Jongste aktiwiteit:

SANGOMA SUZI

Sangoma Suzi

geskryf deur Fanus Strydom

5099 woorde

(Waarskuwing: Hierdie skrywe bevat enkele vloekwoorde en kru taal.)

 

Sannie Van Graan verklaar haarself amptelik as keelvol teenoor die gesig vol plooie in die spieël. So wat van op die stoep sit en staar na die vergetelheid is nou genoeg, besluit sy.

Vandag is dit al amper een volle jaar dat haar oorle’ Gert besluit het om sy hartaanval op hierdie einste stoep te loop staan en kry. En dit nogal ten aanskoue van almal. Dit was die sustersvereniging se laaste vergadering van die jaar en die susters het geil gesit en kekkel, soos henne op ʼn heiningdraad.

Toe oorle’ Gert met die skinkbord vol koffie en tee kletterend voor hulle voete doodneerslaan, het hulle, oorval deur pligsywer,  met kamma-meegevoel en valse trane om haar saam begin koek. Soos brommers om ʼn drol. Maar deesdae loop die klomp neusindieluggetrek by haar verby voor die einste stoep en groet haar skaars. Weduwee wees is blykbaar ʼn hoogs-aansteeklike siekte op hierdie dorp en die betrokke besmette moet liefs in die geheel en totaal en al vermy word. Ter wille van die gemeenskap, die gemeente en die afsonderlike susters se eie, wankelrige huwelike se algemene welstand.

Sannie kyk lank na die vrou in die spieël.

Uiteindelik sien sy haar kopskuddend saamstem dat sy wat Sannie is maar net eenvoudig nie uitgeknip is vir so ʼn alleenwesery nie. Die probleem was net; op díe dorp  het daar net mooi niks meer aangegaan  nie, nie eers die straatligte nie! Sy sou aan ʼn ander plan moes dink om Gert se gat weer vol te maak op haar voorstoep hier langs die hoofstraat. En sy het.

Sy lees weer die klein, swart-en-wit advertensietjie op die agterblad van die Landbouweekblad:

“SANGOMA SUZI.

HELP FOR:  LOVE, FAME, MONEY and MENSTRUAL PAINS.

This weekend only at Bredasdorp Fair. R100. CASH ONLY.”

“Gmf…” sê Sannie ingenome en neem ingedagte nog ʼn slukkie tee. “Money…”

Danksy haar oorle’ Gert het sy genoeg geld gehad om van te lewe, want sy pensioen het darem min of meer gesorg vir die nodigste. Sy het beslis nie honger gely nie.

“Roem…”

Sy kan nie anders as om terug te dink na die stoepgedoente daardie tragiese dag en aan die susters nie. “Ag neewat, Sannie Van Graan, díe het jy genoeg al van gehad in jou lewe mens. Wat met voorsitter van die sustersvereniging, voorsanger in die kerk se koor, jare van getroue diens by die ouetehuis en dan nog ʼn solo-sanguitvoering elke nou en dan ook ten bate van die kerk se boufonds.” Meteens besef sy hoe tot-oorlopenstoe vol haar roembeker,  en die van heelwat ander bevoordeeldes, eintlik was.  “ Neewat, meer roem begeer ek beslis nie, dankie!”

Sy vee in druppel tee uit haar mondhoeke uit met ʼn wit servet, stryk vergenoegd ʼn vou uit die stywe crimpelenerok oor haar knieë uit en druk-druk aan die styfgespuitte kapsel bo haar kop. Die stywe gedoente begin deesdae vir haar al hoe meer voel soos een van daai pruike wat die dames in Clicks so lief is om te dra en sy moet haarself keer om nie te wil klap-klap aan die ding nie. Oorle’ Gert het nou wel gehou daarvan, maar hy’s nou al vir amper ʼn jaar lank nie meer hier om vir haar te sê die miershoop bo haar kop lyk mooi nie. “Miskien is dit tyd om die ding finaal te laat afbreek,” dink sy.

Onder in die straat worstel-waggel ou Oom Herklaas Du Preez wankelrig en onstandvastig op sy pasvervangde heup verby. Toe hy haar op die stoep sien sit, probeer hy sy kromgebuigde rug meer regop maak, maar tevergeefs. Dan lig hy maar sy skewe, growwe kierie in haar rigting in die hoop dat die ding se yslike, blink knop haar sal beïndruk. Sy kyk eerder haastig anderpad.

Volgende op die lys:  “Menstruele pyne.”

Daarvan kon sy genadiglik drie dekades gelede al vergeet. Van die oomblik af dat sy vir klein Gertjie, haar en oorle’ Gert se vyfde, by haar moeë dye uitgestoot het. Daarvoor het die dokter mooi gesorg. Alles uitgesny na die mannetjie se geboorte. Hy was mos groot van lyf, nes sy pa. Net jammer die klein bliksem het intussen toet en taal vergeet van sy stomme ou moeder op haar oudag en flenter die wêreld vol rond, sonder om haar ooit te bel of te kom sien.

“Maar nouja,” sug sy so-te-sê tevrede en tel maar haar eenhand-seëninge. Ten minste hoef sy haarself nie meer te kwel oor menstruele pyne nie.

“Nou vir wat wil die vrou my nogal R100 vra?” wonder sy hardop. “ Liefde?!”

Net by aanskoue van die woord kom roep ʼn vreemde stem voor die venster van Sannie se gemoed … kom klop ʼn anderse ritme skielik aan die voordeur van haar hart. En net daar, op die stoep langs die hoofstraat, besluit sy dat honderd rand seker nie ʼn té duur prys is om te betaal vir nog eenkeer se probeer op geluk in die lewe nie.

Sy knip die goue gespe van haar blinkleer handsak oop, maak seker daar is twee blou buffels in die beursie en tel dan die Valiant se sleutels gevul met nuutgevonde hoop en ywer van die tafeltjie af op.

Toe sy die geroesde motorhek na haar blinknuwe toekoms krakerig voor haar oopstoot, vra Breggie Smit van langsaan oor die heining:

“Waar gaan jy, Sannie?”

“Maan toe, Breggie.”

Sy het nie nou tyd, of lus, vir die praatsieke ou vrou se geite nie.

“Askies?”

“Maaind jou eie bleddie besigheid, Breggie.”

“Ongeskik!”

Breggie storm ontstoke trap-op voordeur toe, gooi die plank ontsteld agter haar agterstewe in en druk die slot opsluit weer veilig toe op knip. Mens weet nooit met die skelms op die dorp deesdae nie. Deur die geriffelde glasgleuf in die middel van haar voordeur sien Breggie Briel hoe drie Sannie Van Graans haastig wegry hoofstraatlangs in drie ligblou Valiants.

“Gmf!” grom sy vies en wonder waar sy haar selfoon neergesit het.

Die Landbouweekblad lê netjies oopgevou op die laaste bladsy onder haar handsak op die sitplek langs haar. Sannie is , om een of ander rede, vas oortuig daarvan dat sy vandag vir die laaste keer as enkel-weduwee by hierdie dorp se hoofstraat uit gaan ry. Iets in haar binneste sê net vir haar dat vandag die dag is waarop sy wat Sannie is, weer vir ʼn slag geluk iewers langs die pad van die lewe raak gaan loop. Maar nie in díe dorp nie. Daarom moet sy ry Bredasdorp toe.

“Luck is a lonely, lonely lady…” het haar oorle’ Gert vanmelewe altyd geloop en predik oor die sondes van geluk en enige-iets anders wat volgens hom nie die Here se wil was nie. Die Bonusobligasie-nommers in Sondag se Rapport, tombolatrekkings by die kerkbasaar,  tot voorbehoedmiddels en geboortebeperking was taboe in sy verkrampte oë.

“Ja, en kyk wa lê jy nou, Gert Van Graan, ” sê Sannie amper-verbitterd en soek na sy grafsteen tussen die populierbome deur toe sy by die kerkhof verbyry oppad grootpad toe.

Bo, by die T-aansluiting waar sy moet regs draai  Bredasdorp toe, maak sy vir oulaas net gou seker in die truspieëltjie dat haar lipstiek net só is op haar lippe. Mens weet nooit wie jy kan raakloop op die buurdorp nie…

۞۞۞

In haar bedompige, rissierooi gazebo trek Gladys Khumalo vies die langhaar pruik weer stywer oor haar natgeswete voorkop vas. Dan maak sy seker die string krale en bene en vere en goeters hang laag voor haar oë verby, nes Suzi haar gister weer gewys het om te doen.

Sy kan nie glo sy het haarself so waaragtig weer ʼn gat in die kop laat praat om in te staan vir haar jonger suster by die verdomde fair vandag nie.

Suzi doen dit elke keer.

Sy sal haar nooit vra om te help by die groot stede se feeste nie, nee, want daar rol die rande mos sommer vanself in haar sakke in. Maar wanneer een of ander klein, plattelandse dorpie soek na ʼn cheap Sangoma vir hulle landbouskou, dan word Gladys ingespan.

“Soos ʼn bleddie dol os voor ‘n wa!” dink sy vies en trek weer aan die krapperige pruik op haar kop.

Elke keer ontwikkel Suzi skielik en op die laaste nippertjie, maagpyn, kraampyn, of een of ander ánder tipe van pyn en moet Gladys maar weer gewilliglik instaan vir haar.

“Ag please, sis. I thought you love me…?”

En elke keer gee Gladys maar weer in.

Die ergste van alles is dat Suzi nie eers ʼn regte Sangoma was nie, nog minder Gladys. Net omdat hulle groot-gogo jare terug ʼn vroedvrou was en mense gehelp gesondmaak het met kruie en blare en allerhande ander stinkende brouselgoed, het nie van hulle twee toordokters gemaak nie. Inteendeel! Van dolosse gooi en toordery wou Gladys eintlik net mooi niks weet nie. Sy het afterall voorgesing in die koor by die United Full Gospel Church of Eternal Freedom and Redemption, onder in die township se gemeenskapsaal. En as die fris jong dromspeler moes uitvind sy doen sulke goed, verloor hy verseker die ritme in sy langerige stok. Saam met alle belangstelling in haar wat Gladys Khumalo is. En dit vir geld!

Sy rol benoud haar oë na bo en stuur gou ‘n haastige skuldgebedjie op hemel toe – sommer so deur die luggat in die lae dak van die tent bo haar kop. En hoop van harte Trevor die drommer is nie in Bredasdorp vir die naweek nie.

Feit van die saak is: die witmense het gehou van die foefie en die geld was goed, veral as daar buitelandse toeriste in die dorp was. Sy moet erken: haar jongsus Suzi het ʼn punt beetgehad. Toe haar selfoon lui, kyk sy na die skerm…praat van die duiwel:

“Hello?”

“Where are you, sis?”

“I’m at the fair, where do you think?”

Gladys hoor mense lag in die agtergrond…borde en koppies en glase wat klingel. “Where are you?”

“I just popped in to Jimmy’s on my way to the clinic.”

“Jimmy’s?!”  vra Gladys moerig, “the tavern?”

“Relax, sis. I’m just having a quick Sjisanjama-brekkie with Promise. She’s going for an audition with that big film-producer I told you about. Remember?”

Gladys kan haar ore nie glo nie en sy slaan vies met een hand op die kaal sementvloer voor haar.

ʼn Wolkie stof styg stadig op vanuit die gehawende springbokvel by haar voete. Oorkant haar, teen die ander kant van die bedompige gazebo, klap-klap die wind bedompig teen die tent se kant en stamp amper die wankelrige houtbankie van sy pote af. Dit val amper op die geel emalje-bakkie vol “walkie-talkies” – hoenderpote en koppe. Vir effek. Sy’t dit sommergou-gou by Shoprite gekoop oppad hierheen vanoggend.

Gladys waai vies na ʼn lastige vlieg bo haar kop:

“Suzan Khumalo, if I find out you have bulshitted me again today, I swear…”

“Halloooo?” klink ‘n temerige stem meteens van buite die tent se ingangsflap op.

Gladys druk vinnig die selfoon dood en steek dit haastig weg onder die lae en lae valle en voue van haar wye, etniese romp.

Ook net betyds, want twee wit, oumenshande vat-vat onseker na die ingangsgat by die lap voor die tent. Dan verskyn ʼn styfgespuitte, persblou kapsel uiteindelik deur die opening en begin twee groengeverfde oë op skrefies soek na lewe in die halfdonker tent.

“Ola yalla bora-bora-bora, kakka mamma pappa…” begin Gladys gou  ʼn klomp gemors te prewel en rol haar oë dramaties agteroor in haar skedel agter die vere en krale voor haar gesig. Dan waai sy weer na die verdomde vlieg en mik daarna met ʼn  helderpienk, plastiek vlieëplak. (Ook sommer by Shoprite gekry vanoggend.)

