Latest Activity:

Wanneer hartseer ‘n gewoonte word.

(Woordtelling 1504)

Ons koppel gewoontes gewoonlik aan iets soos om altyd in ʼn spesifieke stoel te sit, op dieselfde kant van die bed te slaap, jou koffie links om te roer, om jou tande voor of na ete te borsel. Selfs irriterende gewoontes soos die byt van naels, of om nie te kan praat sonder om ʼn string vloekwoorde te gebruik nie, word vinnig en ongesiens deel van jou lewe. Mens dink selde daaraan dat pynlike emosies uiteindelik ook outomatiese reaksies, gewoontes of selfs ‘n verslawing kan word, soos woede, skaamte, bekommernis, skuldgevoelens, en selfs hartseer.

Enigiets wat mens lank genoeg onbeperkte vryheid in jou lewe gee, word ʼn gewoonte. Jou brein vorm vinnig paadjies sodra wanneer ʼn sekere stimulus jou pad kruis, jou reaksie eintlik altyd dieselfde is. Die ergste is dat indien jy nie eens daarvan bewus is dat jy ʼn gewoonte of outomatiese reaksie op sekere gebeure het nie, en dat jy dit kan verander nie, sal dit ‘n permanente deel van jou lewe word. En om te dink dat hartseer ooit ʼn gewoonte of verslawing kan wees, klink heeltemal onlogies, nie waar nie? Wie wil dan ooit in ʼn permanente toestand van hartseer verkeer wanneer dit verseker hoogs ongemaklik moet wees? Heel waarskynlik “kry” die persoon dan ook iets uit so ʼn situasie, hetsy dit ekstra aandag of simpatie is. Dit mag bewustelik wees, of dalk nie.

Sommiges weet net nie hoe om uit hul huidige emosionele toestand weg te breek nie, en het ook nog nie tot die gevolgtrekking gekom dat sy gedagtes die basis van elke ondervinding vorm nie. So ʼn persoon word in ʼn emosionele siklus vasgevang wat bestaan uit woede, selfbejammering, martelaar speel, magteloosheid, ander die skuld gee vir sy probleme, die weiering om na sy emosionele gesondheid om te sien, of om verantwoordelikheid vir sy emosionele welstand te neem. Of mense onkundig of bloot net onwillig is, is debateerbaar.

Om op ʼn daaglikse basis met talle mense te werk wat deur ʼn tydperk van rousmart gaan, begin jy gou agterkom wie weer hul lewe een of ander tyd op dreef sal kan kry, en wie nie. Die mense wat die meeste sukkel, het gewoonlik die gewoonte om ander te blameer waarom hul lewe nie uitwerk soos dit “moet” nie. So ʼn persoon is altyd op soek na ʼn eksterne rede waarom hulle nie hul hartseer kan verwerk nie, en enige rede mag geldig wees. Soms is dit doodeenvoudig ʼn blok wat die persoon vir homself skep en dit sal nie verander totdat hy dit besef, en bereid is om iets daaraan te doen nie.

Soms is dit bloot net makliker om in ‘n toestand van voortdurende hartseer te verval, want om emosioneel weer sterk en gesond te word, verg vertroue en harde werk. Niemand kan immers ‘n blywende verandering aan jou gemoedstoestand maak behalwe jyself nie. Onbewustelike hou so ‘n persoon van die resultaat wat hierdie ewigdurende hartseer bring. ʼn Slagoffer van die lewe hou van bejammering, simpatie en die aandag wat daarmee gepaard gaan.

Die rol van die kerk skep ook dikwels ʼn vrugbare teelaarde vir die feit dat mense nie hul traumas verwerk nie. Daar word jy aangespoor om “al jou probleme en hartseer vir Jesus/God te gee, en alles sal regkom”. Jy hoef niks te doen nie. Gee net jou probleme aan die Almagtige God, en sit terug en kyk hoe Hy dit vir jou regmaak. Die kerk hou ons doelbewus blind – waarskynlik omdat hulle dit ook self glo en nie besef dat mens nooit van jou probleme kan weghardloop nie. Dat jy dit nie kan oorskuif na Iemand anders, en jou lewe daarna volmaak gelukkig sal wees nie. Speel net ʼn CD met lofliedjies en jy sal gou beter voel. Dit beteken, deur aandag te gee aan jou hartseer gaan jou net ongelukkig maak. Kom ons luister eerder na mooi liedjies en dan vergeet ons hoe ons voel.

En dan wonder ons waarom die wêreld in soveel pyn is. Jy kan dalk nie kies wat met jou gebeur nie, maar jy het verseker ʼn keuse in hoe jy daarop gaan reageer – veral op die lange duur.

Dit is veral opmerklik hoe maklik ʼn persoon ʼn skuldgevoel sal ervaar wanneer hy vir ʼn enkele oomblik gelukkig voel. Hy weet dat die hartseer nie sy geliefde terug sal bring nie, maar dit is makliker om hartseer te wees, en dit is verséker makliker as om al daardie pynlike emosies te verwerk. Dit is asof hy verwag dat ʼn oomblik van geluk beteken dat hy bly is dat sy geliefde dood is.

Maar is dit moontlik om te leer hoe om gelukkig te wees? As jy eers verstaan dat gewoontes net outomatiese reaksies is, en dat elkeen die vryheid het om dit te verander, dan kan mens die verantwoordelikheid neem om iets daaraan te doen. Hoe jy die wêreld sien en ervaar, is ʼn keuse. Gelúk is ʼn keuse.

Huffington Post het ʼn lys van wetenskaplike bewyse geplaas wat ons leer wat gelukkige mense doen. Hier is ʼn paar voorbeelde:

Glimlag. Glimlag en sê dankie vir die persoon wat jou inkopies in die sak pak. Glimlag vir vriende sowel as onbekendes, dit is tog maklik genoeg, dan nie? ʼn Glimlag laat jou mooier en jonger lyk.
Lag. Wanneer ons lag, verminder ons die simptome van stres, angs en depressie.
Bid. Mense wat aandag gee aan hul spiritualiteit en/of geloof. is oor die algemeen gelukkiger en gesonder.
Spandeer tyd buite. Om tyd in die buitelug deur te bring is nie net goed vir jou gesondheid nie, maar ook goed vir jou siel.
Maak gebruik van ʼn joernaal. Wanneer jy jou seëninge kan tel (en neerskryf), verhoog dit die ervaring van geluk. Deur dankbaar te wees vir wat jy het, verskuif die fokus weg van die negatiewe gebeure in jou lewe. Dit kanselleer nie die slegte uit nie, maar jou fokus verskuif.

Mense wat verslaaf raak aan hartseer het ook ʼn paar gewoontes in gemeen:

Onaktiwiteit. Mense wat onaktief is ervaar hoër vlakke van angs en depressie. Om aktief te wees is beter vir jou geestelike gesondheid. Ons is immers veronderstel om na ons liggaam én geestesgesondheid om te sien.
Sukkel om sosiaal te verkeer. Om sosiaal na ander uit te reik verg energie, en hartseer mense het nie energie nie. Dit word dus makliker om af te sonder as om met ander in kontak te wees.
Ongelukkige mense is dikwels vyandiggesind. Dit is asof so ʼn persoon ʼn ewige wolkbreuk is net wat ʼn plek soek om uit te sak. Hulle raak maklik in rusies betrokke en is meer geneig tot geweldadige optrede.
Hulle is pessimisties. Optimiste se lewens het meer gelukkige voorvalle as pessimistiese mense s’n. ‘n Houding van negatiwiteit trek outomaties slegte gebeure na jou toe aan, wat dan die gevoel van ongelukkigheid verder versterk.
Hulle fokus op negatiewe herinneringe. “Alles” was sleg. My huidige situasie is as gevolg van die feit dat my oupa se plaas in die Anglo Boereoorlog afgebrand, en my ouma in die konsentrasiekamp gevange gehou was.
ʼn Ongesonde dieet. Dit is interessant om te sien hoe die kos wat by jou mond ingaan, ʼn direkte invloed op jou gemoedstoestand het. Indien ons ʼn dieet volg met ʼn oormaat van geprosesseerde kos en baie suiker, maar min vars groente en vrugte, het ons brein bloot net nie genoegsame voedingstowwe om optimaal te kan funksioneer nie.
Die fokus is grootliks op materiële genot en -vervulling. Wanneer die mens sy waarde of geluk heg aan materiële voorwerpe, moet hy altyd die volgende nuwe ding najaag, wat hom dan natuurlik ook net weer tydelik gelukkig sal maak. Uiteindelik word dit ʼn kringloop waarvan die uiteinde altyd ongelukkigheid en ontevredenheid is.
ʼn Ongelukkige persoon sien homself as ʼn slagoffer van die lewe. Tot die dag wat die mens nie verstaan hoeveel inspraak en mag hy in sy eie lewe het nie, sal hy altyd voel dat hy aan die noodlot uitgelewer is. Meestal moet mens eers die gewoonte breek om jouself te wees, voordat daar werklik verandering kan plaasvind.
Ongelukkige mense het dikwels ʼn afhanklikheid aan alkohol. Dit is ʼn maklike en wettige dwelm wat jy by enige supermark van die rak af kan koop. Niemand gaan twee maal kyk as jy ʼn bottel wyn saam met die brood en tamatiesous jou mandjie sit nie. Depressiewe mense het ook dikwels die geneigdheid om hul lae gemoed met alkohol te sus en besef nie dat alkohol ook ʼn depressant is nie.

Om af te sluit, wat kan hierdie kringloop en gewoonte van hartseer verbreek? Om te leer dat jy soveel meer kennis en keuses tot jou beskikking het as wat jy ooit besef het. Om te verstaan dat daar alreeds ʼn onuitputlike bron van geluk binne-in jouself opgesluit lê en jy net die sleutel moet vind om dit oop te sluit. Geen baba word met ʼn toestand van hartseer gebore nie, en niemand hoef so dood te gaan nie. Dit is binne elkeen se bereik om werklik gelukkig te wees, maar dit gebeur nie vanself nie.

Can Sadness Become a Habit?


https://www.bustle.com/p/9-habits-unhappy-people-have-in-common-according-to-science-7702461




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • PJB het n geregistreerde lid geword

  • Ian wrote a new post

  • Amaspoke wrote a new post