Jongste aktiwiteit:

‘n Seen van bo . . .

“Na ons die offergawe opgeneem het, sing ons Lied 290,” hoor sy haar geliefde wederhelfte se stem van die kansel.

Instinktief neem sy haar Bybelomslag, slaan dit oop om haar kollekte geld te kry. ‘n Diep frons verskyn meteens tussen haar potlood dun wenkbroue. Daar is dan niks in die sakkie wat sy altyd haar geld sit nie! Paniek neem van haar besit. Sy maan haarself om net rustig te bly.

Sy gaan in haar gedagtes terug na vroeër die oggend voor sy kerk toe gestap het. Stap vir stap gaan sy oor haar bedrywighede. Nadat Dries die huis verlaat het, het sy haar gesig begin inkleur. Daarna het sy haar krale aangesit, voor sy haar hare gedoen het. Toe parfuum in haar kas gaan vat om aan te sit. Sy was net besig om haar kollekte geld uit haar beursie te haal, toe die vervlakste telefoon gelui het. Sy is dood seker sy het die geld uitgehaal. Wat op dees aarde het sy daarmee aangevang? Hoe sal dit nou lyk as die dominee se vrou nie kollekte ingooi nie.

Sy probeer so rustig as moontlik bly, maar die gemeente lede naby haar het klaar opgemerk dat sy erg angstig is. Sy skrop in haar Bybelsak soos ‘n hoeder opsoek na daardie enkele mieliepit tussen die gras. Sy het geen keuse as om onder die kerkbank in te loer of dit nie dalk uitgeval het nie.

“Mevrou, is daar fout?” hoor sy ouderling Botha van agter haar vra. Sy raak bloedrooi in haar gesig van verleentheid. Sy kan mos nie aan die ouderling beken dat haar kerkgeld nou weg is nie. Nog minder dat sy geen idee het wat daarvan geword het nie. Nie dat sy nou eintlik ‘n keuse het nie, want die kollekte bordjie is haastig op pad in haar rigting.
“Ouderling Botha, my kollekte geld is nou net weg. Ek is dood oortuig, ek het dit in my Bybelsak gesit soos ek altyd doen.”

Ouderling Botha, staan summier op en begin ook onder die kerkbank loer of hy dit nie daar sien nie. Van die preekstoel, staan en bekyk Ds Dries Vermaak die hele gedoente. Wat sal nou aangaan dat daar so ‘n bevange uitdrukking op Luna se gesig is?

Haar baadjie het nie eers sakke dat sy dit dalk daarin kon sit nie. Of het sy net met die haastigheid nooit die geld in haar Bybelsak gesit nie?

“Nee, mevrou Dominee, ek sien niks,” hoor sy ouderling Botha se verdoemende woorde.

Liewe genugtig daar is nog een ander plek waar die geld kan wees. Die gedagte tref haar soos ‘n voorhamer. Sy het die slegte gewoonte om haar selfoon en soms geld by haar boesem in te sit as sy nie ‘n sak het nie. Sy het sekerlik dit gedoen. Die gedagte dat sy ten aanskoue van die hele gemeente nou ‘haar hand in haar boesem moet steek’ laat haar gesig vuurrooi word. So ‘n skande sal nie Dries of sy oorleef nie.

Luna stoei nog so met die besluit: sal dit erger wees om nie kollekte in te gooi of sal dit erger wees om ten aanskoue van die gemeente haar slegte gewoonte te onthul.

“Mevrou,” hoor sy iemand langs haar sê. Dit is die diaken met die kollekte bordjie.

O! Liewe hemeltjie. “Vader, nou het ek ‘n hengse wonderwerk nodig en vinnig ook,” skiet sy ‘n stil gebed op.

Die hele gemeente se oë is op haar gerig. Die susters van die VLV sit met opgehoue asems, dit sal darem nou vir jou ‘n lekker brokkie skinder nuus wees as mevrou Dominee sowaar nie vandag kollekte geld gebring het nie.

Sy wil net haar hand oplig om tog maar te voel of die geld in haar geheime bêreplek is, toe ‘n beweging agter haar oog vang. ‘n Klein rooikop seuntjie wat net skuins agter haar sit, het die hele tyd die gebeure dop gehou, en voel baie jammer vir die gawe tannie Dominee. Op die ingewing van die oomblik buk hy onder die bank in. Kom dan op met ‘n groot glimlag op sy sproetgesiggie: “Me-vroo-u Dominee, me-vroo-u Dominee, ek het dit gekry!” Sy kyk verstom om. Hy steek sy armpie oor die bank se leuning en druk ‘n twintig rand noot in haar hand.
Sy is so verlig en bly, sy kan die kind sommer soen! “Baie dankie Boetie,” bedank sy hom dankbaar. Sy plaas die geld tussen twee ander note. Niemand sal weet wat sy in die bordjie gesit het nie.
Jannie glimlag net. Hy sal wel weer geldjies spaar vir daardie tol, wat hy na kerk wou gaan koop. Hy kan mos nie net toekyk, hoe sy Dominee se vrou so vreeslik verneder word nie. Sy is altyd so vriendelik met hom.
Sjoe, dit was darem nou byna ‘n vreeslike palawa. Jannie Mostert was vandag beslis ‘n sëen van Bo. Luna haal diep asem, om haar onstuimige hart onder beheer te probeer kry. Sy weet dat hierdie nie háár kerkgeld is nie. Dit maak haar net nog meer dankbaar vir die gebaar, sy is verskriklik verlig oor die uitkoms.

Sy stap dadelik pastorie toe na kerk, sy het nie na die besigheid lus om geselsies te maak nie. Sy wil nou net uit hierdie benoude kerk-pakkie uitkom.

Wanneer sy haar baadjie uit trek, val die honderd rand noot op die vloer voor haar voete. Sy raak so aangedaan oor die kind se gebaar, dat sy in trane uitbars.

“Luna, waar is jy?” hoor sy Dries na haar roep.
“Hi-e-r, in die kamer,” snik sy dit uit.

“Nou, hoe is dit dan nou, my Dierbaarste?” Hy troos haar en wanneer sy klaar gehuil het vertel sy vir hom van die seuntjie se onbaatsugtig daad wat haar gered het van vernedering voor die hele gemeente.

“Ek is seker as jy vir klein Jannie ‘n dosyn van daardie heerlike koeksusters van jou gee, sal hy ewig dankbaar wees dat hy jou gehelp het. Dit is goed om te weet dat daar nog kinders is met sulke mooi harte.”

Die Maandagnamiddag, loop Luna die straat af, haastig op pad na die Mosterd’s se huis. Wanneer sy aanklop is dit niemand anders as Jannie wat die voordeur oop maak nie.

“Me-vroo-u Dominee!” kry hy dit verbaas uit.

Sy hou ‘n mooi toegedraaide pakkie na hom uit. “Dit is net vir jou, baie dankie dat jy my so mooi gehelp het gister.” Voor sy moeder nog kan kom kyk wie by die deur is, is Luna al weer op pad.

Jannie glip by sy kamer in en skeur die pakkie oorhaastig oop. Daar is die heerlikste goudbruin, stroperige koeksisters in en toe hy dit oplig lê daar ‘n honderd rand noot. Hy spring op en af van blydskap. Nou kan hy sy tol gaan koop en nog spaar.

“Jannie, wie was by die deur?” vra sy Moeder.

“Me-vroo-u Dominee het vir my koeksisters en die gebring,” sê hy ingenome terwyl hy die honderd rand ophou en in die lug swaai. “Dit is om dankie te sê dat ek gister haar geldjie opgetel het,” hou hy mevrou Dominee se geheim dig. Hy voel sommer so groot en die feit dat hy so sleeptong praat pla hom skielik glad nie!




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed