Jongste aktiwiteit:

WEESKIND VAN EUROPA

Ek sit vanoggend so ingedagte en kyk na buite waar dit REëN in die Vrystaat! Ek ken mos nie die Vrystaatse weer nie. Ek is ingevoer van die Oos-Kaap af waar dit reën as daar wolke is. Nie soos hier in die Vrystaat waar jy net opgewonde raak en dan “poof” skyn die son weer nie.
Maar so deur die venster se gekykery begin ek wonder. Waar kom ek vandaan? Ek en my voorgeslagte. Ek het al probeer om die argiewe in Pretoria of is dit nou Tswane, te kontak oor my boom in die lewe, my stamboom in Afrika.
“van der Watt, nee Meneer.” sê hulle dan. ” Ons het ‘n Wat, Wath en Watt, maar nie ‘n van der Watt nie.”

Mense op die Web stel voor ek laat sommer my eie familiewapen opmaak. Dit sal uniek wees, die eerste van der Watt in die wêreld. Nou sit ek en voel soos die wolke in die Vrystaat – “Poof”.

Nou soos ek die Geskiedenis verstaan, was daar nie witmense aan die suidekant van die ewenaar in Afrika nie. Ook nie swartmense for that matter of fact nie. Hulle is ook ingevoer bo uit Afrika uit soos ek van die Oos-Kaap af.

Daar was net die Strandlopers.

Toe besluit die Hollanders dit is ‘n lekker plek om voorraad aan te hou terwyl hulle Ooste toe reis om ryk te word. Hulle en die Strandlopers het toe een “Happy Family” geword en het ook maar hulle familie verskille gehad.

Intussen woel dit in Europa en die Engelse besluit dit is nou hulle beurt om ‘n stuk van die Suiderlike pie te kry.

Om ‘n lang storie kort te maak, besluit die ingevoerdes van Europa af om hulle ossewaens te pak en te gaan verken.

Die een ding lei na ‘n ander en skielik is ons ‘n Rainbow Nation… en dit reën nog in die Vrystaat.

Maar dit los nie my probleem op nie. Is ek ‘n stukkie Strandloper, Frans, Duits, Hollands of ‘n knippie Engels? Volgens die Argief het ek nie ‘n begin gehad nie. Ek was maar net hier. Die skepe wat stukke van my ingevoer het lê of verrot in die dieptes van die see of het kaggelvure in Europa in die winter aan die gang gehou…

Die reën het opgedroog, net soos my soektog na my identiteit. Ek besef toe so tussen die uitkyk na buite en die reën wat weg is: Ek is maar net nog ‘n weeskind van Europa.




Gebore by die see, verlief geraak op die berge / platteland en woon nou in die Vrystaat saam met my vrou Charmaine en 11 maande dogter Katelyn. Was deel van WOES se eerste bundle uitgawe van 2008 onder my tweede naam Gerhard. Vroeg "afgetreë" en hou myself besig met my "kunswerke". Werk ook deeltyds aan my eerste digbundel. Alle hulp en raad sal goud werd wees ...Ag en dan die legal ding: alle regte word voorbehou op geplaaste werke

5 Kommentare

  • neels claasen

    Ons is seker maar almal weeskinders van Europa

  • Evelyn van der Merwe

    Dis nou vir jou 'n tamaletjie....... skerp gepen.

  • Kiekies

    Nie een van ons bleek velle is 'eie kinders' hier in Afrika nie. Ek reken ons moes nooit hier kom peuter het nie. Wie of 'Watt' is kan ek nie seg nie, maar jou behoort seker maar aan daai Watt familie. Lekker gelees.

  • Anze

    Laat my dink aan toe my pa sy boek oor ons du Plessis stamboom geskryf het... ons het omtrent navorsing gedoen, gelukkig kon ons al die inligting opspoor tot diep in Frankryk... maar dit was een helse werk gewees. Dankie vir hierdie lekker lees stukkie ek het dit geniet

  • Zymrly

    So het my broer se kind ook navorsing oor ons stamboom wou doen. Ek het ook in Pretoria begin. So gee ek vir hulle my pa se volle naam, van en geboortedatum (8 Maart 1918 en reeds afgestorwe sedert April 1982). Die beampte se reaksie: "No sir. I find only one person that was born in 1918 and he is still alive. Toe het ons Inligting gekry by die Universiteit van Stellenbosch. Ek het dit geniet om jou skets te lees.

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed