Pieter Mostert
Januarie 2023 – Projek NUUT
2. DIE PREFEK VERTEL
Ek is ’n ou moutortjie. My naam is Prefek, so blouetjie, kraaknuut en spoggerige 1960 model met net twee deure aan my vel, een vir pa en een vir ma. Ek was almal se liefing, deel van my gesin, hul plaas-toe-gaan moutortjie gedurende skoolvakansies. Dan het die kinders uitgelate jaar na jaar op my agtersitplek gesing en baljaar.
Desembermaande, wanneer die skool sluit en pa se verlof begin, het hy besluit ons ry die lang pad plaastoe môre-aand. Ons gaan ’n hele maand vir oupa en ouma kuier.
Dan word ek eers van kop tot bande gewas en gediens. My leersitplekke is kraaknuut gepoleer en ek het soos ’n nuwe moutortjie gevoel. Om die waarheid te sê sommer vonkelnuut met ’n nuwe brul in my stap. Ag skuus, ek meen met ’n nuwe brul in my enjin.
Wanneer pa agter my stuurwiel ingeskuif het, en my neus in die rigting van die plaas gedraai het, het die kinders begin sing: “Pappie trap die petrol dat ons vinniger kan ry…” Dan het my enjintjie met ’n vonkel in sy proppe en ’n vars kreun in sy punte gedreun van lekkerkry. Ek hoor en sien nog hoe pa agter my stuurwiel met stoot-bewegings steunend en kreunend, my die stewige bulte op pad plaas toe probeer uithelp het.
Destyds was daar nie deurpaaie soos die hedendaagse N4 met Ultra Cities , waar ons kon stop om bene en my bande te rek met ons swaar vrag nie. Die afstande tussen die dorpe het net eenvoudig l..a..n..k gevoel. Ons het dit aan ons moëe lywe gevoel.
Tot op Middelburg was dit teerpad. Net buitekant die dorp was daar ’n aftrek-plekkie langs die pad met ‘n betontafeltjie en bankies onder groot Bloekombome. Daar het pa gestop sodat die kinders eers ’n toebroodtjie wat ma vir hulle ingepak het kon hap, voordat ons weer die die langpad plaastoe aandurf. In die dorp het pa by die vulstasie gestop om my maag weer vol te maak om te verseker dat ek genoeg krag het om die laaste skof plaastoe te maak.
Die grondpad vanaf Middelburg tot voor ons die berg afdaal Stofberg toe was vir my ’n langste en eentonigste stuk pad, plaas toe. Wanneer die berge en koppe so om my begin toevou het, het ek al vinniger begin ry, want ek het geweet dat die bergpas na Stofberg nou naby is. Die wêreld het nou, nadat ons die lang bergpas af is heel anders begin lyk. Dís mos plaas-wêreld hierdie! Dít is mos hoe oupa se wêreld lyk! Hoe nader ons aan die plaas gekom het, hoe stiller het dit in my kajuit geraak. Die gedreun van my enjintjie en die gedruis van my wiele het die gronpad laat kraak onder my nuwe bande.
Elkeen in my kajuit was nou besig met sy eie gedagtes. In my eie gedagtes kon ek sien hoe oupa, wat die pad al van vroeg af dophou kort-kort op sy polshorlosie kyk, en op en af met die pad tussen die laning populierbome stap sonder om ’n blik te wyk, hardop mor: “Waar draai Sus en Basie so lank? Hulle moes al hier gewees het, jis-hof, dis al twaalf uur!”
Dan druis my wiele op die grondpad deur die drif, oor die brug teen die laaste bult op. Dit was dan dat pa my so teen die bulte wou uitstoot met kreun-steungeluide, so asof hy wou sê: “Kom nou ou moutortjie, jy het jou tot nou toe goed gedra, nog net hierdie laaste bult uitloop.” Almal in my kajuit was nou angstig op die uitkyk vir die naambordjie: J.A. OOSTHUIZEN Dít is die uitdraai na oupa se plaas; oupa se bordjie.
Wanneer ek eindelik in die laning tussen die populierbome afgekom het, kon ek in my gedagtes sien hoe die ritueel homself herhaal. Oupa, wat met sy kakiehoed in sy hand staan en wuif. So asof hy my met sy hoed op die werf wil invee. Dan skiet oupa se hemelblou oë vol trane van dankbaarheid, en omhels hy die vier kinders sommer almal gelyk: “Waar draai julle so lank? Ek hou die pad al van vroeg af dop. Ai, maar ek is bly om julle te sien”
Intussen het ouma ook nader gekom, met trane in haar oë. Ek sien nog haar pragtige voëlnessie warm bruin oë onder haar kappie uitloer terwyl sy ’n traan of twee met haar voorskoot wegvee, die kinders hartlik omhels en vir my ’n dankie-sê klap op my skouer gee. Ouma het nooit baie gepraat nie. Ek het baie maal gewonder wat dan nou in haar kop aan die maal is. Sy was ‘n netjiese vrou, ’n ware dame. Mooi, ’n sagte beskeie vrou, ’n regte ouma, met haar lang grys hare in ’n netjiese bollatjie agterhaar kop opgebind.
Nadat pa hulle bagasie afgelaai het, het hy my netjies in een van oupa se store, wat hy spesiaal vir my skoongemaak het, getrek. Hier op oupa se plaas het ons vir ‘n maand lank gekuier,en het ek heerlik uitgerus. Na ’n maand se lekker kuier op oupa se plaas, is ek weer gelaai vir die lang pad huistoe en was die afskeid met ’n tranedal bejeën. Ek moet erken dat ek maar self moes sluk aan die knop in my keel wanneer ek in die laning opgery het oppad terug huistoe.
Jare later het pa gevoel hy moet opgradeer, en het hy my gelykop verruil vir ’n Zehpyr – so windmakerige maroon een met vlerke en ’n wit dak. Ek onthou nog hoe ons almal lang trane gestort het toe die nuwe eienaar met myby my geliefde familie se erf uitry. Ek kannie onthou wie die meeste getreur het nie, ek of die kinders. Selfs pa het ’n traan weggevee.
Oor die jare het daar baie eienaars vir my gekom en gegaan, maar niks was ooit weer dieselfde nie. Ek het gerou oor my geliefde gesin, en het dit al ’n hele paar keer ernstig oorweeg om terug te ry na hulle toe. Plaas dat ek dit maar gedoen het, want my gesin het my altyd blink vertroetel my vonkelnuut gepoets en met soveel liefde behandel.
Maar nou ja! So verspeel ’n moutortjie maar sy kanse. Spyt kom altyd te laat! Nou bevind ek myself hier in ‘n skrootwerf waar ek van my kar-wees gestroop word. My baadjie se moue is al afgeruk en is vuil, verkreukel en geroes. My voor en agter oë asook my knip-oog-liggies is ook al verwyder deur motorversamelaars. Daar is nie meer vonk in my proppe nie en my punte het ook verslyt geraak. My leersitplekke wat altyd so mooi deur pa versorg was is in flarde geskeur, en my bande is ook al vir maande lank pap. My binnegoed word die een na die ander verwyder. Net my geraamte is nog staande. Naak en week gestroop staan ek nou hier in die winterson. Ek is besig om ’n stadige, maar pynlike dood te sterwe. Ek wil so graag na pa toe teruggaan, maar ek kannie loop nie. Ek het my kanse om weg te ry na my geliefde gesin verspeel, maar ek het so tussen die praatjies gehoor dat pa ook al oorlede is. Ek wonder waar die kinders is. Seker ook al groot en oud. Nou sit ek ook maar hier in sak en as die lot op my verspeelde kanse en afwag.
Môre word my geraamte inmekaar gepers en in die vuuroond opgesmelt. Maar my hart sal niemand kan opsmelt, verspeelde kanse ten spyt. My hart behoort vir ewig aan my geliefde gesin by wie ek altyd kraaknuut, vonkelnuut en vars gevoel het …
WOORDETAL: 1280
(© Pieter Mostert)
Desember 2024 – Kersfees projek
2.Toe antwoord die krans
Oom Jan is die trotse eienaar van ’n spog-wynplaas tussen die Bolandse berge. Een van sy jarelange getroue werkers se naam is Krismis. By monde van homself het sy ma hom as Krismis gedoop omdat hy op Kersfeesdag gebore is. Krismis is ’n opperste platjie in murg en been.
Oom Jan het by sy buurman se volk gehoor dat die natuur met woorde toor en dat die kranse op Oukersaande antwoorde op die vrae in die eggo’s van jou stem gee.
Oom Jan het dit nie geglo nie, maar tog besluit om dit in die geheim op Oukersaand te probeer.
Om seker te maak niemand sien hom nie, het hy aan sy werkers takies uitgedeel ter voorbereiding van die geselligheid saam met sy familie en vriende later op sy plaas.
Met sy luukse 4×4 bakkie betree oom Jan die klowe tussen die berge op sy plaas. Voor een van die hoogste kranse hou hy stil. Hy glimlag by homself terwyl hy dink: Ag, hoe belaglik. Dis seker nou weer ’n ‘tokolosie-mite’. ‘Ai!, die mense kan tog so bygelowig wees!’ sê hy hardop vir homself.
Uit volle bors skree hy ongelowig vir die krans. ‘Wie is jy daar’? Toe antwoord die krans. ‘Dis ekke, Krismis, my Oubaas!’
Oom Jan kan sy ore nie glo en skree vir ’n tweede keer, net om seker te maak hy het reg gehoor.
‘Wat maak jy daar?’
Toe antwoord die krans weer. ‘Ek vang ’n plasie, my Oubaas!’
——————————ooo000ooo—————————
©Pieter Mostert
[Silwer]
[Woordtelling = 247]
FEBRUARIE 2025 – WATER PROJEK
1.Rotstekeninge van vriendskap
Buks Appelblaar is die hoofman van ’n groep Boesmans in die Kalahari in die noorde van Botswana. Pieter sit langs hom en sy vuurtjie, omring deur uitgestrekte saggolwende rooibruin duine van die Kalahariwoestyn.
Terwyl sy vuurtjie heerlik voort kletter in harmonie met die uitbundige klik-klak-klik-klak van Boesmantonge, tuur Buks in die vêrte, beduie met handgebare en begin in alle opregtheid en nederigheid vir Pieter in Boesman-patois-afrikaans, die verhaal van die skepping vertel.
“Myse groot vriend,” sê hy, “l-a-n-k … l-a-n-k … sy tyd, Naoea* Hy het diese karos vani hemel en diese karos vani aarde ga’kom uithaal by diese b-a-n-j-a groot water.” Hy bly ’n oomblik stil, so asof die oomblik vir hom ’n heiligheid inhou, dan gaan hy voort: “B-i-n-n-e-k-a-n-t by diese karos vani hemel Naoea Hy het ga’bêre diese son en diese blou-blou lug. En diese wit-wit woleke en diese reën en by diese swart-swart karos vani nag, Naoea Hy het gebêre diese maan en diese sterre.”
Buks se hande praat met uitbundige gebare saam. “Dan b-i-n-n-e-k-a-n-t by diese karos vani aarde Naoea Hy het onse Kalahariland sa’met diese veld en diese dyne ga’kom maak. Naoea Hy het net so ga’blaas by diese sand,” demonstreer hy vir Pieter. Dan gaan hy blinkoog voort terwyl sy handgebare saampraat. “Toe kom diese gras en diese plante en a-l-e-m-a-l diese diere by diese veld en diese voëls by diese blou-blou lug hiér by onse Kalahariland.”
Buks bly vir ’n paar sekondes stil, dan gaan hy opgewonde voort met sy verteling.
“Toe agterby d-a-a-r-i hoog dyn, Naoea Hy ga’maak diese vuur vani son en diese lig vani maan en diese lig vani sterre. Naoea Hy ga’maak Syse koker vol met Syse pyle wat hom diese water vani reën dra. Toe Naoea Hy het diese g-r-o-o-t stuk klei met Syse yge hane ga’brei en a-l-e-m-a-l hom diese groot volke daaruit ga’maak wat hom v-ê-r … v-ê-r … vêr … a-n-e-r-k-a-n-t verby by onse Boesm’land bly. Toe Naoea Hy het gevat diese k-l-e-i-n-s-t-e … k-l-e-i-n-s-t-e … stukkies klei wat diese hy lyk sos die stukkies van diese Kalaharisand, Naoea Hy het hom ga’brei en ga’brei en vir onse Boese’mense ga’maak. En vir onse Boese’mense hiér in diese Kalahari ga’kom los. Met diese veld en diese sand en diese rooi dyne es onse karos. Met diese wile dier en diese wortel en diese plant es onse kos diese water onse Boese’mense onse kry hom by diese wortel van diese plant en by diese plant syse bol hy lê diep oner ini sand, beduie Buks. “Onse bêre diese water b-i-n-n-e-k-a-n- by diese volestrys syse eier dan ons syg hom onse dors daruit met diese rietjie”.
