer afgestorm het. As daardie dun draadheining nie daar was nie, het ons verseker begrafnis gehou. Miskien het hierdie kat nie van die kleur van Swaer se helder skoene gehou nie, of dalk het hy aangevoel dat hierdie man nie werklik vir diere omgee nie. Dalk het hy daardie dag hoofpyn gehad want ʼn ander omstander het opgemerk dat sy hierdie kat nog nooit so sien optree het nie, en hulle kom skynbaar gereeld by die Leeupark.
Guppy het maklik aan my vriendinne geknibbel, veral diegene wat maar bietjie ‘af’ was. Mense wie se woorde nie altyd met hul dade ooreengestem het nie. Dit was haar manier om te wys dat hierdie persoon nie is wat sy voorgee om te wees nie. En sy was nooit verkeerd nie. Diere se gedrag – huisdiere of in vryheid gebore – vertel áltyd iets van die persoon voor hom. Hulle het ʼn manier om hul goed- of afkeuring op een of ander manier te wys en as jy nie daarop ingestel is nie, sal jy dit nooit raaksien nie. Soms kom hierdie onbewustheid jou baie duur te staan wanneer jy aan die ontvangkant van die (wilde) dier se humeur is. Baie van hierdie onverwagse gedrag is ook net ʼn waarskuwing dat jy nou sý grense oortree. ʼn Waarskuwing wat effens seer kan maak!
So, terug na die oorspronklike vraag: Is daar nog plek vir sirkusse in vandag se samelewing? My eerlike opinie is dat dit aan ʼn era behoort wat ons reeds dekades tevore agtergelaat het. Mense word nie beïndruk met sulke eenvoudige vermaak nie en selfs kinders se smaak het meer gesofistikeerd geraak. Dit is tyd om die sirkus vir altyd tot rus te lê. R.I.P.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2023 - OOP projek