Kxao praat oor sy dag
Kxao praat oor sy dag (ʼn San Epos. Ons bevind ons by ‘n vuur van die Khwe stam, Kxao vertel van sy dag. !Xo is tradisioneel die San se opperwese)
Julle kinders van Khwe wat sit hier rondom die vuur
kom luister na Kxao, want ek wil vir jul vertel van my dag
word stil en gee gou-gou julle ore vir my mond
bêre my woorde in jul hart se kokers, voor dit sonder spore verdwyn in die donker nag.
Vroeg vanoggend, net voor !Xu die son uit sy gat sou jaag
het die wind saggies met my neus kom praat
die reuk van leeus het hy na my toe aangedra
bietjie later het hy hul gebrul by my oor kom neersit, en my toe alleen gelaat.
Ek het vinnig opgespring en het reeds die spoor van die groot geel jagters gesny
toe die son nog net een vinger hoog bokant die aarde hang
met my koker vol pyle, en my boog oor my rug gegooi
het ek hul spore versigtig gevolg om te sien wat het hulle gevang.
Kinders van Khwe wat gisteraand nog so honger gestaar het na die vuur
terwyl die vlamme vrolik dans in jul oë se donkerblink
net soos julle water uit die volstruis se eier suig
moet jul vanaand die wysheid wat uit my mond vloei drink.
Die son het net nog ʼn halwe vinger geklim op sy daaglikse tog
toe kom ek by die plek waar die leeus probeer lê en slaap na hul jagtog
hiëna, jakkals en aasvoël het almal saam om die trop leeus se vangs vergader
skelm-skelm sluip hul keer op keer nader, dan storm ʼn leeu en dis eers die end van hul rooftog.
So sit ek in die skadu van ʼn Maroela en loer na die diere se maniere
terwyl ek die soet vrugte van daardie boom in my kieste herkou
ek dink by myself wat baat dit die leeus wat soveel kos nog het, maar nou nie kan rus
want elke nou en dan moet hul die aasvreters wegjaag wat aan hulle vleis wil kom kou
Kinders van Khwe wat hier rondom my sit by die warm vuur
moenie dat my woorde wegwaai soos die eland se spoor in die duine se sand
vat net genoeg vleis vir vandag as jy gaan om te jag, en bêre net water vir môre se dag
anders sal !Xu dalk ophou voorsien en sal ons net soos die leeus nooit kan rus en ontspan in hierdie mooi land.
Wat kry ek toe ek daar wegstap terug na ons rooisandmense se kamp?
ʼn Gemsbok wat kop op die sand wag vir die son om uit sy oë te verdwyn
ek sê dankie vir die Gemsbok vir die kos vir vandag, en bedank vir !Xu dat hy so mooi voorsien
toe neem ek ʼn gifpyl en ek skiet met my boog, en die bok val morsdood op die duin se kruin
Kinders van Khwe wat hierso sit rondom die vuur met vet om die mond en magies volmaanrond
nou-nou sal ons dans om dankie te sê vir die oorvloed van vleis en om weer te vra vir die reën
maar maak maar eers seker al die vleis is vanaand opgeëet voor ons gaan rieldans om die vuur
want vanaand na die dans wil ek rustig kan slaap sonder dat !Xu en die Gemsbok oor ons vermorsing ween.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.