“Oe, askies!” vra Sannie se kop plegtig omverskoning deur die tent se ingangslap en wil-wil sy dit net weer terugtrek by die opening uit.

“No, no, no!  come in, come in…” nooi Gladys haastig en wys met een hand.

Sy herrangskik die yoga-kussing onder haar wye rok in ʼn gemakliker posisie in onder haar agterstewe en wys na die houtbankie aan die ander kant. “Come sit, please.”

“Ag, baie dankie!”

Sannie loop gebukkend en buig-buig na die bankie toe. Uit respekte vir die groot vrou voor haar in die deurskynende rooi tent.

Sy gaan staan voor die lae houtbankie en kyk vir ʼn oomblik skepties daarna: “Dis eerder net ʼn plank vasgespyker aan twee ander planke…” dink sy half bekommerd en hoop maar die ding gaan hou onder haar. Toe haar oë uiteindelik begin gewoond raak aan die halfdonkerte binne die beknopte ruimte, lyk dit vir haar vir ʼn oomblik of sy haarself binne-in ʼn groot, rooi lemoensak bevind. “Of dalk ʼn uiesak…” bly haar kop sin probeer maak  van die vreemde omgewing om haar. Sy besef dat sy half teleurgesteld is, want sy het iets heeltemal anders verwag.

“Maar wat weet ek tog nou,” dink sy die laaste bietjie onrustigheid uit haar binneste uit en kry versigtig haar sit op die lendelam bankie. Daar rangskik sy haar rok weer mooi netjies oor haar bymekaargemaakte knieë en vou haar enkels styf teenmekaar onder haar in. Soos dit ʼn gas in iemand anders se huis betaam. Net haar groot, swart kunsleerhandsak bly staan nét hier langs haar op die bankie. Mens weet nooit by sulke plekke nie…

“And what are jor name?” besluit Sannie om maar die ys te breek, want die vrou oorkant haar op die kussing bly net doodstil sit en staar na haar.

“Miskien is dit maar ʼn Sangoma-ding,” dink sy ingedagte, maar dis nie genoeg rede om tyd te mors nie, want sy is mos hier vir ʼn doel. En die son trek water buite die bedompige tent.

“I’m sorry?”

Gladys kyk vir ʼn oomblik oopmond en heeltemal uit die veld uit geslaan na die vreemde vrou oorkant haar. Na die styfgespuitte, blougrys kapsel  hoog bo haar kop uitgerys soos ʼn ou-verdroogde miershoop. En na die pers en pienk geblomde Crimplene rok aan haar lenige ly.f…die donker sykouse oor haar bene.

“Kry die stomme vrou nie warm nie?!”

wonder Gladys verbaas en onthou intussen om haar mond weer toe te maak. (Die vlieg is nogsteeds lastig om haar kop. Miskien was die walkie-talkies nie so goeie idee nie, maar dis nou te laat.)

Die vrou oorkant haar bly net vriendelik lag na haar met ʼn dikgesmeerde, bloedrooi glimlag op haar wye mond.

“Dis nou gladnie die tipe waaraan ek gewoond is om by my tent (wel, Suzan se tent) in te stap nie…” probeer haar verwarde kop sin maak van die vrou op die bankie oorkant haar.

“Jor name…what are jor name?” val Sannie haar verwarring in die rede en beduie stadig met een vinger na haar. Dan weer terug na haarself: “ Aai Sannie, you…?”

Sy lig een wenkbrou in opgewonde afwagting op ʼn antwoord. Soos ʼn laerskooljuffrou voor haar groot-oog klassie op die eerste dag van skool.

“Eish ê ê…” is al wat Gladys uit kan kry. Dit neem haar ʼn ruk om tot verhaal te kom en sy moet diep loop soek na elke greintjie selfbeheersing binne haar om nie haar pose totaal en al te verloor nie.

“I am Gladys” kom sy uiteindelik tot verhaal. Maar besef dan onmiddellik  haar fout en korrigeer haarself vinnig: “I mean Suzi, I am Suzi!” Sy rol weer haar oë dramaties om in haar kop vir effek. En in die hoop dat die vrou nie sal agterkom sy’s ʼn totale fake nie. Toe Sannie uitbundig aan die lag gaan, loer Gladys skelm deur een skrefie-oog na haar.

“What a naais name, Suzi!” lag Sannie en wonder of sy moet opstaan om die vrou met die hand te groet, maar besluit dan daarteen. Sy is afterall die gas in die vrou se huis, (wel tent), en is derhalwe heeltemal bereid om in te val by haar gasvrou se gebruike. So, sy vou maar eerder weer haar hande netjies terug op haar skoot en sê opgewonde:

“Suzi Sangoma, I are Sannie Van Graan. It’s so bleddie naais to meat you, man!”

Gladys bly hap na lug, soos ʼn baber op droë grond. Dan besef sy net daar en dan dat dit beter gaan wees om so vinnig as moontlik korte mette te maak met die vreemde vrou voor haar. Voordat sy wat Gladys Khumalo is vandag histeries, en heeltemal buite beheer, aan die lag gaan gaan  en van haar yoga-kussing af gaan rol reg voor hierdie vreemde vrou.

“Yes, well…what can I do for you?” probeer sy so formeel as moontlik weer wet en orde skep in haar towertent en haar eie binneste.

Sannie lig haar vinger sonder om ʼn woord te sê.

Sy leuen oor en begin vroetel in die groot handsak langs haar op die bankie. Stilte. Net die vlieg wat bly gons. Uiteindelik bring sy ʼn opgevoude tydskrif te voorskyn.

“Look…” sê sy en wys na die klein advertensietjie op die agterblad van die Landbouweekblad. “I saws your advertensie in dis boek and I just new…”

“Knew what?” Gladys frons meteens bekommerd en kyk na die klein, swart skrif in die tydskrif en dan na die vrou se wye, oopmond glimlag. ʼn Beklemmende benoudheid kom rus op haar. “Weet die vrou van haar en Suzan se scheme?… dalk is sy van die polisie!” Sy is op die punt om te begin verduidelik toe Sannie haar weer in die rede val:

“I just knows that you will have the answers for me today.”

Die vrou kyk na haar met opregte hartseer in haar oë en Gladys wil wegkyk, maar dan klik die vrou op haar  tong, sit een hand oor haar hart en sê half-bewoë: “Dis aloneliness, I’m telling you man, its killing me. No bleddie laais…”

Vir ʼn oomblik kom hang daar ʼn bedompige stilte tussen die twee vrouens.

Sannie leun stadig vorentoe en hou die boek na Gladys toe uit om self te lees wat sê Suzi se advertensie op die agterblad. Sy onderstreep een, spesifieke woord met haar vinger:

“LOVE…I soeks the love man, please.”

Dan vou sy die tydskrif weer tevrede toe, sit dit terug in haar handsak op die bankie langs haar en wag geduldig vir Suzi Sangoma om te begin.

“Ten minste weet die vrou nou wat lê op my hart,” dink sy in haar skik en wag nou maar vir gods water om oor gods akker te loop. Nie eers oorle’ Gert se vermaninge sal dinge nou meer kan   keer nie. Die koeël is deur die kerk. “Wel, die tent…” korrigeer sy haarself en vestig haar onverdeelde aandag op die groot vrou voor haar.

“Ôkei…” kom Gladys stadig tot verhaal.

Sy is nie meer seker of sy moet lag, of huil nie. Dan besef sy dat dit dalk die beste gaan wees om so gou as moontlik aan die gang te kom, want hoe gouer sy die vrou hier uikry – en haarself- hoe beter vir almal.

Sy begin naarstigtelik vroetel met die sakkie sopbene op haar skoot en mompel weer iets onhoorbaar binnensmonds. Dan gooi sy skielik haar kop wild heen en weer op haar skouers en begin die sakkie hoogdrawend rondskud bo haar kop. (Dis min-of-meer hoe Rafiki dit gedoen het in The Lion King, as sy reg kan onthou…)

Die heeltyd hoop sy van harte dat die Jik sy werk gedoen het met die bene en hulle mooi wit geblyk het na noudieaand se skaapnekbredie. Want die vervlakste Suzi het mos haar sakkie met fake-bene op die taxi se sitplek  loop staan en vergeet die annerdag.

