voorspieël (Goud)
voorspieël
so op die heup van ’n sonskyndag
in vroegherfs
wil ek weer skilpadpos toe loop
met die reuk van ryp fyntwa in my neus
en hul sade soos stringetjies krale
deur my vingers vleg
ek wil ’n deken oopsprei onder ’n witgat
op sand sag geweek deur reën
en kyk hoe die son se geelkoperoog
die horison laat tril
ek wil hoor hoe koringvoëls
om hul slordige neste raas
en sien hoe ’n trop bokke
teen die noordewind op wei
ek wil my oorgee
aan die vrypostigheid van die veld
met al sy goedheid en guns
wat vrede na jou oë toe bring
en ek wil luister na jou bekende voetval
soos jy van bos na bos stap
vir noeniebosbessies
voordat jy dit soos ’n kleinode
in my handpalm neerlê
dan wil ek ’n heilwens uitspreek
oor jou en die veld, die plante en diere
en voorspoed afbid op ons grond
terwyl ons saam wag vir die aandster
© Hester Steenkamp
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Junie 2025 – PIEKNIEK projek