Jongste aktiwiteit:

Welkom in my wêreld

Dankie tog vir die internet, YouTube, Google, video chat, Skype, e-poss, whatsapp en alles wat daarmee saamgaan. Terselfdertyd, jammer ook vir al daardie dinge! Dit maak ons wêreldjie soveel kleiner – op ʼn goeie EN ʼn slegte manier.

Onthou jy nog 1994, Siener van Rensburg, Adriaan Snyman, die Suidlanders en al die hoogs geheime planne rondom Mandela se dood? Onthou jy van die vrou wat wie-weet-hoe-lank langs ʼn dam iewers in die vlaktes gaan tent opslaan het uit vrees vir die swart-geweld wat moes losbars en toe ook daarna haar werk verloor het? Genadiglik is ek nog nie seniel genoeg om daarvan te vergeet nie, dus het ek ook nie vergeet van die histerie wat rondom daardie tyd losgebars het nie, of die geheime planne wat in die donker deur klein groepies beraam is nie.

Deur die afgelope paar dekades is ons al deur vele bloedmane, Oktobers waarin die wederkoms sou plaasvind, verkiesings, ens., ens., en hier sit ons wragtag nog steeds! My punt is dat deur al daardie gewraakte voorspellings en vrees aanjaag, daar niks drasties gebeur het om ons uitwissing te laat realiseer het nie. Dit het my egter iets baie belangrik geleer, naamlik dat watter deel van jou gees word gevoed wanneer jou sogenaamde veiligheid bedreig word? (Ek praat van sogenaamde veiligheid want as elkeen maar net besef hoe min beheer hy oor die lewe en gebeure het, sal jou stres dalk nie so hoog wees nie!) Dus, watter wolf voer jy – die wit een of die swart een? Die een wat liefde, lig en verdraagsaamheid verteenwoordig, of die een wat vrees, haat, opstokery en selfs rampokkery aanwakker?

Dit is al asof mense wat van sosiale media gebruik maak, opsetlik kies om die swart wolf te voer. Sommer vroeg al het ek heel g@tvol geraak vir die praatjies oor die Corona virus. Mens kon kwalik die radio of TV aan skakel sonder om daarvan kennis te neem. Maar erger nog was die Facebook gebruikers wat elke dag tientalle kennisgewings geplaas het oor die vreeslikheid wat op pad is. “We are all going to die….! Whaaaaa!!” Later het ek gesweer ek gaan nog ʼn aartjie bars indien daar nog ʼn enkele uitnodiging na een of ander virus groep/blad/webwerf op facebook sou verskyn, om nie eens te praat van die Whatsapp twak nie. Dit was asof die hele Suid-Afrika mal gegaan het!

Ironies genoeg het ons groepie vrouens een oggend juis hieroor gesels en saamgestem dat ons nie paniekerig moet raak nie. Ons gesprek was kwalik koud voor een ʼn ellelange boodskap gedeel het van die vreeslikheid van die virus en hoe Italie en Turkye nou op die rand van oorlog en moontlike uitwissing staan. Wat de hel?!? En oh ja, die virus is natuurlik chemiese oorlog, sowel as iets wat deur die duiwel beplan is. Wel, toe Ano haar bek rek oor hierdie boodskap en “moet nie paniekerig raak nie”, word sy onder ʼn vrag Bybelversies begrawe. Ek voeg haar naam by die lys mense wat hul pad stil-stil UIT my lewe sal vind.

Baie saggies en sonder ʼn groot bohaai het ek begin om diegene wat op paniek floreer, uit my lewe te laat verdwyn. Oudste sus wat elke jaar vertel dat die wederkoms híérdie Oktober gaan plaasvind en as ons November so wragtag nog hier is, dan was die Here ons weer ʼn keer genadig. Gaan ek myself nie ʼn papie lag wanneer die wederkoms in Februarie of Julie plaasvind nie! Ander sus het aan in die aanloop tot die laaste verkiesing aan die voorpunt van ʼn paniek-groep gestaan. Baie belangrik. Haar ego het helder geskitter in die bewondering van elke aap aan aanhangsel. Elke keer wanneer iemand aan die ander kant van die land ʼn stink windjie breek, word almal ingelig en gemaan om versigtig te wees. Die boodskappe vlieg soos ʼn swerm lastige brommers en ons word almal in ons huise verbrand en vermoor. Toe ek haar heeltemal blokkeer om vir my boodskappe in enige vorm te stuur, het die gevoel van rustigheid en algehele vrede my lewe oorspoel!

My punt is : verantwoordelike mense jaag nie vrees aan nie. Verantwoordelike mense mag ander in kennis stel as daar onrus uitbreek, maar nie tot op die punt waar ons paniek skep en soos mal goed al in die rondte begin hardloop nie. Verantwoordelike mense deel liefde en versorging en dra by tot die algemene positiewe gemoedstoestand van ander.

Paniekerige mense is onverantwoordelik. Paniekerige mense versprei die donkerte vinniger as wat die virus kan vermeerder. Hulle dink nie helder nie, maak ongelukke en vang oor die algemeen stupid, ondeurdagte goed aan. Ano hou nie van paniekerige mense nie en Ano se groep vriende en familie is oor die laaste dekade drasties ingekort.

Een ding wat ek verseker weet is dat vrees nie net jou bloeddruk opjaag nie, maar die aanhoudende vrylating van kortisol in die bloedstroom is verseker nie goed vir jou gesondheid nie. En ʼn mens met ʼn oormaat kortisol kan nie helder dink nie. Dit skakel as’t ware die verskillende dele van die brein een na die ander af tot net die primitiewe deel wat basiese oorlewing soos veg of vlug verteenwoordig, aktief bly. En dan word jy niks meer as ʼn primitiewe dier wat veg vir oorlewing nie. Dit is selde ʼn mooi prentjie.

Elke nuwe dag waarin ons wakker word en opstaan, elke ding waaraan ons deelneem, vra jouself eers af wat doen jy en watse gevoel wakker dit in jou medemens aan? Help jy om vrees te versprei en sodoende reg in die hande van die duiwel te speel? Elkeen van ons het vrye wil en ʼn KEUSE hoe ons elke situasie gaan hanteer. Baie belangriker is egter hoe daardie keuse ander mense beïnvloed. As jy help om paniek te versprei onder die vaandel van “inligting deel”, dan is jy maar eintlik deel van die probleem en nie die oplossing nie.

Ns.: Vanoggend kry ek ʼn oproep van ʼn maatskappy wat grootmaat toiletpapier verkoop… I rest my case!




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed