Jongste aktiwiteit:

Dalk, op ‘n Dinsdag (opdrag 1)

…het jy geweet
hoe om pluimsaad vir die wind te gooi
sodat dit wyd oor Vrystaatvlaktes en Karoo
tot teenaan Tafelberg se hang sou strooi.

Of, miskien was jy bewus –
die suidoos sou die korrels dra
oor alle tyd en plek en grense heen;
dit neerlê in ontvanklik’ aarde,
ook in elke bars of kraak
gebeitel in graniet en steen.

Was dit dalk ‘n Dinsdag
toe jy Seekoevleiverdriet leer ken;
was daar rooiwynvlekke op die tafel
toe jy jakkalsskreeu in klipperige rante pen?

Fees en herfs en vuur is jy vir my.

Waarom
sou jou elke vers my so verruk;
jou pluimsaad heel my wese met ‘n hunkering belas?
Net dáárom –
dat dit dalk ‘n Dinsdag was.

© Carma Shaw
10 Julie 2018
12:44

* my gedig handel oor N. P. van Wyk Louw.
In die bewoording verwys ek na verskeie van sy gedigte:
“Waarom durf alles”
“Seekoevlei”
“Fees”
“Die beiteltjie”
en sy verhoogstuk “Die pluimsaad waai ver”.




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

17 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed