Waar sal ‘n slang se hart dan sit?
Hierdie storie kom uit dieselfde geweste waar Herman Charles Bosman sy oom Schalk Lourens gaan staan en volksbesit maak het. Dieselle jare se kallers het glo erg hok gespring met hulle se vertellinge oor wat toe was en nou vir vele van die jongergeslag (wat alreeds op hulle beurt weer die ouergeslag geworre het!) wolle-rig mag klink, maar teen die gevaar in dat sulke storietjies dalkies die brug onder-deur sal spoel en so vir altyd verlore mag raak, voel ek my geroepe om die een en die ander daarvan so met verdrag en na genade van onthou betyds die leivoor uit te keer…
Oom Hennerik van Klawerstroom het destyds te vertelle dat toe hy nou so skraps voor die rooihakskeenjare al beginne rammetjie raak het, toe seg sy ou Vader hom aan om die ou pom-pom te gaan loop en uithaal uit die soller voordat hy dalkies te erg roes en te gaan loop en kyk of hy nie ʼn koedoe af wat-ook-al na die rante se kant toe kan raakloop nie. Nou seg hy darem ook by dat sy ou pa gladnie te danig was om sommer net die ou geweer se patrone te vermors nie, daarom, seg hy, seg sy pa vir hom hy moet nie mors met die goed nie en toe stop hy sonner meer net een enkelte patroon in sy hand en laat hom koersvat.
Man ja, seg oom Hennerik, sowat van hitte die dag het hy sy ganse lewe toe en daarna nog nie weer belewe nie! Hy seg hy’s gewillig om op die Boek te sweer dat die tarentale so staan-staan- onner die koeltebome staat en gaar brand het. Onge-lukkig, so verhaal hy, die vleis sou geen christenmens kon eet nie want jy kon sommer al van ver af sien dit is onheilig en onrein verbrand en dat dit jou kanse om redding vorentoe erg sou verskraal sou jy dit dan in moedswillige sonde tog wou eet. En seg hy, dit was buitendien tot houtskool verbrand…
Ewenwel, seg oom Hennerik, toentertyd moes kinders maar nog skelmpies ge-rook het en so sukkel hy toe maar sy selfgemaakte wegsteekpyp elders uit ʼn sak uit, maak dit brand en so al lopende en al rokende loop hy nou en soek na die koedoes. Spore het hy maar eina kon kry seg hy, want die son, nie die wind nie, het die meeste spore al doodgebrand, en om so in die hitte uit die hel ʼn stilstaan-de koedoe raak te wil sien is moeiliker as om heilig te wil lewe want koedoe se kind adverteer mos nie, hy kamoefleer mos so goed jy sal wragtag op sy kloutjies trap sonner om hom raak te sien! Hy seg nee-wat, hy besluit toe om maar so in die droëlopie terug te loop huis toe want hy is boonop ook nie lus om nog ʼn half-gaargebakte koedoe saam te sukkel nie. Maar, seg Oom Hennerik, toe hy so wil-wil die walletjie na die droëlopie afsak, toe bespring ʼn ding hom hier uit ʼn rietbos op die wal, slaan skoon sy pyp uit sy bek, die pom-pom skoon uit sy hanne en homself dat hy doer op sy sterre te lande kom met sterre sommer oral in sy kop en om hom. Mens, seg hy, mens mag so ʼn gevoelte van angs en vernedering soos wat ek daar langs daardie rietbos beleef het mos vir geen mens maak verstaan nie! Ek leg nog so op my rug en sterre sien toe val dit my by van die pom-pom en ek sien toe dit lê darem weg van die rietbos se gevaar af en, nie wetend wat se bosinnelike of ondermaanse aanvallende wreedheid in die rietbos wag nie, gryp ek die geweer en beskerm myself. Ek loer en bekyk en loer en bekyk, maar die ondier lê laag om nie sommer so raakgesien te worre nie en dan versekerlik om my weer aan te val en te oorrompel. Maar jy moet darem weet, hierdie oompie van jou was ramkat daardie dae en heel skaflik met die vuiste en so-aan en met geen inkelte haar van bangigheidjie op die kop nie. Ek loop so al om die rietbos, hou wal se kant, want mens soek mos nie moedswillig na moeilikheid om laer as jou vyand te wil gaan staan en verdedig nie nee, jy bly darem verstandig op gelyke grond! Ja, en nefie, toe sien ek hom en skiet hom dat sy kop helemaal in twee splyt, morsdood! Altans so het ek gedag totdat ons hom met die bokwa gaan laai het omlat hy nie op die kapkar sou pas nie en ons toentertyd net hierdie twee ver-voergoedjies gehad het weens die Groot-Oorlog en die Depressie van dertig.
Pa was natuurlik eers beswaard oor die patroon wat ek op die ding volgens hom sou gemors het, maar toe ons hom teen die ou kameeldoringboom so afslag-afslag opgekatrol het, totdat die hele vel oopgesprei op die grond gelê het, was pa darem ingenoë oor die vooruitsig om die vel aan ou Lewies van die looiery te gaan ver-kwansel want luislangvel was toe so in aanvraag daar in Amerika se kontrei dat jy amper kon prys maak soos wat jy lus het! En, seg oom Hennerik, die volgende oggend toe hulle die afgeslagte luislang vir die bure wou wys (Wat toe ook al reeds gehoor het dat dit dieselfde slang was wat vir Adam en Eva so belieg het in die pa-radys maar deur die jare baie groter gegroei het!) toe is die slang mooitjies skoon-veld, weg! Net sy bloederig sleepsel kon so vir ʼn myl of wat gevolg word voordat die son dit ook doodgebrand het. En, seg oom Hennerik met beklemtonende na-druk en selfverheerlikkende wysheid dat hy toe onweerlegbaar bewys gesien het dat ʼn slang se hart in sy stert moet sit soos wat sy ou Vader hom kleintyd al verse-ker het, want sy kop was mos verbrysel en hy’t self al die binnegoed verwyder!
8 Kommentare
-
-
Toom
Oulik! En sulke stories móet ja behoue bly. Dankie. GvT
-
Viooltjie
Hehe, oulike storie, baie goed vertel :-)
-
Okatopi
Ja nee dis nou n lekker storie :-)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Ek het hierdie storie sommer baie geniet