self dialoog
jy sê – ek sê
wat wil ons sê
op my duin is daar diep gesprekke
diep introversiewe neigings wat klop
deur van verlede word oopgesluit
toegeklap en weer oor vernis in tyd
elke aksie en reaksie ondersoek
elke uitvloeisel bepeins en vertolk
terwyl my gees so sweef oor waters
swiep deining voort asof niks gebeur
golwe staan op en stort eentonig neer
skuim vorm wit some oor strande
meeue kris en kras vrolik met skulpe
om hul uitspoel met lewende slakke
wanneer my duin se gesprekke hoorbaar word
weet ek dat jare aanstap in weke – nie andersom
wat vroeër maande was, is nou in tyd weke
wat destyds dae was, is nou net enkele ure lank
my lewe lê agtertoe uitgestrek in dekades
vorentoe lyk dit na weke en dae vir my
“gesels jy met jouself ou vriend” vra hy my
“man ek weet nie eintlik nie, maar ja, dit is seker so”
met vroeë fisant-geskal en eerste lig
word ek wakker uit my drome – dom
dan wink my duin my met sy fynbos
weet ek ou skillie wag ook daar op my
elke dag is ingedeel in drie maaltye
brekvis – middag-broodjie – aandete
“dit is dalk nou genoeg” sê ek
“nee daar is nooit genoeg” sê hy
©Teárlach
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.