“Die meisiekind se kop is mos deesdae net vol bleddie muisneste!” dink sy, terwyl sy die sakkie bo haar kop rondrol. “Vandat sy en daai verdomde klein maergat-Sipho mekaar op varsity raakgeloop het! Sy vertrou die knaap nie sover as sy hom kan gooi nie…”

“Oe, wait eers ʼn bietjie, please!” val die vrou haar skielik weer in die rede.

“Hê?” Gladys se arms stol verbaas bo haar kop.

“I must first pays you, man. I almost forgots!”

Sannie lag uitbundig en begin half-verlee weer vroetel in die handsak langs haar sy. Sy soek na die klein, pienk beursietjie met die lemmetjiegroen kraletjies daarop vasgewerk.

“Never does bisnis wif a vreemdeling before he pays you…” predik sy intussen na Gladys sonder om op te kyk. “Die beursie moet tog hier iewers wees,” dink sy en soek verbete voort tussen al die goed in haar handsak. “ That’s what my husband, Gert always het gesê.” Sy knik haar kop in Gladys se rigting, terwyl sy wonder of sy dan nou die beursie in die handsak se kantsak geloop sit het. “Ai man!” se sy terwyl sy sukkel met die dekselse zip aan die kant van haar handsak. Sy kyk verskonend na Gladys: “ He died…” Sy lig een vinger: “ One years ago. From a heart-aanval, nogal. And sommer right there on the stoep. Can you beliefs it?”

“Askies?” vra Gladys verbouereerd sonder om eers agter te kom sy’t oorgeslaan na Afrikaans toe. Meteens is sy oortuig dat sy gaan flou word. Net daar op die stowwerige Springbokvel voor die vreemde vrou.

Genadiglik vind die vrou waarna sy soek en haal ʼn blou honderdrander by ʼn klein, bekraalde beursietjie uit, voor sy die ritssluitertjie weer versigtig toezip. Dan sit sy die noot voor Gladys se voete op die Springbokvel neer, stryk dit mooi plat met een hand en sê:

“Der you go, my dear, one hundred rands, just like you says in the boek. Hm, mooi velletjie…”

Sy streel vir ʼn oomblik ingedagte oor die ylerige hare op die deurgetrapte sprinbokvel op die vloer  voor haar. “Ag shame, arme ou bokkie…”

“Excuse me?”

Gladys se mond val weereens onkeerbaar oop. Haar arms hang slap en leweloos langs haar sye.

Maar Sannie waai reeds omverskoning met een hand voor haar mond en bloos half-verleë:

“Ag, I’m so sorrie, Suzi Sangoma. Please go on man. I keeps on interrupting you…”

Vir die soveelste keer kom Gladys  weer stadig tot haar sinne, terwyl sy vaagweg probeer onthou wat Suzi volgende sou doen in die situasie. Iets in haar agterkop (dalk ʼn toneel wat sy op Isidingo gesien het) sê vir haar om by die sakkie se bek in te blaas en sy maak haastig so. Dan gooi sy die bene dramaties op die vel uit voor haar en onthou genadiglik om ʼn “towerwoord” te brabbel:

“Oscar caltex edgars capitec mabusa…” is al wat op daardie oomblik uit haar verwarde gedagtes uit op wil kom, maar dit moet maar doen vir nou.

“Oe my gonnapatat…!” roep Sannie opgewonde toe die bene voor haar voete ooprol en bring een hand na haar mond toe.

“Sjjjttt!” lig Gladys een vinger en dwing Sannie nou tot stilswye. Sy besef sy sal moet beheer terugkry oor die situasie, anders is die kaiings in die vuur vandag.

Sy  staar kammakastig met diepe konsentrasie  vir ʼn lang ruk na die bene. Lees kamma hoe hulle oormekaar lê en wat hulle vir haar probeer sê. Maar al wat eintlik regtig deur haar kop gaan is die dankbare besef dat die Jik genadiglik gewerk het.  Die skaapskenkels lê spierwit gebleik en sonder ʼn seningtjie in sig op die vel voor hulle oopgesprei.  “I see…” begin sy verlig.

“Ja?” vra Sannie opgewonde.

“Hey wêna…!” gee Gladys haar weer ʼn kwaai kyk en druk haar vinger voor haar eie mond.

“Oe, I’m sorrie, I’m sorrie…” belowe Sannie om haarself in toom te hou. Dis net, die opgewondenheid is amper te erg vir haar om te verdra.

“I see fame,” gaan Gladys voort. “And fortune…”

“Aggenee…” voel Sannie meteens half teleurgesteld. Dis nie eintlik waarvoor sy gekom het nie.

Gladys merk die teleurstelling op die vrou se gesig op en besluit om eerder van rigting te verander. Dis tyd om oor te skakel na ʼn ander rat. Afterall, die stomme vrou  het klaar betaal én haar dag totaal en al gemaak!

“O no…” sê sy meteens en kyk met grootgerekte oë na Sannie. “I see trouble…”

“Oe aarde!” begin Sannie weer opgewonde giggel en sit gretig vorentoe op die bankie: ”watse trouble?”

Gladys klap moerig na die vlieg wat bly draai bo haar bo haar kop met die pienk vlieëplak en wonder wat de hel sy nog moet doen om die verdomde vrou net vir een oomblik stil te kry. Duidelik sink die erns en simboliek van die oomblik en die tradisie gladnie nie by die vrou se styfgespuitte kapsel in nie. Sy besluit geïrriteerd om dan eerder maar ʼn heel ander rigting in te slaan: “But wait!”

“Aahh…” Sannie snak weer na haar asem. (Maar die keer liggies, want sy kan sien die vrou hou nie daarvan dat sy so interfere die heeltyd nie. En sy wil haar tog net nie nou ontstel nie, want netnou gee sy haar net slegte nuus en is haar honderdrand daarmee heen. Saam met haar hoop op liefde en geluk.)

“I see love!” kondig Gladys triomfantelik die pierce de resistance aan en wys na een besondere groot stuk skenkel met die vlieëplak se handvatsel . Dit lê half-skeef oor die gat in die vel waar die koeël die bok getref het. Reg langs die hart.  “Dit moet ʼn teken van liefde wees,” dink Gladys meteens self half-verbaas oor haar nuutgevonde sangoma-talent.

“O jippie!” klap Sannie opgewonde haar hande en buig vooroor oor die vel. “Waar?” vra sy.

“There…”

Gladys wys met die vlieëslaner na die been.

Sannie draai haar kop eers die kant toe, dan daai kant toe terwyl sy die stuk been bestudeer.

“Mmm…” sê sy ingedagte. “Lyk nie eintlik na iemand wat ek ken nie.”

Skielik weet sy nie of sy teleurgesteld, of bly moet wees nie.

Meteens versteur ʼn opgewekte Kwaito-tune, die gewyde oomblik van swanger stilte. Diep van iewers onder die valle van Gladys se rok uit lui haar foon skielik dringend en onophoudelik.

“I’m so sorry,” sê sy nou die keer half verleë met een vinger na bo om te wys daar gaan net eers gou  ʼn kort pouse in die verrigtinge wees. Dan begin sy naarstigtelik grou tussen die lae materiaal tussen haar bene opsoek na haar foon, terwyl dit onophoudelik bly lui.

“Nee mens,” wys Sannie vir Gladys om nie te bekommer nie en kyk maar eerder anderpad. “You must get it. Now-now its a noodgeval en wat dan?”

Uiteindelik spoor Gladys die singende foon iewers in die voue op en druk dit ongeduldig vas teen haar oor:

“Hello?”

Sannie hoor vaagweg ʼn benoude vrouestem aan die ander kant, maar sy bly ordentlik anderpad kyk. Sy wil mos nou nie opsetlik ongeskik wees nie. Maar sy kan hoor daar’s fout…

“What?!” vra Gladys meteens geskok. “Where? Oh my God….No, just wait, I’ll come immediately!”

Toe sy opkyk sien Sannie die rou vrees in Suzi Sangoma se oopgesperde oë.

“What’s wrong, my dear?”

“It’s my sister,” antwoord Gladys met ʼn bewerige stem. “She was in an accident.”

“Wanneer?!” vra Sannie geskok.

“Just now.”

“Is she oraait?”

“I dont know…”

Gladys begin saggies huil.

“But then we must go and find her!” sê Sannie en sy spring haastig op. “Toe toe kom, Suzi!”

Sy gryp haar handsak van die bankie af en trek vir Suzi aan die elmboog op.

“Genade maar die vrou is vet!” dink sy vir ʼn oomblik, voordat sy die stomme mens by die lemoensaktentgedoente se opening uitgeboender kry en haastig begin aanstap parkeerterrein toe.

“Dere…” wys sy na die getroue ou Valiant toe waar dit onder ʼn koelteboom staan, “ dere’s my car!”

۞۞۞

Sannie jaag so vinnig as wat sy moontlik kan in Bredasdorp se hoofstraat af, terwyl Suzi Sangoma die heeltyd in ʼn huilerige stem met iemand op haar selfoon praat.

“Okei…yes…yes. We’re on our way.”

“Waar’s sy?” vra Sannie en vergeet skoon sy moet engels praat met die stomme vrou.

“At the hospital.”

“I knows where it is.”

Sannie gooi die Valiant terug na derde toe en sit haar voet hard teen die vloer neer op die petrolpedaal.

“Hold vas!” gil sy teenoor Suzi en knyp die stuurwiel vas met witgevlekte kneukels toe die Valiant begin dreun onder hulle.

Onder by die sirkel, langs die skouterrein,  glip hulle by sesuur in en skiet dan weer soos blits by twaalfuur uit oppad Hospitaalstraat toe.

Dan hoor hulle die sirenes.

Dit kom van agter af aangeloei en kom vinnig nader. Sannie kyk geskok terug in haar truspieëltjie en sien die verkeerspolisieman op sy motorfiets.

“Ag fok, tog net nie nou nie!” sê sy vies en begin naarstigtelik soek na aftrekplek.  “I’m sorrie,” maak sy grootoog verskoning by Suzi en kyk weer na die spietkop in die truspieëltjie. Hy kom stadig van agter af aangestap na die Valiant toe.

Toe hy uiteindelik langs haar afgerolde ruit kom staan en sy blinkglas donkerbril van sy neus afhaal, kyk die mooiste, diepste, blouste paar oë meteens af na Sannie toe en sien sy hoe hulle vir ʼn onbewaakte oomblik skaamteloos afgly tot net bo haar hygende halslyn. Sy lig een hand stadig na haar bors toe op en bloos in een onbesonne oomblik van pure angs en opgewondenheid purperrooi terug na die aantreklike geregsman langs haar venster.

“Goeiemiddag konstabel,” groet sy half-verleë. Welwetende dat sy sonder twyfel skuldig is.

“Mevrou…”

Die blouoogspietkop bly net afkyk na haar met ʼn seunskindagtige, wye, wittandmond.

۞۞۞

Na ʼn vinnige, benoude en deurmekaar verduideliking in engels en afrikaans deur  Sannie en Suzi Sangoma om die beurt, het die gawe geregsdienaar hulle vinnig en teen dolle vaart na die hospitaal toe begelei met loeiende sirenes.

Daar aangekom het Sannie en Suzi  haastig ingehardloop om te gaan soek na die gewonde suster.

Díe is gelukkig gou opgespoor in ʼn stoel in ongevalle met ʼn Coke in die een hand en ʼn hengse knop op die voorkop. Langs haar op die stoel se armleuning het ʼn maererige jong man gesit met sy een arm beskermend oor haar skouer.

“Suzi…!” het Gladys na haar kleinsus toe gehardloop en haar styf teen haar vasgedruk.

“Ouch, my head!”

“Sipho…” het Gladys vies, maar ook ontsettend dankbaar na die jong man gekyk en hard probeer om nie te vriendelik te lyk nie.

En net daar het Gladys Khumalo haarself tranerig ontbloot teenoor die goedhartige, vreemde vrou Sannie Van Graan en aan haar beken dat sy wat Gladys is geen verdomde sangoma is nie.

Buite, in die parkeerterrein langs die ligblou Valiant,  het die gawe spietkop wydsbeen oor sy  motorfiets gesit en wag vir die aanvallige dame met die mooi pers rok om weer uit te kom.

Toe Gladys probeer aandring om vir Sannie haar geld terug te gee, het Sannie kopskuddend bly weier:

“Vir wat?”

“Because I’m not a real Sangoma,” het Gladys skaam en tussen trane van dankbaarheid deur gesnik, terwyl Sannie haar styf teen haar lyf vasdruk.

“Oh but you are, my dear, you are. Look…”

Sy het deur die venster op die tweede vloer gewys na die frisgeboude vekeersman waar hy onder op sy motorfiets langs die Valiant sit en terugwaai op na haar.

“Everything you said came true…”

©Fanus Strydom    




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed