Jongste aktiwiteit:

Zizzie hou partytjie. (Brons)

Zizzie maak gebruik van die son se vroegdag-strale om haar sag te streel terwyl sy kaalvoet oor die blare-tapyt trippel.

Ligte herfsblare waai giggelgeel en oranjerooi bo haar goue krulkoppie rond. Orals om haar heen tiekiedraai die blare op maat van herfskleure.

Zizzie hoor die grootmense praat van die grendeltydperk wat verby is. In fluisterstemme praat hulle van ʼn gevreesde virus en groot getalle mense wat reeds platgetrek is deur die gogga van ʼn siekte. Hulle praat so saggies en hou sommer op met praat as sy naby hulle kom.

“Ek verstaan glad nie hoekom ons vir so baie lank net in die huis moet bly nie!”
Mamma glimlag net en sê rustig: “Dit is vir ons eie beswil sodat ons nie ook siek word nie, my liefie.”

Die blydskap is groot toe pappa gisteroggend aangekondig het dat hy van die volgende dag af weer gaan werk en ek dan maar weer buite mag begin speel.

Ek spring op-en-af op die gang se lang rooibont tapyt. My eerste gedagte is hoe ek partytjie gaan hou vir al my feetjie-maatjies van feetjieland. Dit voel soos vir ewig dat ek hulle nie kon sien nie. Nie dat ek dit enigsins met mamma kon deel nie, want sy sê hoeka my verbeelding hardloop met my weg.

Laatmiddag mag ek buite gaan speel in die tuin.

“Swiesh swiesh”, vee ek vinnig die blare op ʼn hopie.

Ingedagte kyk ek op en skrik my amper boeglam toe ek vierkantig in Sonstraaltjie se gesig vaskyk!
Sonstraaltjie loer versigtig deur die blare van die katjiepiering-bos en fluister sag.

“Vuurvliegie het vir my jou boodskap gebring. Gaan ons regtig partytjie hou? Ek en jy en Viooltjie, Madeliefie en kleine Sonstraaltjie?”

“Rerig-êrig?”

“Ja, rerig-êrig! Môre as mamma na die winkels gaan, moet julle almal hier wees.”

Stil stil verdwyn Sonstraaltjie met sterretjies wat sy agter haar uitstrooi op pad terug na feetjieland om die goeie nuus te gaan deel.

Vroegdag groet pappa en mamma maak gereed om na die winkels te gaan.

“Bly mooi soet en luister na Triena. Ek bring vir jou ietsie lekker van die winkels af saam,” sê mamma as sy my in my nek soen.

Ek gryp die komberse en kussings en draf vrolik na die tuin onder by die moerbybos. Tafeltjie en stoeltjies gemaak van die bale hooi wat pappa daar eenkant bêre, kompleet met tafeldoek en blommetjies gedek.

Stiptelik om tien ritsel die blare sag. Voor my staan al my feetjie-maatjies wat ek vir weke nie kon sien. Opgewonde rondomtalie draai ons op maat van die voëltjie-koor se melodieë. Vrolik tjirp hul saam en dans op die boomtakke rond.

Ons kuier al te lekker saam en skaterlag vir Viooltjie se lawwe grappies wat sy vir ons vertel.

Nadat ons heerlik gesmul het aan die koekies en sappies wat Trina vir my gebring het, lê ons op die naat van ons rug en soek prentjies in die spierwit watte-wolke wat bo ons rondsweef.
Met die vryheid van ʼn kind, nie gebind deur siekte of bekommernis sweef Zizzie soos ʼn arend – hoog bo die aarde en sy probleme …

©Marlene Erasmus
29/06/2020
(517 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed