Kleinmens dagbreek
Kamerdeur op ‘n skrefie getrek
– ek en bersie het ‘n sonstraal
in ‘n canfruit bottel gevang,
die deksel styf toegedraai –
“Kom k-y-k pappa!”
Die lang blou-overall man
glimlag en vryf my hare deurmekaar;
dít was ‘n windstil oggend.
Maar winde van verset
het uit my ribbekas ontsnap,
die laaste leksels vrede
– tussen pa en seun –
van die vloer af gevee.
Ja, ‘n sonstraal in ‘n bottel
op ‘n windstil oggend
was ‘n kleinmens gebed;
dagbreek na dagbreek het ek sonlig mis getas –
winde het net té sterk gewaai.
© Ernst Fernando dos Santos
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.