Showville
(goud)
Showville
Bethulie kry vanaand sommer lewe –
dis Showville in die middel van die jaar;
die dorpsaal se dak en mure bewe
met heel die distrik se mense bymekaar.
Die poets en sangers, almal staan ’n kans,
maar rappers rap verbete – hulle spook,
want vyf man kap dit uit met ’n pantsula dans
en hul passies het die houtvloer aan die rook.
Maar buite tafereel die kampkerkhof;
die Boytjie van Bethulie loop daar rond.
Verby vervloë grafte (sy beeld skyn dof)
staar hy na die saal oor die heilige grond…
en hoe wens hy om nog éénmaal konsert te hou
met net homself en Oom Schalk, in ’n one-man-show.
© Carma Shaw
29 September 2018
15h06
* Showville – SABC TV program waarin daar na plaaslike talent gesoek word.
Boytjie van Bethulie – Patrick Mynhardt (akteur)
Oom Schalk (Lourens) – ’n karakter in Herman Charles Bosman se stories.
Kampkerkhof – tydens die Anglo-Boereoorlog is een van die grootste konsentrasiekampe by Bethulie opgerig.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die September 2018 - Spyse vir die siel projek