Jongste aktiwiteit:

Sondagmiddae saam met Pa en Ma

Sondagmiddae saam met Pa en Ma – deur Stephan Uys

Wat is nou lekkerder as om op ʼn Sondagmiddag na kerk by Pa en Ma te gaan kuier? Voor die orrelpypies ons lewe oorvol kom maak het, was Sondagmiddae gedeel tussen ons liefdesnessie en my ouers se huis. Na die eerste doekvuilmaker se geboorte het ons (merendeels ek) spoedig die voordele van oorry na my ouers besef. My skoonouers bly (gelukkig) ver, so ʼn vinnige oorry vir ʼn kuier was nie ʼn moontlikheid nie; ons het dus my ouers se drumpel redelik dun begin trap.

Ek het vroeg reeds gesien Pa en Ma hou daarvan om my skreeuende en huilende werpsels vas te hou en te vertroetel. Reeds met ons eersteling het Liefie my vinnig laat verstaan ék het gehelp met die maak van die dingetjie, so ek gaan ook my deel moet bydrae met die grootmaak van die klein energietappertjie – aldus as ek énige romantiese drome van watter aard ook al met haar vervul wil sien! Ek het dus Sondae na kerk oorgejaag met vrou, kroos, doeke, melk en… die droom van ʼn bietjie eie-tyd hê.
Nooit was ek teleurgesteld nie! Daardie befoeterde man wat ek Pa voor sê verander in ʼn fluisterende nanny die oomblik as boetatjie in sy arms gedruk word. Dit het dan vir Ma die duiwel in, want hoekom kan Pa nou alleen die baba vashou. Met dié bakleiery in gedagte, oorreed ek Liefie om nog een melksuiertjie te produseer – net ter wille van die vrede en huweliksgeluk van my ouers. Ek het wragtie nog gedink ons probeer, toe vat my vrou vir die tweede keer en nege maande later het ons nog ʼn boetie!

Nou loop dinge regtig mooi by my ouers. Elkeen het ʼn baba om besig te hou, en ek en Liefie kry weer kans om te rus en te ontspan. Ek word ʼn meesterbeplanner! Sodra Ma se kos gaar is, stop ons met groot fanfare by die hek, dan hou ek vir Liefie en een van die twee boetas besig terwyl ma opskep. Ek moet Liefie weghou van die opskep geleentheid, want sy reken ek raak vet. Sy glo my nie as ek vir haar sê dit is net swangerskap-empatie nie, en sy het begin om vir my so min kos in te skep ek kan net so wel uit ʼn piering eet. Dit lyk egter of Ma snuf in die neus gekry het dat haar skoondogter probeer om my te laat sterf van die honger. My geliefde Ma hou aan opskep tot die bord se hele bodem vol berge kos lê! Liefie maak elke Sondag vir my grootoë as sy my bord sien, maar ek kruip net weg agter die bord kos en ignoreer haar soos die stopteken om die hoek.

Toe val die bande van die bus af! Liefie soek ʼn sussie vir ons boetas. Soos enige man is ek maar te gewillig om haar te help, maar wat nou gemaak met Sondae by Pa en Ma? Ek sien al hoe my Sondae se voordele by die voordeur uitkruip. Ek en Liefie begin met groot ywer werk om haar swanger te kry, maar dit voel my ons het skaars begin toe sy my inlig sy het gekry wat sy soek. So ʼn paar maande later het ons toe ook nog ʼn melksuiertjie, en die keer is dit een sonder ʼn geweertjie, net soos Liefie dit wou hê! In die tyd wat volg delete ek my wekker van my selfoon af (geen mens met drie babas het ʼn wekker nodig nie), ek vergeet hoe om Sudoku te speel, en ek besef ek betaal ver te veel vir DSTV se middernagtelike herhalings! Ons mis twee Sondae voor ons die derde Sondag na Sussie se geboorte met ʼn magtige pakkaas voor my ouers se hek stop. Voor ek kan toeter blaas gly die hek oop en die verwelkomingskomitee bestorm ons met ope arms van die voorstoep af.
Ons mis amper middagete so lank vat ons om alles afgepak te kry, maar einde ten laaste sit ek met ʼn lekker (oorlopensvol) bord boerekos in my hande, Pa het vir boetie, Ma het vir Sussie, en Liefie en Ouboet eet saam uit dieselfde bord. Oupa is so besig om boetie se bottel van die grond af op te tel hy kry skaars kans om te eet. Ek begin ook vermoed dat Ouboet wetenskaplik aangelê is, en dat hy eendag iets gaan doen waar eksperimente ʼn groot rol speel, want elke nou en dan kyk hy wat gebeur met sy kos as hy dit teen die mure en plafon gooi. Dit smaak my die knaap gooi sy kos met Olimpiese standaarde soos Oupa ʼn ophef daarvan maak tussendeur die bottel optellery. Ma sit net en “ai-ai” terwyl sy Sussie probeer rustig kry. En ek? Ek vat so stilletjies nog ʼn aartappeltjie of stukkie skaapribbetjie as niemand kyk nie. Ai, wat is nou beter as ʼn Sondagmiddag by Pa en Ma?
Nou moet Liefie wragtag net nie wéér gaan staan en swanger word nie!




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed