Jongste aktiwiteit:

Mensehandel, ‘n moderne vorm van slawehandel.

(Woordtelling : 901)

 

Die onlangse verdwyning van die sesjarige Joshlin Smith het opnuut die lig op kinderontvoering en mensehandel geplaas. Daar het reeds ‘n maand verloop sedert haar verdwyning en oënskynlik kon geen spoor nog van haar gevind word nie. Drie mense, onder andere Joshlin se ma en dié se kêrel is in aanhouding na die kêrel gesê het dat hy haar vir R20 000 aan ‘n vrou verkoop het.

Die definisie van mensehandel : Die koop, vervoer en verkoop van mense teen hul wil vir uitbuiting of kommersiële gewin. Mensehandel is ‘n moderne vorm van slawerny, ‘n skending van menseregte en ‘n ernstige misdaad. Die uitsluitlike doel van mensehandel is altyd uitbuiting. Slawerny, prostitusie / kinderprostitusie, pornografie / kinderpornografie, dwangarbeid / kinderarbeid, verwydering van ledemate en organe, bevrugting van ‘n vrou met die doel om die baba te verkoop (babyfarms), kinderhuwelike, onwettige (en soms wettige aannemings), sowel as ukuthwala (die ontvoering van ‘n jong kind as toekomstige bruid om sodoende die familie te dwing om vinniger toestemming tot ‘n huwelik te gee. Ongeveer 10 000 meisies is jaarliks slagoffers van kinderhuwelike in Suid-Afrika.).

Suid-Afrika staan bekend as ‘n bron-, transito- én eindbestemmingsland. Suid-Afrikaanse slagoffers is onder andere in Malawi, Venezuela en Brasilië gevind en word dikwels na Europa en die Midde-Ooste gesmokkel vir dwangarbeid en prostitusie. OR Tambo Internasionale Lughawe en grensposte na ons buurlande is ‘n bron van groot bekommernis omdat mense hier onwettig in- en uitgesmokkel word. Die grootste aantal slagoffers in Suid-Afrika is Suid-Afrikaners, en die tweede grootste groep is Taiwannese vroue. Soveel as 80% word vir prostitusie gebruik.

Ontvoering vind plaas wanneer ‘n persoon teen sy wil geneem word en vir ‘n losprys vrygelaat word. Mensehandel gebeur wanneer ‘n persoon deur misleiding weggelok word van hul tuiste en gekeer word om terug te gaan. In die meeste gevalle gaan hulle heel onskuldig en vrywillig saam met die oortreder omdat daar beloftes gemaak word van werk, vergoeding, en rykdom. Die slagoffer is dikwels baie naïef en magteloos, wat tot gevolg het dat hulle nie sommer ‘n plan van ontsnapping kan uitwerk en deurvoer nie. Sodoende word hulle dan vasgevang in ‘n netwerk waaruit hulle nie kan ontsnap nie. Hul basiese menswaardigheid en vryheid word gestroop en is weens hul omstandighede ernstig getraumatiseer. Dit lei dan daartoe dat hul vertroue in die mensdom verloor, wat dit weer op sy beurt moeilik maak om uit hul omstandighede te ontsnap. Sommige is gelukkig, maar die meeste mense verdwyn sonder dat daar ooit weer van hul gehoor word.

In Elanie Kruger se boek, Van Skoolbank tot Bordeelbed, vertel sy hoe sy as ‘n jong tienerdogter heel onskuldig in so ‘n web vasgevang was. Elanie, ‘n 16-jarige skooldogter wat in armoede deur twee alkoholistiese ouers grootgemaak was, se ma sterf weens selfdood en sy moes dringend werk soek om te help om aan die gesin se behoeftes te voorsien. Met ‘n CV van een bladsy kon die tiener nêrens geholpe raak nie. ‘n Vriend van haar broer het gesê hy kan haar help met werk in Bloemfontein, sy moes net ‘n sak klere bring en saam met hom ry. Hierdie man het haar egter aan iemand anders verruil om sy skuld te delg en sy is vir agt maande as seksslaaf in Bloemfontein aangehou. Sy was verhonger en eers van dwelms afhanklik gemaak, en het alkohol gebruik om haar omstandighede draagliker te maak. Om haar “eienaar” van ‘n inkomste te voorsien, is sy gedwing om met 15 – 20 mans per dag seks hê. Wanneer sy nie daarmee besig was nie, was aan ‘n bed vasgeboei en oor naweke in haar kamertjie toegesluit. Onder geen omstandighede was sy ooit toegelaat om buite haar “sel” te beweeg nie. Genadiglik kon sy met hulp van ‘n samaritaan daarin slaag om te ontsnap.

Die donker onderwêreld van mensehandel en seksslawerny is besig om skokkende afmetings in Suid-Afrika aan te neem. Die rede waarom prostitusie so toeneem is omdat dit ‘n lae risiko inhou en hoë opbrengste verseker. Tussen 2002 en 2020 is daar 16 000 kinders in Suid-Afrika as vermis aangemeld en ‘n kwart van hulle is nooit opgespoor nie.

Dit het al gebeur dat ouers hul kinders op Gumtree adverteer, vir so min as R5 000, of voorvalle waar kinders aan aanneemouers verkoop word omdat die ouers nie self kinders kan kry nie. Waar pas Joshlin Smith in hierdie prentjie in? Is sy verkoop aan ‘n persoon wat graag ‘n dogtertjie wou hê, as seksslaaf of dalk vir mutie?

Uit 193 lande waar mensehandel voorkom, was ons in 2016 27e op die ranglys. Volgens die statistieke van 2023 is ons nou nommer 7! Tussen Desember 2007 en Januarie 2022 is 11 077 gevalle gerapporteer waar mensehandel vermoed word. September 2021 het die Minister van Polisie, Bheki Cele, aan die parlement gerapporteer dat tussen 2018 en 2021, 781 Suid-Afrikaanse kinders die slagoffers van kinderhandel was.

Ouers moet ten alle tye weet waar hul kinders is. Jy het die reg om jou kinders se selfone na te gaan om te sien met wie hulle kontak het, waar hul afsprake gaan wees en met wie hulle gesels. Wees openlik met jou kinders en verduidelik dat dit vir hul eie veiligheid is. Een uit elke vyf slagoffers is seuns.  Mensehandel neem nie ouderdom, geslag, geloof of ras in berekening nie. Niemand kies om ‘n slagoffer van mensehandel te word nie. Met ander woorde, enigeen loop ‘n risiko om ‘n slaaf te word.

 

https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/kinderontvoering-en-mensehandel-hoe-groot-is-die-probleem-werklik/

https://www.news24.com/news24/southafrica/news/human-trafficking-arms-trade-and-drugs-why-south-africa-ranks-7th-on-global-crime-index-20230927

https://www.iol.co.za/the-star/news/south-africans-warned-to-be-vigilant-as-human-trafficking-is-increasing-b5109748-ade4-448a-b855-2684d102ecb3




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed