
2021 se lewenslesse.
2021 se lewenslesse.
2021 het my kom leer dat alles in die lewe nie gebeur soos wat jy dink dit moet gebeur nie. Met die uitbraak van covid-19 en aankondigings van inperkings en maatreëls het abnormale dinge – soos maskerdra, sosiale afstand en hande-was, die nuwe norm geword.
Openbare saamtrekke en gesellige kuiers was eensklaps iets van die verlede en ons het dikwels gevoel ons is ingehok. Sosiale verkeer was ʼn taboe en baie het gevoel ons is vasgekeer tussen ons vier mure. Dit was dan ook hier waar ons tyd gekry het vir introspeksie en selfontdekking. Ek het ook opnuut tot die besef gekom: my anker in die lewe is my Skepper en met Hom kan ek enige verandering suksesvol deurgaan.
Met die pandemie wat ons getref het, het ek opnuut besef dat tyd kosbaar is en daar nie wrokke gekoester moet word nie, ons moet ons familie en vriende waardeer en ons omgee vir mekaar wys, want niks is voorspelbaar nie.
Ek het besef dat nie alles binne ons as mens se beheer is nie, al waaroor jy beheer het is jou ingesteldheid en gesindheid. Daar is nie tyd vir negatiewe ingesteldheid nie en omstandighede het vir almal verander. Sien daarom die mooi in mekaar raak en bou op goeie verhoudinge.
Ek dink dat covid-19 my opnuut laat besef het om nie dinge as vanselfsprekend te ervaar nie, uitstappies na die koffiekroeg of inkopies saam met vriende kan dalk môre nie meer gebeur nie. Ek het geleer om myself te vind in my eie omgewing en het besef dat kleinkinders se lig in donker, onseker tyd helder skyn.
Hoe dikwels hoor ons nie dat ons voluit moet leef nie, en covid-19 het my kom wys hoe waar die uitdrukking is dat alles in ʼn oogwink kan verander!
Carpe diem: ek wil elke oomblik van die dag met albei my hande gretig aangryp en voluit leef, want môre is dit dalk te laat.
2021 was vir my die jaar waarin ek baie geleer het oor myself, ek het geleer om nie te kwaai met myself te wees nie. Ons as vrouens is dikwels te ongenaakbaar met onsself en ek het geleer om die dinge te doen waarvoor ek vandag tyd kry en op te hou om te jaag na drome in die wind.
Dankbaarheid is die een aspek wat vir my nuwe betekenis gekry het, want as ek sien hoeveel moes geliefdes aan die dood afstaan het ek opnuut besef daar is soveel om voor dankbaar te wees.
Ek besef nou alles is eintlik eenvoudig: leef vir Hom en Hy sal jou paaie vir jou uitlê.
©Marlene Erasmus
30/11/2021
(441 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2021 – OOP projek