Winter in haar wese
(goud)
Buite knoop die winter
haar purpergroue kamerjas
aan die uitgebreide blouheid
van die Bolandhemel vas;
sy strek dit wyd en syd, van hoek tot kant
sy stort water oor die land
wat eens so bitter dors was.
Sy trek die berge toe vir dae lank
as belofte dat die wingerde
altyd weer sal rank.
Maar soms loop sy poedelkaal
(sy maak of dit nie koud is nie).
En haar son en maan en sterre
ken die taal
om stories oor oneindigheid en lig
uit die dieper donker te verhaal.
© Carma Shaw
7 Junie 2019
10:45
2 Kommentare
-

Palet
Baie mooi
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Junie 2019 projek