HARDE BED
HARDE BED –
Hulle is al ure lank besig met hom. X-straalfoto’s en nimmereindigende toetse en nog wat. Intussen word sy liggaam verteer deur pyn. Twee inspuitings was nie genoeg om die pyn te verdoof nie.
Die bed waarop hy lê, het ‘n metaalblad. (Om een of ander duistere rede móét dit metaal wees). Hy weet nie meer in watter posisie om te lê nie. Hy sug en steun. Vireers het hulle hom gelos om …. om te wat? Is hulle besig om die een of ander toets wat hulle uitgevoer het, te toets?
Ma, kan ek nie maar in die wagkamer op die sagte bank gaan lê nie? Hulle is mos nie nou besig met my nie? Die woorde kom moeilik. My hart gaan uit na my kind. Ek gaan doen navraag.
Nee, hulle sê jy moet hier bly.
Ai, waarom talm hulle tog so? Ek vryf sy rug. Ek probeer om hom gemaklik te maak. Maar hoe – op hierdie kale ysterplaat van ‘n bed? Wanneer hy van nie-meer-weet-hoe-om-te-lê nie, ‘n rukkie regop sit, sit ek langs hom om hom te stut.
Hy kry koud. Ek gaan vra ‘n kombers. Hulle bring twee. Ons plaas een, dubbeld gevou, onder hom. Die ander een trek ek tot dig onder sy ken. Hy moet nog ‘n halfuur wag voordat hulle weer met hom werk. Hy dut ‘n bietjie in.
My gedagtes gaan na ‘n ander moeder en Seun. Hy het aan ‘n kruis gehang. Sy liggaam was uitmekaar geskeur. Hy wou niks neem om die pyn te verdoof nie. Sy moeder kon niks doen om Hom gemaklik te maak nie. Sy kon nie sy liggaam teen hare laat aanleun nie. Sy kon nie ‘n skerm vra om Hom teen die son te beskerm nie. Sy moes net staan en kyk ….
Maria, jou moederhart was uitmekaar geskeur. Maar sy hart was verskeur oor jou en my.
Dit was vir óns wat Hy moes ly.
8 Kommentare
-
-
Anze
Kosbaar!!! Dankie Annamarie
-
Koekekranka
Diepsinnige stukkie wat maar weer eens tereg beklemtoon hoeveel ons aan ons Verlosser en Saligmaker te danke het. En dit maak my skaam kry oor die afskeeptydjies wat ons aan 'dankie-sê' spandeer...
-
Evelyn van der Merwe
Pragtig inspirerend gepen.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Arnold
As Hy nie vir ons gely het nie, het ons as mens nog steeds in die donkerte rond getas.