Dalk, op ‘n Dinsdag (opdrag 1)
…het jy geweet
hoe om pluimsaad vir die wind te gooi
sodat dit wyd oor Vrystaatvlaktes en Karoo
tot teenaan Tafelberg se hang sou strooi.
Of, miskien was jy bewus –
die suidoos sou die korrels dra
oor alle tyd en plek en grense heen;
dit neerlê in ontvanklik’ aarde,
ook in elke bars of kraak
gebeitel in graniet en steen.
Was dit dalk ‘n Dinsdag
toe jy Seekoevleiverdriet leer ken;
was daar rooiwynvlekke op die tafel
toe jy jakkalsskreeu in klipperige rante pen?
Fees en herfs en vuur is jy vir my.
Waarom
sou jou elke vers my so verruk;
jou pluimsaad heel my wese met ‘n hunkering belas?
Net dáárom –
dat dit dalk ‘n Dinsdag was.
© Carma Shaw
10 Julie 2018
12:44
* my gedig handel oor N. P. van Wyk Louw.
In die bewoording verwys ek na verskeie van sy gedigte:
“Waarom durf alles”
“Seekoevlei”
“Fees”
“Die beiteltjie”
en sy verhoogstuk “Die pluimsaad waai ver”.
17 Kommentare
-
-

Callie Vermeulen
Pragtig Carma. Weerlees werd sodat als mooi insink.
-

Estelle
Ai ja, N.P. van Wyk Louw bly maar 'n inspirasie! Pragtig en lekker om te lees Carma.
-

Driekie
Soos altyd, 'n puik bewoorde gedig uit jou pen.
-

Alet
Hoe laat jy my nou op ou spore terugloop. Het so paar van dié gedigte weer gaan sit en lees. Goed geskryf
-

Elroux
Pragtige gedig net soos altyd
-

Loretta Szikra
Ai tog Carma... wat kan ek behalwe pragtige werk en besonder kreatief soos altyd.
-

Charleine
Pragtig, Carma! Nou's ek weer met jou :)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou deelname aan die Pendoring 2 / INK kompetisie