Stefan se konfytwinkel
Stefan se konfytwinkel
Brons
890 woorde
Toe die kis in die grond afgesak word, raak dit eers vir Stefan ‘n werklikheid en toe hy heelwat later die begraafplaas verlaat, staan hy verslae, eenkant buite – alleen. Die eerste maal in ‘n lang tyd is hy werklik alleen. Hy ry nie dadelik huis toe nie, want die finaliteit tref hom nou eers. Sy bruid, sy eggenote en metgesel van die afgelope drie en dertig jaar is pas te ruste gelê en saam met haar ‘n leeftyd se herinneringe. En vanaand gaan hy alleen huis toe. Saam het hulle jare gelede hulle eie besigheid begin, klein, somaar so uit hulle kombuis uit. Saam het hulle drome gedroom, planne gemaak, sukses bereik en die besigheid sien groei. Saam het hulle vir ‘n groter plek gespaar, die winkel gekoop en toe aan hulle aftrede begin beplan. Elke oggend se vergadering, se beplanning, se vooruitskatting. Elke dag se saam koffiedrink voor belangrike besluite geneem word en die harde werk begin word. En elke aand se saam “opcash” en toesluit voor hulle huis toe gaan. Niks daarvan het hy alleen gedoen nie. Hulle was vennote. Sy het die konfyt gekook, haar eie unieke suksesresep. Sy het die bestellings geneem en die besigheid bemark. Hy het die etikette op die botteltjies geplak, dit verpak en versend en seker gemaak elke rekening is betaal, elke bestelling is afgelewer en elke klant is tevrede. Oor elke uitgawe het hulle saam besluit, elke aankoop het hulle saam oorweeg en elke mylpaal het hulle saam gevier. En hulle het reeds besluit waar en wanneer die aftrede gaan gebeur.
En nou moet hy, na vandag, die fabriek en besigheid se deur alleen oopskuif, alleen besluite neem, alleen beplan, alleen koffiedrink, alleen voortbou op die suksesse van die afgelope paar jare. Alleen sal hy saans moet toesluit en huis toe gaan, alleen sal hy moet aftree. En niks gaan ooit weer dieselfde wees nie. Want Maré is nie meer daar om te help met die besluitneming nie. En vir die eerste keer in drie en dertig jaar is Maré nie meer deel van sy beplanning nie.
Stefan-Maré. ‘n Naam waarop hulle destyds saam besluit het, want dit was nie háár besigheid nie, dit was hulle besigheid en dit is die naam wat al vir jare die tuisnywerheid bemark het, wat hulle sukses bepaal het. Dis op die vensters, op hulle motor se deur, op elke botteltjie konfyt, op hulle besigheidskaartjies, ‘n handelsnaam wat hulle van die grond af opgebou het, hulle nuwe begin saam. Almal ken die Stefan-Maré konfytreeks. Oornag het hulle bekendheid verwerf. En nou, na drie en dertig jaar is dit nou Stefan-Maré sonder die Maré, ‘n tuisnywerheid sonder iemand wat bak, wat inlê, wat kook. Hy kan seker ‘n ander vennoot inbring, iemand oplei om Maré se plek te neem, maar sal dit ooit dieselfde wees? Haar uniekheid, haar aanslag, haar persoonlike stempel en elke druppel liefde wat sy saam met elke botteltjie gestuur het?
Vir drie weke is die besigheid se deure gesluit, want daar moet nuut gedink word, herbesin en herbeplan word en aanpassings moet gemaak word. Maar nog ‘n verdere paar weke later is die besigheid in die mark, want Stefan-Maré sonder Maré is nie dieselfde nie. Stefan verkoop die laaste paar botteltjies konfyt sonder entoesiasme, sonder die tikkie liefde waarmee Maré dit altyd gedoen het. Geen nuwe bestellings, geen nuwe klante, geen nuwe resepte en eksperimente, want die nuwe eienaars het ander planne en ander idees. Hy gaan saans huis toe, alleen en sluit oop alleen en toe hy daardie laaste dag die winkel se deur toetrek, doen hy dit ook allleen. Daar rol ‘n traan oor sy wange. Hulle winkel wat nou ander se winkel geword het, want Maré het ‘n ander beplanning gehad.
En Stefan begin ‘n nuwe besigheid, iets anders, iets heeltemal anders en op heeltemal ‘n ander plek. Alleen. Hy begin ‘n pendeldiens, alleen. Hy vervoer kinders, alleen. Hy vervoer bejaardes, alleen. Hy vervoer pakkies, alleen. Hy doen enigiets om besig te bly, maar hy werk alleen. ‘n Nuwe blyplek, ander motor en heeltemal ander omgewing. Alles nuut, maar ook so anders. So af en toe, wanneer hy tog in die omgewing kom, ry hy nog by die winkel verby, die winkel wat nou ‘n ander naam het, ander eienaars het en ander goed verkoop en ook heeltemal anders lyk, die winkel wat aanvanklik hulle nuwe begin was en nou iemand anders se nuwe begin geword het. Die nuwe winkel. Maar ‘n nuwe begin is nie noodwendig ‘n beter begin nie. Die spreekwoord lui nie verniet : Ou bome word moeilik verplant.
Hoe begin jy nuut as die lewe by jou verbygegaan het? Hoe begin jy nuut as alles wat jy ken verander het? Hoe begin jy nuut as daar niemand is om saam met jou nuut te begin nie? Hoe doen jy dit?
Ook vir Stefan tree die ouderdom in en die aftrede wat hy en Maré so lank beplan het. Die nuwe begin in die aftree-oord wat nie deel van hulle beplanning was nie, die nuwe vriende, nuwe roetine en weer ‘n nuwe omgewing, ‘n omgewing wat ook nie deel van hulle beplanning was nie. En nuut is nie altyd beter nie. Nuut vra aanpassings, opofferings, uitdagings. En na ‘n rukkie is die nuut ook nie meer nuut nie.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir JANUARIE 2026 – NUWE BEGIN projek