Hy tuur weereens in die verte, so asof hy sy woorde afwag, dan gaan hy opgewonde voort met sy vertelling. “Sos Naoea Hy het klaar ga’maak onse Kalahariland, Naoea Hy het ga’gaan hom slaap by Syse blou-blou karos v-ê-r h-o-o-g bo agterverby by d-a-a-r-I hoog dyn,” beduie Buks Appelblaar, met oortuiging in sy oë. Dan kyk hy op na die naghemel bokant hulle.
Terwyl die sterrekaros van die naghemel in die spieëls van sy oë weerkaats, staan hy op en sê: “Nag myse groot vriend. Mag Naoea jou mooi toemaak by Syse karos vannaand, môre vroeg ons loop by die dyn se veld’.
Die eenvoud, nederigheid en opregtheid van Buks Appelblaar se vertelling, het Pieter soms tot trane geroer en hom genoop op diep introspeksie. Inteendeel, om ’n ou Boesmangesegde te gebruik, Pieter het gevoel of hy kort-kort op sy hurke moes gaan sit sodat sy siel sy liggaam kon inhaal.
Na ’n paar goeie buie lentereën gedurende die nag, stap Pieter die volgende dag saam met Buks Appelblaar die uitgestrekte golwende duineveld in. Sonbesies sing in die agtergrond. Hulle gaan sit op die lang groen gras. Dankbare stukkie aarde hierdie kalahariland, dink Pieter.
Dan begin Buks Appelblaar hom vertel van lank gelede se rotstekening wat die Boesmans in grotte op rotswande aangebrig het.
“Myse groot vriend,” sê hy, “l-a-n-k … l-a-n-k … l-a-n-k … sy tyd voor ek het ga’bore hier by onse Kalahariland, d-a-a-r … v-ê-r … agterverby by dari hoog dyn,” beduie hy met sy hande wat aanmekaar met gebare saam praat. “Daar was anner Boese’mense. Daari Boese’mense hulle het ga’mak hom diese banja mooi prent by diese klip binnekant by diese grond vani berg.”
Buks Appelblaar kyk vir Pieter met soveel deernis aan dat hy skoon ongemaklik en bewoë begin voel. Waarop stuur Buks Appelblaar nou af, wonder hy. Dan onthou Pieter dat dit die voorlaaste dag is van sy kuiertjie tussen die duine saam met sy nuutgevonde vriend.
Die volgende oomblik plaas Buks sy regterhand met ’n uitgestrekte arm op Pieter se hart. Pieter weet nie hoekom nie, maar instinktief plaas hy ook sy regterhandhand met ’n uitgestrekte arm op Buks Appelblaar se hart. Dan eggo Buks Appelblaar se woorde diep in Pieter se hart.
“Nou vandag, myse groot vriend,” sê Buks, “ek wil hom sit diese mooi prent van myse en van jouse vriendeskap binnekant by diese klip van jouse hart. Ok jy sit hom nou jouse en myse vriendeskap binnekant by diese klip van myse hart.”
Met trane in sy oë sê Pieter hardop: “Here, as daar ooit ’n rotstekening van ware en opregte vriendskap was, dan is dit hierdie een tussen my en Buks Appelblaar.”
Soos dit maar in die lewe gaan, kom alle goeie dinge op die een of ander staduim op ’n einde. Afskeid tussen baie goeie vriende was nog nooit aangenaam nie. Pieter kom staan voor Buks Appelblaar, en kyk hom met deernis reg in die oë. Dit is asof daar ’n heilige emosionele oomblik van deernis in die stilte tussen hulle hang.
Dan breek Pieter se stem deur die emosionele klankgrens van die ongemaklike stilte:
“Buks, my groot vriend, ek wil vir jou iets gee wat jou altyd aan ons vriendskap sal herinner voordat ek vandag teruggaan na my huis toe.”
Pieter sit ’n volstruiseier en ’n tweehonderd-rand-noot voor Buks Appelblaar neer. Jy kon die duineveld sien dans in die blink van Buks se oë terwyl trane van dankbaarheid oor sy wange vloei. Hy neem die volstruiseier en druk dit styf teen sy hart vas. Dan gee hy die twee-honderd-rand-noot vir Pieter terug.
“Hiri pampier myse groot vriend,” sê hy, “ek soek hom nie.”
Dan verduidelik hy opgewonde. “Jy sien, myse groot vriend, sos ek drink hom diese water saamet myse rietjie by hiri volestrys syse eier, myse hart se water sal by myse oge kom en myse hart sal soek vir jou. Ek sê jou B-a-n-j-a… B-a-n-j-a … B-a-n-j-a danki, myse groot vriend”, sê hy terwyl hy sy hande aanmekaar klap en hulle dan in mekaar vou en so vêr vooroor buig, dat Pieter skoon ongemaklik voel. Dan verduidelik Buks met trane in sy oë: “Hiri volestrys syse eier, myse groot vriend, hy sal jouse naam by myse hart dra net soos daari mooi prent van jouse en myse vriendeskap by diese klip van onse harte, van a-l sy tyd tot l-a-n-k sy tyd tot by Naoea Syse tyd.”
——-ooo000ooo——-
©Pieter Mostert
[WOORDTELLING: 1 187]
VOETNOTA: *Naoea is by monde van die Boesmans die Hoogste wese. [In die woorde van Nancy Gardner is die Boesmans inderdaad: “Little golden people”, met groot harte]
Maart 2025 – OOP projek
2.Loop die paadjie in jou labirint tot by sy middelpunt
Pieter kuier op ’n vriend se plaas in die Kalahari. Hy is ’n emosionele wrak nadat hy hierdie einste vriend van hom traumaties aan die dood moes afstaan. Hy is nie lus vir mense om hom wat gedurig lastige vrae vra nie. Hy wil net alleen gelaat word. Pieter stap buitentoe en gaan sit op ’n stomp onder ’n reuse Kameeldoringboom.
Na bykans veertig jaar, sit hy weer, hierdie keer alleen, in die Kalahari onder dieselfde Kameeldoringboom waaronder hulle destyds as kinders gespeel het tydens skoolvakansies. Sy oë gly oor die saggolwende duineveld wat voor hom uitgestrek lê. Ikonies kontoer haar rooibruin sluier bewondering in die spieëls van sy oë. Dit voel asof hy omhels word deur die stilte van die Kalahari om hom. Kyk hoe uitbundig dans die hittegolwe op haar duinesee. Hoe salig! Is dít nou nie genade nie? dink Pieter.
Skielik kom die woord ‘labirint’ in sy se gedagtes op. Wat sou dit beteken? wonder hy. Sover sy kennis strek is ’n labirint ’n geometriese patroon met net een enkele voetpad, wat stadig na die middelpunt daarvan wentel. Anders as by ’n doolhof of ’n dwaaltuin, het ’n labirint geen doodlooppaadjies nie.
Sou ’n mens dan op grond hiervan kan redeneer dat ’n labirint, ’n ‘meduim’ tot introspeksie is wanneer ’n persoon ’n dialoog met homself voer, wonder Pieter. Dan begin hy inderdaad wel ’n gesprek met homself voer.
“Kyk, na die Kalahari om jou, Pieter. Sy lê uitgestrek in haar rooibruin kleed, en dit is asof jy haar kan hoor asemhaal in die wind. Daar is ’n rustige nostalgie in haar saggolwende duine.”
Pieter stap ’n ent die duine in en voel die krakies van die sand onder sy kaalvoete. “Dít, is Kalahari-kreukels,” dink hy hardop, “gevorm deur die emosionele winde van verandering in die sandduine van die Kalahari.” Hy kan die heimweë van sy herinneringe hoor in die klaaglied van die wind.
“Kyk mooi Pieter,” hoor hy die stemmetjie in sy binneste, “sien jy wat ek sien?”
Waar die winde buit, stryk sy haar emosionele kreukels uit. Wat ’n lewensles. Pieter sien biljoene korreltjies sand wat hul weg vind, ordelik geskakeer in die soom van haar uitgestrekte saggolwende rooibruinkleed.
