Sterrekyk
Jare gelede het jy beloof jy gaan my eendag weer kom haal
jy sou inry op ʼn groot wit perd met sieraad, fleur en ʼn glinster saal
ons sou dans deur die sterreryk, duik oor golwe van silwer en goud
met die Suiderkruis die hemel uitmeet en die geheim van die heelal ontleed
jy, die supernova wat ʼn konstelasie kan verlig; oranje en pers, yster en uraan
ʼn sterrestelsel in jou hand—die kosmiese kunstenaar
jou kaleidoskoop van kleur sal aan ons liefde vlerke gee
en saam met die nagtegaal sal ons stemme in die uitspansel verdwaal
na orion sal ons swem, op sy gordel sit en staar
vir Jupiter aanpor terwyl hy deur die sonnestelsel maal
die maan sal vir ons oogknip, jy sal hom terg tot trane uit sy kraters vloei
en sy wange sal bloos as my lippe hom troos
maar daardie jaar toe jy beloof het om my eendag te kom haal
kon ek nie droom vir ons sterrekyk gaan jy met jou lewe moet betaal
soos die krag van ʼn komeet; die slag was woes en wreed!
ʼn hemelse ontploffing; die kunswerk wat my siel wegvreet…
die glorie van die sterke jagter word ʼn geveg tot die dood
die swaard nog styf aan hand, die haas met min verstand
gebore net nog ʼn siel wat skitterend verskiet
net nog een ster wat verdwyn het in die kosmos se niet
ek onthou nog toe jy gesê het jy gaan my eendag weer kom haal
die melkweg loop al oor van al die beloftes reeds verval
jou gedagte strek al verder—amper anderkant die son
en ek weet; nimmer-nooit-nie meer gaan jy terug na my toe kom
al sprankel wat nou oorbly in die donker van my nag
is ʼn statige wit perd met ʼn leë silwer saal.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Februarie 2024 - Dolos projek