Jongste aktiwiteit:

Wat is REGTE-REGTE liefde?

Valentyn’s dag wat op 14 Februarie gevier word, is die dag waarop verliefdes hul toegeneentheid en liefde met kaartjies, geskenke en lekkernye bewys. Dit is ongelukkig ook die dag vir openlike rowery aangesien ʼn enkele rooi roos jou sommer R100 uit die sak kan jaag.

Regte liefde is iets wat jou na jou asem laat snak. Die moeilikste ding en tegelyk tyd die maklikste ding op aarde. Sommige deel dit vrylik uit, ander is maar snoep, en meestal verstaan die grootste meerderheid nie die betekenis van die woord nie. Hulle dink hulle weet, maar dit is tog soveel meer as ʼn vinnige hartklop en sterre in die oë.

Genadiglik gee die Bybel darem ʼn goeie aanduiding van wat liefde werklik behoort te wees. Maar het jy geweet dat die persoon aan wie jy in goedertrou en blinkoog ewige toegewydheid belowe, statisties die mees moontlike persoon is wat jou dalk kan vermoor? Nou nie juis ʼn gerusstellende idee nie, of hoe?

Wanneer liefde sonder enige bybedoelings gegee word, is dit die wonderlikste ervaring op aarde. Of dit kan die lewe rêrig in ʼn lewende hel omskep wanneer dit skeefloop. Liefde is ook nie iets wat net vir verliefdes eenkant gehou word nie. Dit behoort ook nie net een dag van die jaar gevier te word nie, maar verkieslik so natuurlik soos asemhaal wees.

Liefde is geduldig. Dit verdra moeilike tye sonder om te kla of dikbek te raak. Dit is vriendelik. Liefde is ʼn sagte, omgee hart. Dit is saam met die ander persoon opreg bly vir enige goeie gebeure of voel saam hartseer wanneer die ander een hartseer is. Liefde is nie kleinserig en jaloers nie want ware liefde het nie nodig om te kompeteer vir aandag nie. Dit mor nie oor onbenullighede nie. Liefde is nederig. Dis nie opgeblase en uitspattig nie en gooi nie ʼn vloermoer soos ʼn tweejarige kleuter nie.

Ware liefde toon respek en het geen nodigheid om die ander persoon te verneder nie. Liefde is onbaatsugtig en word nie gekenmerk deur selfsug nie. Liefde is kalm en probeer darem om altyd die regte ding doen. Liefde gaan sagkens met ʼn ander se hart en seer plekke om. Liefde is eerlik en nie vol leuens wat in die donkerte weggesteek word nie. Liefde beskerm sy maat instinktief. Liefde vertrou sy maat volkome. Dit sien die beste in jou raak en probeer om jou ook te help om die beste te wees. Dus, liefde is ondersteunend.

Liefde bring hoop en is standvastig. Dit gee nie op nie en verwyder die vrees wat in jou hart mag lê. Liefde bemagtig jou en breek nie af nie. Liefde is vir almal, selfs vir diegene wat nie in liefde glo nie. Dit sal jou nooit soos ʼn vyand behandel nie en veroordeel nie. Dit bring verseker nie doelbewus skeiding tussen mense nie. Liefde is bereid om opofferings te maak. Liefde vir jouself sorg dat jy ook mooi na jouself kyk. Ware liefde transformeer ʼn persoon sodat jy jou volle potensiaal kan bereik en die beste weergawe van jouself kan wees. Liefde gee jou moed om die onmoontlike te vermag.

Liefde kom van God want God is liefde. As ons dan van Sy DNA in ons liggame ronddra, dan het ons mos ʼn ingeboude kaart van (en vir) liefde, dan nie? Maar liefde is ook soos ʼn viooltjie – ʼn tingerige plantjie wat van koelte hou. Trap daarop, en dit breek. Laat dit te lank in die bloedige son staan, en dit verbrand. Koester dit, en dit blom!

Maar wanneer ek so na hierdie lysie kyk, besef ek opnuut hoe min mense werklik liefde vir hul naaste in hul harte saamdra. Ons sit week na week die kerkbanke warm, maar daar buite baklei ons kaalvuis en dikwels baie vuil. Met die Bybel onder die arm besteel en vloek ons mekaar. Die mense wat die hardste preek oor liefde, tree soms meer liefdeloos op as diegene wat nooit hul voet in ʼn kerk steek nie. Ons beste tydverdryf met ʼn koppie warm tee, is skinder – ʼn totale liefdelose daad. Ons knip ʼn ander persoon sommer in die middel van ʼn sin kort en stuur die gesprek in ʼn heeltemal ander rigting – heeltemal liefdeloos. Selfs ʼn eenvoudige opmerking word omgedraai en word jy op die plek tot die sondaar verklaar. Ware liefde het nie tyd vir nonsens soos jaloesie en kleinlikheid nie. Dit baklei nie vir ʼn eerste plek in elke situasie nie en is dankbaar vir wat die ander persoon vir jou doen.

21 Characteristics of True Love According to the Bible





Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed