YWERIGE ELWE DES PROJEK
YWERIGE ELWE Des Projek
Hulle het perskes gaan steel en Pa het hulle uitgevang! Al ses van hulle het BEHOORLIK RIEMGESPRING. Nou sit die Nel kinders beteuterd onder die appelkoosboom en wonder oor hul volgende avontuur.
“Ek het dit,” kom Willie met ‘n plan vorendag, “’n spesiale kersgeskenk vir Pa! Hansie, jy gaan die elf wees. Trek jou swart kerkbroek aan en Mart se rooi kappie-jas, Johanna jy hou kèwie. An, jy en Tina gaan gaps so vier handbreedtes van mamma se kerspapier. Sarel, jy kry die nuwe sambok in die hande. Rol dit klein op. Moenie laat iemand julle sien nie. Ek sal die skryfwerk doen. Spring aan die werk, julle! Ons het nie baie tyd nie.”
Kort voor aandete, is die pakkie gereed.
“Van al die Elwe uit die Noordpool. Gebruik liewer hierdie ene.
Die oue is gedaan.
Groete!
Noordpool Elwe”.
Net na twee sluip elf Hansie Pa se kamer binne. Sit die pakkie haastig by hul snor-kende pa neer en laat spaander.
Dis Kersfees. Hulle kry pap met melk en suiker! Pa kom die kombuis binne, sit die pakkie sonder ‘n woord op die tafel neer en drink sy koffie in stilte.
Al ses paar oë loer benoud na die pakkie en dan na Pa. Vandag loop almal verseker deur.
Pa vee sy mond af, sy oë gly vraend oor die tafel.
Onskuldiger gesigte sou jy nêrens kry nie. Ses paar oë rek verbaas toe Pa vra…
“Hoelaat vertrek die slee Noordpool toe? Ek moet seker gaan dankie sê?”
Marthie Joubert
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Desember 2024 – Kersfees projek