Die sirkel van die lewe
Donderdag aand, 20h30, 30 Julie 2009, Pretoria Oos hospitaal:
“Ek is bang vir môre, my man,” bewe ’n sagte stem vanuit die hoek van die vrolike kraamsaal. “Ek is so opgewonde om môre ons seun te kan vashou en uiteindelik sy gesiggie te kan sien en hom te troetel en te soen!”
Sy sug, “maar ek is bang vir môre.” Die effek van die laaste paar maande van die swangerskap wys duidelik op haar gesig. Moeg, seer, maar tog blosend met die wete dat ’n nuwe lewe in haar klop.
Een jaar later – Vrydag aand, 20h30, 30 Julie 2010, Pretoria Oos hospitaal:
“Ek is bang vir môre, my man,” weerklink ’n stem, rou van emosie en skor van spanning, in die strak en verlate gang van die hematologie afdeling. “Ek dink nie my Ma gaan dit maak deur hierdie nag nie. Ek weet egter dis beter dat haar lyding gaan oor wees.”
Sy sug, “maar ek is bang vir môre.” Die effek van die laaste sewe weke se spanning, hoogtepunte, laagtepunte, hoop en wanhoop wys duidelik op haar gesig. Seer en verskrik met die nuus dat daar net ure oor is.
Die sirkel van die lewe.
Een familie, een plek, ’n nuwe lewe ontvang, ’n ander lewe geneem, in een jaar; byna op dieselfde uur.
Hy gee en Hy neem. Een moeder in ekstase; een dogter in treur. Een jaar.
Ons sê dankie vir die nuwe lewe en die jare wat voorlê waarin ons sy lewetjie kan vier; ons sê ook dankie vir haar lewe wat ons kon deel met haar oor soveel jare.
Om jou moeder vaarwel toe te roep op jou kleinkind se eerste verjaardag is ’n bitter ironie.
Die sirkel van die lewe.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Ano
Ja, die ironie, die seer en vreugde van 'n enkele dag, Groot hugs <3