Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Daar is waarskynlikheid in optrede

Deur Hennie Fritz
Datum gepubliseer: 8 Oktober 2018 Aantal woorde: 975 486 Kere gelees 10

Aan die einde van die reenboog
opgesmuk in wit en rooi
staan ‘n mensie met net een oog,
dit roep: die wereld is nie my nooi!

Ek het al baie gewonder wat sal gebeur indien ons elke dag die straf vir elke oomblik se onbesonnendheid moes ontvang. Sou ek dan elke aand met stukkende boude of met brandende hale van houe oor my rug gaan slaap, of sou daar onwetend dae en weke van my lewensverwagting afgetrek word of dalk, kan daar ‘n punt of so iets by my verstandelike vermoëns weggeneem word?
Sou my drome dan so leeg word soos die pot goud aan die einde van die wonderlike lig; die reënboog?

Smôrens wanneer ek my oë voor my Vader toemaak en na die gedagtes van Sy Woord probeer luister, dan vind ek rus in die wete dat ek erens vandag weer die geleentheid sal kry om vir iemand iets te beteken; om iets van Sy omgee en aandag vir ‘n mede-skepsel, wat oor my pad kom, te gee wanneer ek Hom toelaat om saam met my die dag in te loop, deur my.

Die saamlesers wat kritici van “godsdienstige stories” is, sal sekerlik nou reeds die joos in wees, maar jammer vir hulle, ook hulle moet so dan en wan die waarheid hoor!

Die basis van die meeste van ons bewoonde bol se volke se aanbidding en geloof, is die vreedsame beginsel van oorsaak en gevolg. Ons aksies, beide goed en sleg, kom terug in die toekoms, dit help ons om van die lesse van die lewe te leer en beter mense te word. Dit is gelykstaande aan Newton se wet van “elke aksie moet ‘n reaksie hê”.
Wanneer ons dink, praat of optree, begin ons ‘n krag wat dienooreenkomstig reageer. Hierdie terugkererende reaksie mag dalk verander of verberg of opgeskort word, maar die meeste mense sal dit nooit kan uitwis nie; dit kan so pynlik soos ‘n blaasontsteking wees of so blywend soos om jou huweliksmaat te verkul: wanneer die grensdraad van getrouheid geknip is, is daar geen manier waarop dit sonder gevolge herstel kan word nie!
Sommige mense sal dit “karma” noem en as die eenvoudige vertaling van die woord “optrede” beteken, dan staan die uwe skuldig sonder verlof tot verdediging.

…opgesmuk in wit en rooi
staan ‘n mensie met net een oog…

Hierdie twee versreëls ruk my terug na ‘n opstelletjie wat ek baie jare gelede geskryf het, nadat ek twee aardskuddende nuwe woorde ryker geword het: “Sine Cera” – klink amper soos die Ingelse woord “sincere” en dit is juis wat dit beteken, Opreg.
Die woord en gepaardgaande optrede het, by oorlewering, sy ontstaan deur die trou van twee Latynse woorde: sine (sonder) en cera (was).
In die antieke wêreld het oneerlike handelaars was gebruik om gebreke, soos krake, in hul pottebakkery te verberg sodat hulle hul goedere teen ‘n hoër prys kon verkoop. Meer betroubare handelaars sou egter ‘n teken oor of op hul potte aanbring – sine cera (sonder was) – om kliënte in te lig dat hul goedere egte ware was.

Uiteraard is ek nie ‘n etimologiese deskundige nie, maar ek het in my kort tydjie op hierdie lewenspad baie misleidende bemarking deur bemoedigende “handelaars” gesien. Ek het mense ontmoet wat so aanneemlik lyk dat ek my eie vir hulle sou kon prysgee. Ek het mense ontmoet wat verkies om met die een oog ‘n “ander pad” te kyk; om selfs my baie foute tydelik te verskoon.

In alle opregtheid weet ek dat ek ook net ‘n kleipot is; ‘n kleipot wat baie foute het en dat ek op my vatbaarste vir ‘n spreekwoordelike “pakslae” is wanneer ek dit wil ontken of erger nog, dit wegsteek dat jy of iemand anders nie my gebreke moet sien nie. Wanneer ek eerder ‘n beter weergawe van my, as wat dit is, aan jou wil verkoop.

‘n Man wat kán, skryf die ander dag: die slang het Eva die “wasbehandeling” in die tuin gegee en sedertdien het ons almal leer was-vul.
In klassieke Grieks beteken die woord “skynheilig” iemand wat ‘n masker dra, ‘n toneelstuk.

Sonder om die mantel van lekeprediker onnodiglik oor my skouers te hang, kry ons ‘n duidelike prentjie wanneer Paulus sê: die ware gelowige moet sonder ‘n masker liefhê. Die liefde moet werklik wees en nie voorgee nie. Dit moet sonder ‘n verborge agenda wees.
Verskoon tog die afgesaagde uitdrukkings, maar die redes vir die maskers en eenogigheid mag dalk net wees omdat dit baie makliker is om te beweer dat ons iemand liefhet, indien ons van hulle hou; ons mensies het tog hierdie fyn kuns vroeg-vroeg aangeleer.

Ons vertel vir iemand dat ons vir hulle sal bid, aan hulle sal dink, maar ons doen dit nie regtig nie, of ons verkondig graag dat ons hét; so al asof dit mý voorbidding was wat ‘n ander se geluk veroorsaak of gesondheid herstel het!
Ons glimlag terwyl iemand praat, maar ons luister nie regtig nie.

Ten slotte, hierdie wêreld skuld jou en my niks nie; soortgelyks is die meeste van die mense rondom jou, nie jou vriende nie.
Dit kan egter ‘n beter plek word wanneer ek begin om liefdevol op te tree.

Stop! skreeu iemand: dis skynheiligheid!
Inderdaad is dit nie.

Net soos ‘n kind soms praat sonder om te dink, net so moet ons op ‘n liefdevolle maniere optree, vóórdat ons dit met die regte hart doen. Ek het geleer om te kook deur soms die kos te verbrand en my laaste houtwerktaak op skool was nie foutloos nie, inteendeel, maar dit was stukke beter as dié aan die begin van standerd ses.

Die regte optrede volg dieselfde pad; ons moet eers die liefdevolle ding doen. . . en ‘n liefdevolle hart sal daarna volg.

Wat is die regte ding vir jou om te doen?




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Ano

    25 Desember 2018

    “Kindness matters” – altyd.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 37
Kommentaar telling: 0

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 210 gaste aanlyn

Bydraes – Argief