Jongste aktiwiteit:

VRYHEID IN VROUWEES

VRYHEID IN VROUWEES
(brons)

Vryheid – ‘n konsep wat ons dikwels as vanselfsprekend geag het. Onlangs het die inperking van die pandemie ons kom leer dat dit eintlik ‘n voorreg is. Wel van toepassing op baie verskillende aspekte in ons lewens – sit en dagdroom ek vandag oor wat vryheid presies vir ‘n vrou beteken.

In die oertyd was jou bed klaar vir jou opgemaak – jy was ‘n huisvrou, onder die gesag van jou man. Hard werk het jy beslis, maar in en om en aan jou huis en huishouding. Jou lot was vir jou bestem, soveel so dat daar by tye selfs nie eers vrye wil was in groot lewenskeuses. Dinge soos watter beroep jy wil aanpak, of dalk selfs met watter man jy sou trou, was buite jou beheer.

Versnel vinnig ‘n paar dekades vorentoe. Vroue het opgestaan teen die gebrek aan vryheid in hulle lewens. Daar is talle verskeie aktiviste rakende sake rondom vryheid in vrouwees.

Heel bo op die skaal sal ek die kwessies plaas wat wêreldwyd bekend is. Of omdat dit daar iewers gebeur, of oor die kontroversie wat dit veroorsaak wat nuusopskrifte haal regoor die land. By sommige van hulle respekteer ek dat vrouens se drome, visies en einddoele van hulle lewens verskil. Dus die verskil van beroep en dryfkrag. Van hulle is in my oë natuurlik effe waansinnig (of selfs totaal absurd). Onder andere is die volgende die bekendes.
1. Vroue wil sien dat mede vroue in hoë mags- en gesagsposisies moet uitblink. Om goed te presteer in die werksomgewing is bloot nie meer goed genoeg nie. Vroue wil graag as die top besigheid presteerders van die jaar uitgewys word, en dit dikwels bo mede manlike geslag werknemers. Om uit te blink is nie genoeg, hul moet spesifiek bo die manne uitblink.
2. Vroue oor die wêreld wil aborsies wettig laat verklaar. Dit word glo gesê dat dit hulle liggame is en dus ook hulle vrye keuse hoort te wees. Hulle soek al hoe meer rede om dit te druk en te dryf – vir meer redes as van tevore, vêrder swanger as van tevore.
3. Geslag uitkies het ook ‘n nuwe mode geword en is ook pertinent onder die vroue. Dit word so ver gevat dat vrouens nou in sekere kontinente kan kies of hulle hul kinders se geslag wil aandui as manlik, vroulik of geen – om dan ruimte te laat vir die kind om self eendag te kies of hy/sy ‘n man of ‘n vrou wil wees.
4. Feminisme. Aktiviste vir feminisme. ‘n Wêreldswye beweging wat vrouens bekragtig om vroue-bevordering aan te moedig. Dit wil sê dat daar nie rolle of posisies mag wees wat eerder net aan ‘n man toegewy mag wees nie. Die wêreld moet ‘n vroue vriendelike plek word vir vordering en bevordering van – wel… vroue.

Op die middelskaal vlak sal ek die tweede kwessie plaas waarmee meeste, indien nie elke vrou (veral getroud of met kind/ers), worstel of al geworstel het. Hierdie kwessie plaas ek ook onder vryheid kwessies, of die gebrek aan dit. In ‘n sosiale media gedrewe wêreld is dit baie makliker as van tevore om jou opinie te laat hoor. Dikwels is mense dus geskeer tussen wat werklik reg of verkeerd is tussen die volgende twee. Mense se opinies en menings ontneem vroue hier van hul vryheid.
1. As jy ‘n mamma of vrou is in ‘n korporatiewe wêreld, word jy vinnig afgemaak as ‘n sleg vrou, en veral ma van jou kinders. Jy presteer watwonders op die vlak, maar mense is van mening dat jy nie tyd het vir jou man of kinders nie, en dat jy net ander betaal om jou huishouding te laat funksioneer omdat jy self nie kan.
2. As jy ‘n tuisbly mamma is wat by die huis bly, word jy vinnig afgemaak as ‘n baie lui vrou – met tekortkominge aan visie en satisfaksie met ‘n heelwat medioker leefstyl. Jy is sleg omdat jy jou man hard laat werk, asof jy niks doen vir jul nie. Want die kinders word mos vanself groot, die huis vanself skoon en die kos vanself gaar.
As ‘n vrou in vandag se samelewing voel dit soms of jy ‘n punt bereik waar jy net nie kan wen, want wat ook al jy kies – jy bly sleg in ‘n goeie paar se oë.

Boonop dit alles is daar struweling wat vryheid in vrouwees ook uitdagend maak, al is jy nie groot in die korporatiewe wêreld nie of ‘n bekende op sosiale media, of iewers in die rotteresies bedrywig saam die res van die vroue nie. Ma-wees het selfs sy paar kwessies wat ‘n vrou se vryheid om haar instink met gemak te volg moeilik maak. Dikwels betwyfel jy jouself of jy die beste doen of gee vir jou kind. Om net ‘n paar te noem.
1. Borsvoed of formule melk?
2. Tuisonderrig of skoolgaan?
3. ‘Huggies’ of ‘Pampers’?
4. Spuite of nie-spuite?
5. Bietjie bederf of 100% strengheid?
6. Oorbelle jonk of oud?
Maak nie saak watse een jy kies, daar is altyd die wat hul mening of opinies sal uitlaat en vryheid in net ma wees en instink vertrou en volg sal belemmer.

Ek hoor dikwels mammas wat kla terwyl hul smag na ‘n bietjie alleen tyd weg van die kinders. Baie van hul is glo opsoek na hulself, of wil net weer onthou hoe dit voel om hulself te wees. Hul soek vryheid. Hul koppel selfs daai vryheid aan hulle innerlikste menswees. Ek glo wel dat die nuwe ek gebore was saam my dogtertjie, en dat ek myself toe eers gevind het. Die nuwe ek is dalk wie ek nog altyd veronderstel was om te wees, minus die woord vryheid (met ‘n amper tweejarige vergeet mens soms wat dit eintlik beteken).

Nes ons onlangs deur inperking soos kluisenaresse gevoel het in ons eie tuistes, laat voel die lewe ons dikwels soos kluisenaresse in ons eie menswees. In ons eie vrouwees. Soms is dit selfs net jou gedagtes wat jou inhok. Soms is dit ander se verwagtinge of opinies. Soms sommer net die mening of siening van die wêreld oor sekere van jou privaat sake.

Nou kom die miljoen dollar vraag. Wat is vryheid in vrouwees dan presies, of altans – as jy ‘n tekortkoming daaraan het, waar presies vind jy jou vryheid in jou vrouwees identiteit?

By die Here en by Hom alleenlik sal ons ons vrede in vryheid vind. In ‘n wêreld vol struwelinge kan ons vryheid vind bloot deur te begin deur Hom aan te roep.

Psalm 118: 5-6
Uit my nood het ek die Here aangeroep; Die Here het my geantwoord en my vrygemaak. Die Here is aan my kant; Ek sal nie vrees nie. Wat kan mens met my doen? (ESV)
Na bekering met Geesvervuldheid beleef ons Sy genade deur hoe hy ons weerhou van temptasie. So kan ons in Sy duurgekoopde vryheid vir ons begin wandel.

2 Korintiërs 3:17
Nou is die Here die Gees, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid.

Ons moet ons vryheid ten goede benut en deur dit liefde aan ander betoon. So kan ons ook die vryheid wat ons ontvang het uitdeel.

Galasiërs 5: 13-14
Want julle is geroep om in vryheid te lewe, my broers en susters. Maar moenie jou vryheid gebruik om jou sondige natuur te bevredig nie . Gebruik eerder jou vryheid om mekaar in liefde te dien. Want die hele wet kan opgesom word in hierdie een opdrag: “Wees lief vir jou naaste soos jouself.” (NLT)

Vryheid in vrouwees se kernkrag lê in ons geloof en liefde vir die Here en of ons Hom aanroep, innooi en Hom laat leef deur ons. Vryheid van wêreld en mensdom se opinies. Vryheid van jou eie keuses wat jou jaag. Vryheid van twyfel of jy goed genoeg is of doen – want by Hom is jy. Jy is so genoeg dat Hy jou vrygekoop het en jy nou in Sy vryheid kan wandel.

©️Tania Pascheka
30/06/2020

(1330 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed