Jongste aktiwiteit:

Begrafnis konsternasie.

Begrafnis konsternasie.

Linda ril liggies as sy om haar kyk.

Sy HAAT begrafnisse!

Wat nog te sê om een te moet reël.

Die trane rol in sweefspoor paaie teen Linda se wange af as sy na die godverlate hartseersnikke luister in die gedempte lig van die voorhuis. Sy sit half eenkant in die skemerhoekie van die vertrek in haar pa se gunsteling wiegstoel. Sy kyk beurtelings na haar ouma en haar ma wat mekaar krampagtig vashou asof hulle lewens daarvan afhang. Vir ʼn wonder is haar ma deur haar stiefma toegelaat om saam in die hartseer te mag deel. Linda kan amper nie glo dat die moedswillige Delila nie daarteen geskop het toe sy gevra is of haar ma die verrigtinge mag bywoon nie.

Eenkant sit haar stiefma, Delila in ʼn moderne tiervelmotief katpak en versorg haar lang rooi naels asof die wêreld se bestaan daaraan gekoppel kan word. Haar gesig lyk soos ʼn yskoue masker. Daar is geen sweempie van hartseer te bespeur op haar swaar gegrimeerde gesig nie.

ʼn Snik ontsnap sag uit Linda se binneste as sy mateloos verdrietig voor haar uitstaar. Die dood is so onverwags en alles voel vir haar nog so onwerklik. Sy het dan nog net eergister met haar pa gepraat en grappies gemaak.

Wat het haar pa besiel om weer te trou?

Sy dink aan die dag, nou net ses maande gelede toe hy met groot genot op sy gesig aan etenstafel die aankondiging gemaak het.

“Hierdie is Delila, ons trou volgende week voor die magistraat!”

Die klouende seekat het hom behoorlik in haar greep, was haar gedagtes op daardie oomblik.

“Liefie, ek is die antwoord op al jou probleme”, koer sy in sy ore terwyl sy oor die grys slape streel.

Linda wou behoorlik weghardloop van die prentjie voor haar.

Die troue is toe ook die volgende week voor die magistraat met die grootste fanfare voltooi, kompleet met blou ballonne en spierwit duiwe wat vrygelaat is onder die luide applous van hulle handjievol vriende wat wel opgedaag het.

Linda se ma se hartseer stem ruk haar terug na die hede.
“Kom! Laat ons klaarmaak vir die diens, die familie moet eerste daar wees as hulle die kis instoot om voor in die kerk te staan.”

Na ou Dominee sy diens gelewer het oor hoe ʼn voortreflike man Paul Smit in die gemeenskap was, staan almal op om agter die stoet in te val na die begraafplaas.

Statig kom die lykswa aan.

Nico, die begrafnisondernemer hou sy gebruiklike hartseer gesig voor as hy stil en stadig voor die graf staan en wag.

“Mense, kom staan nader dat ons vir oulaas ons geliefde broer Paul kan groet.”

“Die son kaats ʼn verblindende blink vanaf die kar. Statig en stadig kom dit met ʼn slakkepas die straat af terwyl die begrafnisgangers in eerbied hulle hoofde laat sak. Die meeste is in swart geklee. So swart soos die lykswa.

So swart soos menige van ons harte.

Die weduwee is die enigste een wat ʼn skel pienk noupassende broekpak aanhet. Om haar mond huiwer ʼn smalende glimlag. Die ‘lipstiek’ en haar maskara is gotiese swart …”

Met sy diep basstem doen hy paar afkondigings na die lykswa stilgehou het.

Dit lyk of Delila opdaag vir die rooitapyt-stap na ʼn Hollywood geleentheid!

Met groot gedoente word die lyk op die silwer trollie met die swart wieletjies gelaai om na die graf gestoot te word.

Die vars klam reuk van die rooisand van die nuutgegraafde graf laat dink Linda aan die plaaslewe toe ʼn tortelduif of twee hartseer koer-koerrrrr in die lang sipresbome.

Die son se strale skyn warm op haar gesig as sy na die paar mense om die graf staar. Sy wonder onwillekeurig wat is die rede waarom hulle vandag na Paul Smit se teraardebestelling gekom het.

Is dit om te sien of daar dalk ʼn kattegeveg langs die graf gaan plaasvind?

Groot konsternasie bars eensklaps los toe die kis van die trollie afgly en amper in stadige beweging begin gly … gly … en kerplaks op die hoop rooigrond te lande kom.

Gedempte gilletjies en ‘oeeee’ en ‘aaaaa’ klink in die warm oggendlug op.

Met ʼn finale kraak bars die kis se deksel van die groot bruin kiaathoutkis mooi netjies middeldeur.

Dit is vir Nico nie nodig om die kis oop te maak dat die begrafnisgangers vir oulaas kan groet nie. Die val van die kis het hom voorgespring in die plan.

Delila is die eerste een wat in regte drama styl vooroor sak en in snikke uitbars. Met haar uitgestrekte arms omhels sy net mooitjies die kis toe die woorde in haar keel stol!

“Schatzi! Wo bist do????”

“NEEEEEE!!!”

“Dit is nie my Paul nie! Wie is hierdie jong rooikop man wat my met sy bleekgesig aangaap?”

Die skare tree geskok nader en sien ʼn onbekende wat na hulle “kyk” vanuit die groot donkerhout kis!

Nico, die begrafnisondernemer verkleur van ligrooi na tamatierooi en stamel:
“O gonna! Verkeerde kis met die verkeerde lyk op die verkeerde plek!”

©Marlene Erasmus
821 woorde




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed