Zambië Kuier – 4
Goggas en slange, muskiete en ander kriewelende gediertes, het ek die eerste naweek oorleef. Die daaropvolgende week oorleef ek ook donderstorms en die gereelde agt-ure-per-dag kragonderbrekings. Een dag moet ek selfs vir dertien en ’n half ure sonder krag klaarkom. Die ou opwekkertjie het nie eers genoeg gelaai om aan te skakel nie, wat nog loop.
Daar besef ek hoe aanpasbaar ons mense eintlik is. En waarsonder mens kán klaarkom as jy moet. Die ‘boer’ in my, maak ’n hele paar innoverende planne. Dalk is ons gans te bederf. Ek verstaan ook nou hoekom die mense in hierdie huis, so baie braaivleis eet. Al is dit dan nou ook net bees en vark, want lammers is ’n bedreigde en beskermde spesie.
Bokka maak op. Siestog, hy kry my jammer. Vir die tweede naweek, wat ook sy maandelikse langnaweek is, bespreek hy vir ons by Nsobe Lodge. Weer draai ons die motor se neus in die suidelike rigting op die T3. Smaak my al wat noemenswaardig is noord van Kitwe, is die grens na die Demokratiese Republiek van Kongo. Verder gebeur alles suid.
Eers moet ons vir Manuel in Ndola ontmoet, want Bokka benodig ’n vars dertig-dae-permit om wettig te wees. Hierdie knaap eis natuurlik sy pond vleis, of ’n kilogram Kwachas, vir sy dienste. Tog is daar nie ’n ander uitweg nie. Ons eet sommer ook vinnig middagete, voor ons verder gaan. Twee vlieë.
Waar ons ook al ry, daar is altoos ’n gebreekte lorrie langs, of in die pad. Vandag s’n het dwarsoor die pad knipmes gemaak. In beide rigtings moet die verkeer wyd en van die pad af, omry. Hierdie mense ry met ’n lorrie, soos wat ons met ’n klein motortjie doen. Al ry ons op die voorgestelde spoed, gaan hulle by ons verby. Selfs al kom daar verkeer van vooraf. Sommer maklik raak hierdie enkelbaan pad, ’n dubbelpad. Ons sien ook vele lorries met RSA registrasies.
Onder ’n vergadering koraalbome, word daar mielies gebraai oor oop vure. Moeders met babas, wat op die heup in ’n doek hang, hard aan die werk. Hulle vennote staan langs die pad met ’n paar gebraaide mielies elk, aan ’n stokkie. Soos sosaties. Met elke verbygaande motor gooi hulle hande in die lug om hulle ware te adverteer. Ek wonder hardop: ‘hoekom sal hulle nou almal hier op een hopie staan en almal gelyk storm, sou ’n voertuig stadiger ry? Hoekom staan hulle nie op verskillende plekke weerskante van die pad nie?’ Bokka antwoord nie, want daar is nie antwoorde nie.
’n Paar kilometer vêrder, word ek stom geslaan. Ek kan nie eers kommentaar lewer of vrae vra oor wat ek waarneem nie. Dis by ’n redelike besige kruising waar ons ons beurt moet afwag om oor te gaan. Teen ’n slakkegang, beweeg ons voort. So ook die lorrie voor ons, wat brandstof vervoer.
Twee entrepreneurs hardloop langs hom. Elk met ’n tien-liter-kan in die hand. Hulle is besig om brandstof uit die tenk te steel. Sommerso in die beweging. Toe die trok spoed optel om oor te gaan, laat los hulle, maar nie sonder om die prop omhoog te hou, sodat die bestuurder kan sien (of dalk nie, soos in hierdie geval) hy ry nou daarsonder nie. Ek hap in die lug soos ’n vis op droë grond. Sou dit nie geglo het, as ek dit nie met my eie oë aanskou het nie. Afrika o Afrika.
Taai soos toffie-appels bereik ons ons bestemming. Ons word vriendelik welkom geheet by die kamp, waar ons hulpvaardig na ons tent-chalet begelei word. Aangenaam tevrede met ons tuiste vir die naweek. Daar’s ’n stort en toiletgeriewe uit riete gebou. Hier en daar sien ons dwarsdeur die mure. ’n Heerlike houtdek stoep wat oor die rivier en die berg uitkyk. Ek skud oorskiet krummels op die grasperk uit, wat ’n hele ry waggelende eende uitlok, om hees-hees nader te draf.
Talle kringe op die wateroppervlak verraai die teenwoordigheid van kurper en karp. Seker die dat die visarend sy heilige roep luidkeels opper en die visvangers die kaal takke van die boompies in die middel van die rivier, beset.
Ons ruk eerste die baaibroeke uit die tas en sit af na die swembad, doer tussen die welige mopaniebome. Al met die kronkel klippaadjie langs. Verstaan nou net, dis nie so helder dat ons die bodem kan sien nie, maar dis skoner as ’n plaasdam. Goed genoeg vir hierdie twee stomende (so voel dit) lywe, wat na afkoel smag. Selfs die swembad by die Shangrila Hotel, was niks lekkerder om te betree nie. Vir byna ’n uur, hang ons teen die rand. Salig!
Nou het ons ook die Nsobe Spar opgespoor. Dis soos dit op die naambordjie aandui, maar dis nie ’n winkel nie. Eerder ’n Spa. Dadelik bespreek ons ’n spotgoedkoop twee-uur masseersessie vir elk. Hoe erg kan dit nou wees? Pa het altoos gereken: ‘doller as kop-af en dooier as dood, kan dit nie.’
Die res van die middag spandeer ons aan ’n bietjie lees en baie slaap. Koel lywe onder die waaier, wat ek by die kantoor gebedel het. So honger dat ons ’n bak mopaniewurms lewendig kan opeet, ontwaak ons toe die son al water trek. Die werfkat het by ons voete opgekrul en sommer saam geslaap.
’n Hand-wringende man kom eerbiedig nader en stel homself voor as die sekuriteitsbeampte vir die nag. Hy kom ook nou ons stoeplig aanskakel. ‘Nee,’ maak Bokka kapsie, ‘ons sal dit sommer self aanskakel voor ons gaan eet. Ons sal dit ook afskakel voor ons gaan slaap, anders lok dit die hele Zambië se muskiete aan.’ Hy sê hy verstaan, maar ek sien die frons op sy voorkop. Wie sal nou verkies om ’n lig wat kán en mag brand, af te skakel. Afrika o Afrika.
Langs die restaurant, is daar ’n knetterende vuur in die boma brand gemaak. Die gaste kom daar bymekaar en drink eers ’n drankie voor ete. Vir die eerste keer in baie jare, ek kan nie eers onthou hoe lank nie, sien ek ’n hele eskader vuurvliegies wat oor die water sweef. Onwillekeurig kyk ek op om die flikkerliggies van ’n miljoen sterre, teen die hemel vasgeplak, te aanskou. So naby dat ek ’n paar wil pluk, om te bêre vir ’n reënerige dag.
Om ons hang daar donker boepens onweerswolke. Aan die rante van die uitspansel verlig helder skarrelende blitse, die plafon van die natuur. Elke blits ’n belofte van ’n reënbui wat op pad is. My siel vul met diepe ontsag vir die wonder en skoonheid van die Here se handewerk. So oorvloedig en majestueus. Sommer verniet vir dié wat wil kyk en sien. Rêrig sien!
6 Kommentare
-
Viooltjie
Vir die wat wil kyk en sien. Ek kyk, sien en lees heerlik saam, Kiekies. Baie dankie vir die deel van jou reisverhaal :-)
-
Arnold
Afrika o Afrika, het sy eie aanloklikhede vir diegene wat daarna soek. Lekker saamgelees.
-
neels
Dankie dat jy ons saamvat op n onvergeetlike ervaring Lynette
-
Evelyn van der Merwe
Ek ditto die res, dankie vir die deel.
-
Ano
Heerlik! Ek beny jou hierdie reise :-D
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
ai elke skrywe van jou laat my groen van jaloesie!! Dit klink so lekker en vol avontuur. Heerlik gelees.. soos gewoonlik!!