Te dronk om te raas
Eie aan sy aard en die toegewyde skoolhoof wat hy is, het hy in meer as ‘n dekade nie een dag siekverlof geneem nie.
Toe hy uit die bloute aankondig dat hy die volgende dag nie by die werk gaan wees nie omdat hy toetse onder narkose moet ondergaan, het ‘n graad een onderwyseres besluit om die kans met albei hande aan te gryp. Twee belhamels in haar klas moes ‘n les geleer word.
Net na tweede pouse die volgende dag het sy hulle na die skoolhoof se kantoor gestuur met die opdrag om raas te kry.
Voordat die tweetjies by sy kantoor opdaag het die hoof en sy vrou onverwags by ontvangs ingestap. Hy was doodsbleek en onvas op sy voete en het na sy kantoor koers gekies.
Sy vrou het gespanne verduidelik dat hy nog in die hospitaal moes wees. Kort nadat hy uit die teater gekom het, het hy vertel van ‘n dokument wat hy op sy tafel vergeet het. Dit kon nie hoër of laer nie, hy moes dadelik ontslaan word en hierdie dokument kom haal.
Net nadat die hoof in sy kantoor ingestrompel het, het die twee graad eentjies langs hom kom staan. In hulle kinderlike onskuld het hulle vertel dat Juffrou hulle gestuur het om raas te kry omdat hulle stout was. Die hoof het lomp verduidelik dat hy dronk in sy kop is van die narkose en gevra hulle moet die volgende dag terugkom.
Hy het by sy vrou aangesluit en gery. Die twee belhamels is terug klas toe.
Met hulle terugkeer het Juffrou doodernstig gevra wat Meneer te sê gehad het. Opreg eerlik het die een geantwoord: “Meneer het gesê ons moet môre terugkom, hy is vandag te dronk om met ons te raas”.
http://152.111.11.6/argief/berigte/volksblad/2016/02/03/NK/nkkarinrubriek_25_0_52733053.html
4 Kommentare
-
Anze
hehehe.. kostelik!!!
-
Koekekranka
Inderaad kostelik!
-
Evelyn van der Merwe
Ek sien dit voor my geestesoog afspeel. Goed gepen.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Karin is dit nou lekker om van jou te hoor en weer n lekker lees stukkie van jou te lees