Jongste aktiwiteit:

Visvang in die vlakwaters.

VISVANG IN DIE VLAKWATERS
Geskryf deur Fanus Strydom
2763 woorde

Die grondpad van die opstal af dam toe was vêr. Baie vêr. Maar gelukkig afdraende omtrent al die pad. Behalwe vir een vervelige, lang stuk waar dit eindeloos reguit en onophoudelik gelyk voor mens uitgestrek het. Tot by die plek wat gevoel het soos die onbereikbare rant van die aarde se ronde bol. Daar, aan die einde van die ondraaglike lang stuk vervelendheid, met niks anders om te doen behalwe afkyk na die egalige val van jou kaal voete in die stofpad voor jou nie, en dieselfde sonbesie elke tien treë in die gras aan jou linkerkant, het ons halfpad-rusplek genadiglik geduldig gestaan en wag vir ons. Oom Boet se boom. ‘n Reusagtige Wildevy vlakby die nou grondpaadjie aan die regterkant en so paar meter die ruie bosse in. Met takke só hoog die lug in dat ek seker was engele het daarbo iewers saam met die voëls nesgemaak. Of ten minste soms, net vir ‘n kort tydjie, daar in die diep, donker skaduwees tussen die digte blare bietjie gerus op hulle pad terug huistoe die hoë hemele in. In sy welkome vroeg-oggendskaduwee teen die son se helwarm strale, kon ons uiteindelik vir ‘n kort rukkie ons sit kry op een van sy reuse, grondlangse wortels, om asem te skep en ‘n paar slukkies Oros te kry uit die twee-liter bottel in Wim se rugsak. En om die dekselse dubbeltjie tussen my vaalvuil groottoon en die een langs hom uiteindelik vasgevat te kry, versigtig uit te trek en vir eens en vir altyd die ewigheid in te gooi oor my skouer die bosse in.
“Fanus, tel jou visstok op uit die grond uit..!” raas ouboet Wim met my vanwaar hy rusteloos loop en skop-skop tussen die digte blare onder die boom, opsoek na ‘n plek om te grou vir erdwurms. Hy het nooit nodig gehad om te sit vir rus soos ek en Hanlie en Adie nie. ‘n Ware “superman” opsoek na die volgende missie om uit te voer, oppad na ons lang-beplande visvangekspedisie vanoggend, was hy ten volle in beheer van sake; wanneer ons mag stop om te rus, waar om die beste plek te kry om te grou vir erdwurms en wanneer om my te herhinner dat ek nie die punt van my visstok in die grond voor my moet laat vassteek nie.

“Sorry ouboet…” sug ek moedeloos en krap die klonte sand en stukkies gras moedig tussen my dobbertjie en die klein, leë vishoekie aan die punt van my gehawende visstokkie uit. Ek vergeet die heeltyd om die ding se punt hemelwaarts voor my opgelig te hou terwyl ons loop, en elke nou en dan vang ek ‘n sandhaai in die sagte walletjies langs die pad. En as ek stop om te kyk of die skade onherroepbaar ernstig is aan my stok se voosgeskuurde voorpunt, dan moet ek weer hol om op te vang met die die ander drie waar hulle doelgerig en dringend ‘n paar treë voor my aanstoot dam se kant toe. So, vir my was die aankoms by Oom Boet se boom ‘n welkome ruskans en om uiteindelik dringend te piepie agter die ding se wye, donker stam. Daar waar my sussies my nie kan raaksien nie, maar kan hoor hoe die hoognodige straal uit my opgeswelde blaas op die blaarvloer voor my voete neerplas. Voor my op die grond hol ‘n paar onstelde balbytermiere holderstebolder en hoogs ontstoke rond, opsoek na skuilte teen die onverwagse en onwelkome suurreën uit die hemele bo hulle koppe. Ekself trap onrustig heen en weer, al het ek nognie klaar gepiepie nie, om te keer dat een van die monsters nie teen my kaal bene opklim onder my kort broekie in nie. Hulle het nie verniet daai vreesaanjaende naam nie…! Ek sidder by die gedagte en skud haastig die laaste druppeltjie van my tollemannetjie af voor ek hom terugsit in my broek en inderhaas wegvlug van die woedende miere af.
“Ek sit nie ‘n ander hoek aan jou visstok as jy daai een afbreek nie, hoor jy my..?” waarsku Wim my so by the way.
“Ja, ouboet…jammer ouboet…” vra ek plegtig omverskoning en maak die tengerige stokkie versigtig staan teen die dik boomstam langs my. Seker dat die regte punt boontoe wys en die klein, rooi katrolletjie nie naby aan die grond is nie. Net om seker te maak. Hy was maar ongeduldig en kwaaierig met my, maar hy het altyd uitgekyk vir my. Seker maar vroeg al besef ek is nie eintlik uitgeknip vir visvang en sulke goed nie.

“Kom help my soek na wurms…” roep hy my uit my ruskansdrome uit, vanwaar hy vooroorgebuig sit by ‘n gat in die sagte blaarvloer onder die boom. Hy grou behendig met sy hande al hoe dieper tussen die wortels rond, totdat hy ‘n wriemelende, slymnat, pienk erdwurm versigtig tussen die sagte klonte uittrek en veilig in die leë konfytblikkie by sy voete deponeer. Ek gril by die aanskoue van die glibberige wurm en verwonder my aan die weerbarstigheid waarmee die arme ding probeer ontsnap by die bopunt van die blikke uit.
“Hey…keer hom dat hy nie wegkom nie!” waarsku ouboet my en ek druk terstond my hand plat oor die wurm se kop teen die blikkie se opening. Ek voel hoe hy soek na ‘n gaping tussen my oopgestrekte vingers en loer nuuskierig na hom deur ‘n gaatjie tussen my duim en voorvinger. Wonder of die arme ding se boeties en sussies weet dat hy nie weer vandag gaan terugkom huistoe nie, maar iewers langs die dam in ‘n ewe-ongelukkige vis se ingewande gaan beland voor son-onder…
Wim hou trots nog ‘n reuse wurmslang uit na my kant toe.
“Hier’s nog een. ‘n Lekker grote…”
Dit moet die vorige een se ouboet wees, want hy is langer en dikker én blinker as sy kleinboet en hy wriemel met mening om te ontsnap uit my toegeknypte handpalm, oppad na sy tydige bliktuiste toe.
“Oppas dat jy hom nie dooddruk nie! Hulle moet lewendig wees, anders byt die visse nie aan hulle nie…” waarsku Wim my om versigtig te wees met die glibberige slangetjie in my hand. Ek sit hom veilig by sy boetie in die blikkie en gooi ‘n paar blaartjies en ‘n handjievol klam grond bo-oor hulle om hulle te kalmeer en gerus te stel. Maar ek voel klaar skuldig by die wete dat ek deel het aan hulle onherroeplike en grusame lot later vandag…
“Hoekom moet ons met wurms vang..?” probeer ek intree as hulle pro-bono beredderaar, maar ouboet Wim wil nie byt nie.
“Wat bedoel jy…?” vra hy verbaas.
“Ek meen…kan ons nie pap, of mieliepitte, of brood of iets gebruik nie..?”
Vir ‘n oomblik lyk dit of hy my saak ter begenadiging van die veroordeeldes in die blik by ons voete oorweeg. Hy lig een laaste, vet wurm hoog bo sy kop uit en plaas haar onserimonieël tussen haar wriemelende boeties en sussies in die halfvol blikkie. Toe spreek hy die doodsvonnis oor die krygsgevangenis uit:
“Die visse laaik erdwurms. Nie pap, of mielies, of brood nie…”

Aan die anderkant van die boom hoor ek vir Adie en Hanlie giggel oor ‘n onhoorbare meisiekindgrap. Ek was my hande in onskuld oor die ontredderde wurms en klouter oor die boomwortels na hulle toe.
“Wat maak julle…?” wil ek weet, maar besef ek het een of ander geheime gesprek onderbreek.
“Niks…” sê Hanlie en kyk vir Adie. Hulle het mekaar se hare netjjies oorgevleg en is nou besig om veldblomme en blaartjies in mekaar se vlegsels in te druk. Hanlie is geklee in ‘n heldergeel, Crimplene korbroekpakkie wat my ma spesiaal vir hulle vir die vakansie gemaak het. Ousus Adie s’n is Frangipani-pienk en pas mooi by die linte in haar pikswart hare.

“Kom, ons moet gaan. Die son trek water…” gebruik Wim een van Oupa se gereelde gesegdes om gravitas aan sy supermanstatus en onbetwisde leier van vandag se ekspedisie te verleen. Hy begin aanstap onder die koelte uit met twee, grootmensvisstokke oor sy skouer, ‘n rugsak vol padkos en koeldrank en ‘n blik vol verdoemde wurms in sy hand. Ek maak seker my stok se punt wys hemel toe en val gedweë in my vierde, en laaste, posisie in die rangorde in oppad damwal toe.

Die laaste afdraand dam toe is steil en ek moet ligvoets briek-briek oor die dubbeltjies en klippertjies oppad ondertoe. Elke nou en dan wil my visstok se punt weer voortydig visvang in die grond voor my, maar gelukkig pluk ek die ding betyds bo my kop uit, voor Wim kan omkyk en my betrap in my onhandigheid. Voor ons verskyn die laagwaterbrug in die pad, waar die enorme dam se water enkeldiep en spieëlglad oor die pad spoel ander kant toe. Wim kies die beste plek vir ons om vis te vang aan die valkant van die water op die brug, waar dit vêr ondertoe wegtuimel rivier toe.
“Daar…” wys hy vasbeslote met sy een hand in die rigting van die donker waters vêr onder ons. “Dis waar die grotes lê en wag…”
Vir my lyk die afgrond voor ons voete duiseligwekkend onheilspelbaar en heeltemal te onrustig vir wagtende visse.
“Wat van daai kant…?” wys ek oor my skouer na die anderkant van die laagwaterbrug toe, waar Adie en Hanlie speel-speel in die rustige vlakwaters begin rondplons opsoek na klein, verdwaalde vissies. Aan hulle kant, en voor hulle uitgesprei so vêr as wat die oog kan sien, lê die stil, wye waters van die plaasdam rustig en koelblou uitgestrek. Ek is seker daar moet ook ‘n paar grotes lê en wag…
“Nee, net hier…” bevestig Wim en druk sy ekstra visstok in die sagte klei by sy voete in, voor hy begin vroetel in die blikkie na die eerste, ongelukkige wurm om aan sy hoek te ryg.
“Ek weet darem nie…” probeer ek nog eenmaal genade wen vir my én die arme wurms, terwyl ek bietjie verder terugstaan van die steil afgrond af.
“Kom…bring daai stok van jou.” val Wim my in die rede. Sy een dobbertjie dryf reeds vêr onder ons in die onstuimige waters rond opwag vir die wagtende grotes. Ek stap versigtig vorentoe met die visstok voor my uitgesteek. Vang hom amper in die oog met die wapperende hoek aan die punt van my stok.
“Hey, wees versigtig jong..!!” berispe hy my en koes voor die soekende hoek.
“Jammer ouboet…” oorhandig ek dankbaar die moordinstrument in sy behendige vissermanshande.
“Kom…jy moet ‘n wurm aan die hoek sit…” roep hy my nader.
“No ways..!” protesteer ek. Ek het gesien hoe hy ‘n oomblik vantevore ‘n arme, spartelende erdwurm van die anus af deurboor en inryg op die vlymskerp vishoek, totdat die arme ding spartelend en oopgespalk deur die lug gevlieg het diepwaters na sy ewige, onverdiende einde toe…
“Man, kom nou…” dreig hy in my rigting, maar ek weier botweg. Toe hy ongeduldig nog ‘n wurm te voorskyn bring en op my hoek inryg, knyp ek vies my oë toe en gril by die grusame gedagte. Hy kom staan agter my en hou die visstok voor my uit. Toe wys hy my geduldig waar om vas te hou en hoe om die ding versigtig oor my skouer agtertoe te trek vir die gooislag vorentoe…
“Noutoe…” staan hy uit die pad uit. “Gooi hom..!” sê hy en wys na waar sy dobbertjie vêr onder ons op-en-af dryf. Ek buig my rug agter-oor, knip my oë styf toe en gooi met al my mag in die rigting waarheen hy wys. Agter my hoor ek vir Adie gil.

Hoe moes ek geweet het ek moes my katrol op “sluit” gesit het voor ek ingooi? En hoe moes ek geweet het dat my vislyn vêr genoeg agter my uitgeboog het om vir arme Adie sekuur aan die boud te vang die oomblik toe ek vorentoe beur om die ding vir ewig die verte in te slinger..!?

Hoe dit ookal sy, my vishoek het, ongelukkige wurm en al, regdeur Adie se Frangipani-pienk kortbroekie gedring en haar sekuur aan die boud gevang. Met die plukslag vorentoe het ek enige kans van redding, of hoek-uittrek, vir ewig uitgewis. Die ding het dwarsdeur haar boudvel gesteek en, wurm en al, annerkant uitgepeuel met die weerhaak sekuur aan die verkeerde kant van die wond. Blourooi bloed het stadig teen haar bewende bobeen begin afrol vlakwater toe. ‘n Entjie daarvandaan het Hanlie histeries aan die lag gegaan, terwyl ek vir Wim dringend agter my hoor aanplas het oor die brug, om sy ousus te kom red.

“O fôk…!” gil hy terwyl hy die stok uit my hande uitpluk. Dan, teenoor Adie, nou bleekwit en stomstil:
“Staan doodstil, sussie…moenie beweeg nie!” Ek het so groot geskrik dat ek myself net daar op die laagwaterbrug papnat piepie ten aanskoue van almal. Op die anderkanste wal, waar die pad weer sy loop kry teen die bult op, staan ‘n paar verbaasde klonkies hand-voor-die-mond en vergaap hulleself aan die vreemde visvangverskynsel voor hulle aan’t afspeel.
“Jammer sussie…!” probeer ek vir Adie huilerig paai, sonder om presies te weet wat om volgende te doen.
“Dis okey, boetie…” verseker sy my dat sy oraait is, maar ek kan in haar oë, en aan die een, enkele traan op haar wang, sien dat sy jok.
Superman Wim neem in ‘n oogwink beheer van die ongelukstoneel. Hy raas met Hanlie om op te hou lag, gluur my boos aan en bekyk dan die wond aan my ousus se boud eers van díe kant af en dan die ander, voordat hy tot ‘n finale besluit kom:
“Ons moet teruggaan huistoe. Ek kan nie die ding hier uithaal nie…”

Só val ons toe weer in gelid terug die steil bult op terug opstal toe. Op die laagwaterbrug agter ons spoel die verdoemde erdwurms vir ewig uit hulle blikgevangenis die ewigheid in na vêr onder in die donker waters, waar die grotes vir hulle lê en wag. Noodgedwonge is daar egter nou ‘n effense verandering in ons rangorde: Hanlie stap haastig vooruit, want sy kan nie wag om vir die ander te vertel wat gebeur het nie. ‘n Kort entjie agter haar loop Wim met sy arm beskermend op sy arme, gevange, ousus Adie se skouer om haar gerus te stel en by te staan. Ek volg op my gewone plek, vierde in die ry, met my gehawende visstokkie krampagtig in my swetende hande vasgeklou. Sy punt versigtig en sekuur in die lug gelig, om seker te maak die vislyn wat aan die hoek vas is wat in my ousus se boud vesgeklem is trek nie onnodig styf en vergerger haar ellende nie. Ek durf nie eers afkyk na die klippe, of die dubbeltjies op my pad huistoe nie. Ek fokus net my aandag onomwonde op die punt van my lyn waar hy onder ousus Aad se Frangipani-pienk broekie in verdwyn…

Ons stop nie eers by Oom Boet se boom om asem te skep, of Oros uit die bottel in Wim se rugsak teen die dors te te drink nie. Die ewigdurende afdraand dam toe het nou eensklaps verander in ‘n nimmereindigende en uitmergelende opdraende terug opstal toe. Selfs die sonbesies was stil om ons en al wat ek kon hoor was die eweredige plofklank van ons haastige voeteval in die stofpad voor ons.

By die opstal het Hanlie reeds die skoknuus van ons visvangtragedie aan die ander oorgedra, en wag almal ons in op die voorstoep. Sonder veel woord, of worstel het Oupa die vishoek afgeknip gekry met ‘n knyptang en versigtig uit ousus Adie se bebloede boudvleis uitgetrek, voordat hy die wond skoongemaak en toegeplak het met beessalf en ‘n groot, pienk pleister. Ouma het reggestaan met bekers vol soet koffie en koeksisters vir die skok.

Ek is genadiglik onskuldig bevind van enige misdaad en die hele insident is as ‘n ongelukkige ongeluk verklaar. Wim was vir ‘n ruk nog vies oor die grotes wat weggekom het díe dag, maar hy het my darem met tyd vergewe en mooi gewys hoe om ‘n vislyn korrek in te gooi: op droë land agter die opstal, en vêr weg van enige onskuldige slagoffers af.

Drie dae later was ons terug op die laagwaterbrug en het hy sy grote kon vang. Ek het egter steeds botweg geweier om wurmmoord te pleeg en myself besig gehou met rondplas in die vlakwater saam met my twee, pragtige sussies in hulle spesiaal-gemaakte Crimplene vakansiepakkies.

Agter op ousus Adie se Frangipani-pienk broekie het Ouma ‘n heldergeel, gehekelde daisyblom vasgewerk op die yslike gat wat my aweregse hoek so onverwags, en uit die bloute, agtergelaat het.

©Fanus Strydom




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed