WATTER ONSE IS IN JOU POND?
Ek onthou nog so goed ons predikant se reaksie toe my ouers hom inlig dat my suster gaan trou. “Trou sy met een van ons mense?” Die ‘ons mense’ was natuurlik Doppers (nee nie drinkers nie my mens, lidmate van die Gereformeerde Kerk).
Die antwoord was nee’ want haar aanstaande was ʼn NG-man (Gaatjieponder). Dit was in daardie dae baie makliker om te onderskei tussen ‘ons’ en ‘hulle’.
‘Ons’ was óf KP óf HNP óf NP en ‘hulle’ was die partye wat nie ‘ons’ was nie. Vir die mense wat nie mog gestem het nie, was ‘ons’ die sonder stem en ‘hulle’ die met ʼn stem (ja, ek weet, blank en nie-blank maar ek probeer politiese korrek wees). ‘Ons’ was óf Noord-Transvaal, Transvaal, WP, ens. en ‘hulle ‘was almal wat nie ‘ons’ was nie. As jy Afrikaans gepraat het, was jy ‘ons’ en as jy Engels gepraat het, was jy ‘hulle’ oor die res het niemand regtig omgegee nie. Dit was so ongeveer vyf-en-veertig jaar gelede.
Verlede week is daar ʼn debat op Twitter oor wie is ‘ons’ en wie is ‘hulle’ in Suid-Afrika. Eish, nou is dit nie meer so lekka clearcut nie my baby. Aikonna, dis nou ʼn deurmekaar gemors my bra. Op die ou end het ek ma’ getjaila want niemand kon vir my sê wie’s nou wie in hierdie land nie. ʼn Totale poespas.
Afrikaner! Bulder ʼn ou. Almal wat in Afrika woon is Afrikaners. Toe is dit Boere. Nee, reken een, boer is ʼn beroep. ʼn Ander mompel oor taal, maar dan weer, die Griekwas en Kleurlinge praat hom ôk gehoor. Ja, maar kleur maak nie saak nie! Toe word dit politieke partye. As jy ANC is, is jy ‘hulle’, finish en klaar. So EFF is ‘ons’ vra een. NEEEEEE skreeu die skare en gaan laai mausers. Niemand praat oor kerkverband nie, dis lank se tyd nie meer relevant nie. Ek vra, wie is ‘ons’ en wie is ‘hulle’ en omdat niemand dit na behore kan definieer nie, is ek toe ʼn Jew, ʼn ANC slave, ʼn idealis en nog meer.
Ek kyk Saterdag na die Springbokke teen die Ausies. Op Ellispark sit daar ‘ons’, in groen, en ‘hulle’ in ander kleure. ‘Ons’ huil saam oor James Small en Johnny Glegg, sing saam Impie, sing en dans saam toe die Bokke wen. Dis toe dat ek besef ‘ons’ is almal wat saamstaan teen ʼn gemeenskaplike teenstander, wat streef na dieselfde doel en saamwerk om dit te verwesenlik. Die lyne tussen ‘ons’ en ‘hulle’ is vloeibaar, en ek behoort aan baie groepe wat ‘ons’ vir my is. Ek is ʼn Bloubul, ʼn Christen, ʼn eggenoot, ʼn kind, ʼn ouer, Afrikaanssprekend, natuurliefhebber, ens. In hierdie groepe is nie al die ‘onse’ en ‘hulle’ presies dieselfde nie.
Ek besef toe daar is nie net een groep ‘ons’ en ‘hulle’ nie. Is dit dalk waarom almal altyd baklei? Elkeen van ons het ʼn eie opinie wie die onse in ons pond en wie ‘hulle’ is. Ons dink ons stem saam, maar dan word ons ontnugter want daar is maar altyd dinge waaroor ‘ons’ verskil. Sal daar ooit vrede, liefde en harmonie wees in die wêreld van ‘ons’? Ek twyfel, want ʼn ‘ons’, deur bloed verbind, ( ʼn gesin) is mos onbetwisbare ONS, en selfs daar is dit maar ook ʼn ‘ons’ en ‘hulle’. Dan weer, ek is Joodse idealis, onnosel en naïef. Blind soos ʼn mol. Ek kan maar net nie sien wat ander sien nie, of is hulle dalk die blindes? Ek vra namens ʼn vriend.
3 Kommentare
-
Kiekies
Puik! Sê vir jou vriend ek het gedink ek en hy is 'ons' tot ek uitvind hy is 'n bloubul. Toe word hy 'hulle'. Giegiegie.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2019 projek