PENDELAARSTUISKOMS
PENDELAARSTUISKOMS
Jy was nog altyd ’n asem in ons spasie –
ons veilige nes, jou halfwegstasie.
Ons harte aan flarde toe die tyd aanbreek
en jy jou moes oorgee aan desperate frustrasie.
Jou siel talm Suid, jou lyf drentel Noord;
droewig, ver weg, ploeter jy voort,
want jy moes bloot aanbeweeg
om na jouself te gaan soek. Gordyne toegetrek
wys jy delf steeds rond. In elke oop vertrek
is jy tasbaar. Maar ons kamers voel steeds leeg.
‘n Kwas het kwistig groen na oranje kom kleur;
listige Lente het Somer en Herfs laat gebeur
en Laatwinter het ook uiteindelik loop lê.
Ons vier was uit geselsies maak …
oproepe het oppervlakkig geraak …
tot Augustus eendag iets belowends kom sê.
Jou gelaat begin nou meer na huis lyk
met die skerm se kaats as ons oë jou bekyk
en so bo-oor die waters bevoel ons harte mekaar.
Met die afwagting oor jou tuiskoms na maande
ure, dae, weke se gewag sal die aande
se lewendige lub-dub in ons harte nooit bedaar.
Ons smag jou terug in ons gesellige somerspasie –
jou velige nes, jou salige stasie.
Ons huis is jóú huis, jou woning, pendelaar.
Bly net ‘n rukkie voor jy weer oorgee aan frustrasie.
© Charlene Jordaan Kotzé (Augustus 2022)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Augustus 2022 My huis is my woning projek