Zambië Kuier – 3.
Zambië Kuier 3.
Daar is darem sowaar niks, hoegenaamd niks, so lekker as om weer deur my Bokka vasgedruk te word, na ’n lang tyd (selfs ’n kort tydjie) weg van mekaar nie. Ai man, ons twee is nie gemaak vir ‘sonder mekaar’ nie.
Dadelik moet ons na Kitwe se Makuba Mall toe om proviand aan te koop. In my kop moet dit lyk soos die kamma Mall in Blantyre, waarmee ek moes klaarkom toe ons daar gewoon het. Net ’n vuil kokkerot-investeerde Shoprite, bedompige Pep Stores en ’n amper ordentlike, maar peperduur Game.
Toe sowaar nie. Verstommend en verbasend. Die Makuba Mall het so te sê elke winkel wat hier in onse eie sentrums in SA is. En dis skoon en netjies. Al wat ooreenstem met Blantyre, is die ‘peperduur’. Ek is dadelik bewus dat die Afrika-ellende en armoede nie hier so erg geld nie. Hier sou ek ook kon woon.
Bokka woon in ’n groot dubbelverdieping woning wat eintlik uit vier tweeslaapkamer woonstelletjies bestaan. Vier kombuise en vier woonkamers. Nege mense woon hier, maar daar is apartheid tussen die boonste en onderste vloer. Nie neus in die lug nie, maar bo leef hulle uit een kombuis uit en so dan ook onder.
Bokka se nuwe broeder en kollega, woon oorkant hom. Gelukkig het elke kamer sy eie badkamer, maar nuwe broeder stort soggens by Bokka want in sy kamer is slegs ’n bad. Inruil daarvoor maak hy die oggend koffie. Noudat ek daar sal wees het Bokka gesê hy moet maar die koffie laat staan. Bedoelende dat hy maar iewers anders ook moet stort.
Die eerste aand terg broeder my dat ek op my hoede te wees, want hy klok vyfuur in by onse stort. Ek dink: ‘ek ken jou nie goed genoeg om te sê wat ek dink nie, maar jy sal darem seker nie so verregaande wees nie,’ en ek glimlag net.
Hoor my lied. En my verdriet. En my ergernis. Sowaar as wragtig, hy pluk die volgende oggend vyfuur ons kamerdeur oop en stap ewe eiegeregtig badkamer toe, druk die deur hardhandig toe en maak die stortkrane groot oop. Ek dog ek droom met oopoë. Eers is ek stom, maar hoe langer hy stort….en stort…en hoes en proes en snuit…..en stort, hoe meer bou die wrewel in my op. Die lopende water maak dat ek ’n lêwwie nodig kry, maar ons lêwwie is agter dieselfde deur as die stort!
Intussen het Bokka ook uit die slaap van die dooies ontwaak en hy besef……hier kom moeilikheid. Ernstige moeilikheid. Dadelik fluister hy dat hy vandag met broeder sal praat en ek is dadelik op my perdjie: ‘Jy doen dit nie! Ek wil hom vanmiddag self bydam! Hoor jy my? Jy sê niks!’
Sy vrou wat ook daar kuier, vra my nederig om verskoning en ek vra: ‘Vir wat? Dis mos nie jy wat ongenooid my kamerdeur vyfuur oop geruk het nie. Ek sal self die saak met hom uitklaar vanmiddag.’
Nie sy of Bokka gun my toe hierdie bekgeveg nie. Toe broeder die middag instap, vra hy al van die deur af om verskoning en reken hy het rêrig nie gedink ek sal omgee nie. Sy vrou maak hom vinnig stil, voor hy nog ’n onnosel aanmerking maak. Die volgende oggend het hy in sy eie bad gebad.
Daardie aand kla hy dat die bad te klein is en dat hy krampe gekry het van probeer inpas.
‘Waar?’ vra ek.
‘ Waar wat?’ vra hy.
‘Waar het jy krampe gekry?’
‘In my bene.’
‘O, dan het dit niks met my te doen nie. Ek het jou krampe op ’n ander plek toegewens.’
Dit was die einde van die stortverhaal en ek raak toe heel geheg aan die knaap en sy vrou.
Intussen moet ek gewoond raak aan die lewe in Kitwe. Ek kan soggens veilig gaan stap maar moet versigtig wees vir glip-en-gly in die modder. Dis reënseisoen en dit stortreën elke liewe dag en soos te wagte het die paaie meer grond as teer op die oppervlak.
Behalwe die daaglikse reën, is daar ook die daaglikse kragonderbrekings. Agt ure elke dag. Ten miste agt, maar selfs tien of twaalf, so nou en dan. Kosmaak, stort, was en stryk en hare droogblaas, verg beplanning. Soms ook voorspelling uit die sterre uit, want ’n krag-rooster is opgestel om te ignoreer. Die grootste swaarkry vir my, is die bedompige hitte wanneer die lugversorger stil raak.
Die eerste naweek gaan ek en Bokka kuier. Ou vriende van Malawi se dae, woon ook nou in Zambië. Meer spesifiek, net anderkant Kapiri Mposhi op pad Lusaka toe. Hy werk op die plase van twee Suid-Afrikaanse boere, waar die mielies hoër groei as Bokka met ‘’n uitgestrekte arm. Hulle woonhuis is egter agter die Forest–Inn lodge, in ’n pragtige woud vol voëls.
Voëls is egter nie al wat daar tuis is nie. Sy vertel: ‘In verlede week toe ek hier in die tuin besig is, hoor ek die twee brakkies (Jack Russels) gaan vreeslik tekere binne-in die huis. Ek roep, maar hulle kom nie. Met die besluit ek om te gaan kyk of een nie dalk iewers vassit nie. Eers gewaar ek dat die gangdeur halfpad toe is en loer deur die gleuf. Daar is beslis iets daaragter. Dalk ’n hasie, want hier is baie en hulle kom eet die hondepille.
In my wegstap reken ek dat die brakke mos die haas sal verjaag of vang. Ek gaan maak weer seker. Dis toe dat ek sien dié hasie blink.’
Om ’n lang storie kort te maak, die blink hasie is toe die hele tyd ’n vet opgekrulde pofadder. Dit was slang nommer twee. ’n Paar dae tevore het die tuinjong ’n Kongo Adder in ’n bedding ontdek.
Terwyl die manne die vuurmaak om te braai, vertel haar man: ‘Ek sit verlede Sondag hier op die stoep. Doer by die hoek van die huis, sien jy daai bedding? Uit die bedding uit, sien ek ’n akkedis teen die muur opkruip. ’n Groot akkedis en ek hou hom dop. ’n Lang akkedis. Hy klim en klim en klim….en toe staan ek nader. Daai akkedis is toe ’n Boomslang. Waar hy heen verdwyn het weet ek nie, maar toe ek met die sambok uitkom is hy weg. Tot vandag toe nog.’
In my kriewelrige verbeelding sien ek hoe lekker die boomslang in die plafon kuier. Ek voel aanmekaar iets teen my rug af kriewel. Ek luister na die gesprek, maar my oë hou die huishoeke en die stoeptrappe dop.
Later sit ons aan by vriendin se pragtig-gedekte tafel, vir haar heerlike kos. Sy is ’n voorslag kok. Vergete is die ongediertes en ons val weg. Ons het darem ons bene en arms bespuit met gif om die malariamuskiete af te skrik. Oorversadig sit ek effe agteroor, strek my lyf en lig my ken, om plek te maak vir die poeding wat op pad is.
Dis toe dat ek die swart dingetjie sien wat heen-en-weer aan die kandelaar bo die tafel, swaai. Ewe dom vra ek: ‘Is dit ’n spinnekop wat so aan die lig rondswaai?’ Natuurlik is dit ’n spinnekop! En nie sommer enige hierjy spinnekop nie. ’n Opregte pikswart boepens knopiespinnekop, met die rooi kolletjies onder die maag. So duidelik dat selfs ek dit goed kan sien.
Hardop wonder ek: ‘Oeee hella, sal ek ooit vannag slaap?’ ‘Agge nee wat,’ paai vriendin, ‘ek sal jou môre gaan wys hoe groot is die spinnekoppe by die Inn se badkamers. So groot soos my handpalms.’ ‘Waar?’ vra ek benoud. ‘Doer vêr, anderkant die restaurant.’ Daai ‘doer vêr’ is maar ’n driehonderd treë vêr en ek is veronderstel om gerus te wees!
Teen slapenstyd is die krag af. Dis grafdonker. Ek het net ’n flits op my bedkassie tot my redding, wanneer ek vanaand moet badkamer toe gaan. Bokka bied aan om voor my te stap as dit nodig is. Ek is dankbaar, maar wonder sonder om sê: ‘Wat van ágter my?’
Dit weet ek nou. Wonderbaarlik en deur God se oneindige genade alleen, slaap ek dwarsdeur die nag tot ligdag toe. Sonder om die lêwwie òf die flits nodig te kry.
Word vervolg.
6 Kommentare
-
Viooltjie
Kiekies, ek kuier lekker saam met jou op daardie plek vol goggas en slange. Jy moet maar oopoë loop, lyk dit my 😀
-
Arnold
Ai, soms wil hierdie goggas, (ek noem hulle sommer natuur kreature) voel wat is menseliefde. Sonder hulle is die hele lewens siklus ook maar uit wanbalans.
-
Ano
Whaaaaaa. Dapper om so saam met die goggas te kuier... :-D
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels claasen
Wat n heerlike belewenis om weer by Lynette te kuier en haar vertellings woord vir woord te verslind