Dan hoor Pieter homself hardop bid: “O, ewig uitdyende kleed van die Groot Almagtige. Só lê die uitgestrekte emosionele kreukels van my lewe. Ja Heer, naak en week, uitgelewer aan die helende waaisand van U onbegryplike groot genade. Een asemteug soos ’n korreltjie van haar sand; een kreukel in die holte van U hand. Uitgestrek soos die rooibruin kleed van die Kalahari lê my lewe gegraveer in die holte van U hand.
Pieter sluit sy oë en kon letterlik voel hoe die sand en die wind oor die seer van sy emosies spoel. Die skerp ruik van die Kameeldoringpeule was soos wierook wat sy neusvleuels opgesuig word.
Dan hoor Pieter ’n rustige en vertroosende Stem in die huil van die wind: “Pieter, loop die paadjie in jou labirint. Ek wag vir jou by sy middelpunt.”
———————————-oo00oo——————————-
©Pieter Mostert (16/03/25)
APRIL 2025 – AARDE PROJEK
2.Innoverende ekologiese oog
Dit is die jaar 3001. Die aarde is oorbevolk en die tegnologie het feitlik alle beheer en organisasie van individue se daaglikse handel en wandel oorgeneem. Toegang tot alles op aarde werk net met die druk van ’n ‘icon’ op die skerm van ’n rekenaar of selfoon, die skandering van jou duim of jou gesig of selfs op die identifikasie van ’n persoon se stem. In sy geheel word die aarde vanuit die ruimte bestuur deur ’n spesiale taakmag genaamd, Eko-oog (Eco-eye), vanuit die ruimtestasie bekend as Die Innoverende ekologiese-oog, (Innovative eco-eye), met nege sub-stasies.
Gerhard is ’n ekoloog, en in bevel van die taakspan bestaande uit kundiges op alle lewensterreine.
Hierdie span kundiges onder aanvoering van Gerhard, is getaak om toe te sien tot die beskerming van die aarde, insoverre dit die natuurlike volhoubare ontwikkeling en voortbestaan van die aarde betref.
Gerhard sit in die moederskip en staar na die groot monitorskerms voor hom waarop die gebeure op die onderskeie plekke op die aarde vertoon word. Sy gedagtes dwaal weg na die sorgvrye dae op die aarde waarvan hy gelees in ’n boek wat sy Oupagrootjie, ’n gerespekteerde ekoloog op sy dag, geskryf het.
In die boek vertel Gerhard se Oupagrootjie van hul sorgvrye dae op die aarde toe hy en sy boesemvriend, Pieter, nog kinders was. Hulle gunsteling speelplek was in die voetpaadjie wat deur die veld geloop het, op Pieter-hulle se plaas in die Kalahari.
Gerhard se Oupagrootjie, so lees die storie, was dan die “Stadsbeplanner,” wat met sy matchbox en dinky-toy- stootskrapers en lorries vir hulle ’n dorp met strate uitgelê het. Die dorpies wat hy vir hulle speeldoeleindes uitgelê het, was altyd in volledige detail gedoen. Daar was onderandere parke, damme, stroompies, vulstasies, ’n Poskantoor asook verskeie soorte winkels. Ware miniatuurdorpe.
Almal het altyd gedink dat hy, wat Gerhard se Oupagrootjie is, eendag ’n ingeneur of ’n ware Stads- en Streeksbeplanner sou word. “Nou is Oupa-groot se kinderjare lank reeds vergete,” dink Gerhard hardop, “en hulle voetpaadjie toegebou onder die betonreuse op die skerm hier voor my.”
In sy wildste drome sou Gerhard nooit kon dink dat hy eendag ’n ekoloog sal word en dat hy gemoeid sal wees met die bestuur van die ekologie van die aarde hier vanuit die ruimte nie. ”Ek wonder wat sou Oupa-groot sê as hy vandag hier langs my kon sit en die aarde op hierdie skerms sien?” dink Gerhard weer hardop.
Dit is ’n rustige aand, en omhels deur die pragtige sterrehemel rondom die moederskip, sit Gerhard stoksielalleen in die beheerkamer van die ruimtestasie. Met sy Oupagrootjie se boek voor hom, begin hy aandagtig daardeur lees.
Hy lees van die oorsprong van die skepping en in besondere belangstelling lees hy van die skepping van die aarde en lewe op die aarde deur ’n God. “Dis nou interessant,” sê hy hardop vir homself. “Wie sou hierdie God wees waarvan Oupa-groot praat? want Pa het my nooit van soiets vertel nie.” Dan lees hy met intense nuuskierigheid verder deur Oupa-groot se boek.
Hy gaan staan stil by die gedeelte waar Oupa-groot sê: “Want so lief het God die wêreld, (aarde), gehad … Want God het Sy Seun in die wêreld, (aarde), gestuur … dat die wêreld, (aarde), deur Hom gered kan word.” “Dit kannie waar wees nie prewel-dink Gerhard.” “Ek en my kundige taakspan is dan belas met die beskerming van die aarde.”
Hoe verder Gerhard in Oupa-groot se boek lees, hoe meer voel hy hoe daar ’n ongekende deerdis in sy binneste opvlam totdat die trane vrylik oor sy wange vloei.
Hy maak die boek toe en terwyl hy dit styf teen sy hart vasdruk, hoor hy homself sê: “Baie dankie, Oupa-groot” en kyk hy vir die eerste maal in sy lewe as taakspanleier met absolute bewondering in sy oë, na die planeet aarde op die groot monitor se skerm voor hom. Die aarde het nog nooit so mooi vir hom gelyk soos op daardie juiste oomblik nie. Dit het vir hom gevoel of hy die pragtige kleurvolle aarde nog nooit regtig met passie bedien het nie. Dit was maar net ’n werk soos enige ander werk.
Dan sê Gerhard hardop vir die aarde: “Liewe aarde, in hierdie oneindige groot heelal is daar geen planeet of ster wat jou gelyke is nie. Solank as wat ek lewe sal ek my beywer om jou en jou ekologiese prag te beskerm en te onderhou.”
Net daar staan Gerhard op en ontbied sy volle taakspan om ’n noodvergadering te kom bywoon, waartydens hulle eerstens die kwessie van die oorbevolking van die aarde aanspreek het deur die opstel van
’n etiese kode, met baie streng regulerende reëls ten opsigte van verdere bevolkingsgroei, deur paartjies te beperk met hoogstens twee kinders per gesin.
“Menere,” sê Gerhard. “Die kwessie van verstedeliking en daarmeegepaardgaande lugbesoedeling- en vullisbestuur moet ook streng deur ons as taakmag beheer word. Johan, sal jy en jou span toesien dat die nodige maatreëls hier ingestel word?” vra Gerhard.
“Verder is ons as taakmag ook aangestel om toe te sien dat elektrisiteit foutloos, op ’n deurlopende basis, aan die aarde voorsien word deur die nege kernkragstasies wat ons gebou het, hier in die ruimte net buite die atmosfeer van die aarde,” sê Gerhard in ’n besliste stem. Dan verduidelik hy: “Sodoende sal ons verhoed dat die moontlike nadelige biochemiese uitwerking wat kernkrag opwekking op die fauna en flora van die aarde, mag oorgedra, uitgeskakel word. Die fauna en flora, asook die avifauna en akwatiese sisteme op die aarde, moet te alle koste beskerm word, ten einde die ongeskonde skoonheid en die voortbestaan daarvan te verseker. Daar sal dus géén kragstasies op die aarde toegelaat word om so lugbesoedeling te voorkom, is dit duidelik, Menere!” sê Gerhard weereens met nadruk. “Kobus, sal jy en jou span hierdie taak behartig, asseblief?” Vra Gerhard.
“Een van die eerste projekte wat ons baie dringend van stapel moet stuur, Menere, is om die osoonlaag rondom die aarde van ’n lensomhulsel te voorsien. Die omhulsel moet basies werk soos ’n bril met getinte lense, om sodoende die klimaat van die aarde te kan beheer, sodat dit so natuurlik moontlik kan funksioneer.” Verder moet ons ook elektroniese meters net binne die aarde se atmosfeer aanbring waarmee ons dan die hoeveelheid gasse wat die mens met sy bedrywighede op die aarde in die aarde se atmosfeer loslaat, soos onder andere kweekhuisgasse, kan monitor.” Leon, jy en jou span sal hiervoor verantwoordelik wees,” sê Gerhard.
“Dan Menere, is ons ook getaak om die probleem van oorverhitting van die aarde aan te spreek,” gaan Gerhard voort terwyl hy opmerk hoe van die taakspanlede vir mekaar kyk en ongemaklik begin rondskuif. “Die aarde se temperatuur moet op ’n deurlopende basis gemonitor word. Dit beteken dat ons sewe reuse elektroniese termometers buite die atmosfeer van die aarde in die ruimte sal moet aanbring, want weens die reeds oorbevolkte aarde kan ons nie die termometers op die aarde se oppervlakte aanbring nie,” sê Gerhard. “Andries, hierdie is jou en jou span se baba, reg so?” sê-vra hy sonder om op ’n antwoord te wag.
“Wat die aarde se tropiese reënwoude betref, het ek besluit om dit in vier kontinentale biome te verdeel naamlik, die Ethiopiese reënwoud, die Australiese reënwoud, die Oosterse reënwoud en die Sentraal- en Suid-Amerikaanse Neotropiese reënwoud. Hierdie tropiese reënwoude moet beskerm word deur infrarooistrale wat seine uitstuur en sodoende enige onreëlmatighede aan ’n rekenaar rapporteer. “Andre, ek dink jy en Chris en julle spanne sal hierdie projek vir ons kan bedryf,” sê Gerhard met ’n glimlag. “So ook moet julle kyk hoe julle die problematiek van suurreën wat periodiek voorkom oor groot dele van die aarde,wat veroorsaak word deur die vrystelling van swaeldioksied en stikstofoksied tydens verbranding van fossiele brandstof deur fabrieke en ander nywerhede, kan ondervang.”
“Die laaste drie punte op ons agenda, Menere,” sê Gerhard, “is die kwessie van ontbossing en drooglegging van vleilande en natuurlike sponsgebiede vir boerderydoeleindes op die aarde.” Omdat dit ’n uiters negatiewe impak op die biodiversiteit het, moet dit onder geen omstandighede toegelaat word nie. Daarbenewens moet ons ook die probleem van gronderosie aanspreek.” Willie en Werner, julle en jul spanne moet hierdie ekologiese probleem oplos, asook die probleem van besoedeling van watermassas soos mere, riviere, fonteine, oseane en grondwater deur die storting van vullis, chemiese en mediese afval deur mynbou, nywerhede en die medici.
Nadat Gerhard die vergadering verdaag het, gaan sit hy weer voor die groot skerm waarop die aarde asook die bedrywighede op die aarde gemonitor word. Hy lees verder uit Oupagrootjie se boek. Dan lees hy ‘n gedig getiteld Die waarde van die aarde, wat Oupa-groot geskryf het, hardop:
“Die aarde is met waarde belëer
toe God die mens uit haar stof formeer
en met Sy asem die mens begeester
om Sy skepping as rentmeester te bemeester
om Sy skepping te bewerk en te bewaak
het God Sy rentmeester getaak
dít is óns – rentmeesters van die Meester,
ook jý wat nou hier lees ís Sy rentmeester”
In diepe bepeinsing herhaal Gerhard die woorde vir homself oor en oor. Met ander woorde, dan is ek asook elke lid van my taakspan rentmeesters van Oupa-groot se God, híér op die aarde. Wat ’n eer het my dan nie te beurt geval om die rentmeester-leier te wees van ’n taakspan genaamd Innoverende ekologiese oog …
——————————–oo00oo——————————–
©Pieter Mostert
[aantal woorde = 1 572]
JULIE 2025 – SKADUWEE VAN TYD PROJEK
2.Gwe en Kaggen – Die stryd om die Tyd (’n Boesman-mite uit die Kalahari, oor lig, trots en die kringloop van tydskadu’s en balans)
In die dae toe die wind nog die Kalahari se geheime gefluister het, het ’n wyse ou Boesman met die naam Gwe, alleen onder ’n reuse ou kameeldoringboom gesit. Die naam Gwe, beteken ‘die een wat terugkeer’. Gwe het die maan verteenwoordig.
Kaggen, die bedrieër-god wat in die gedaantes van ’n verkleurmannetjie, ystervark, mantis, slang of eland kan verskyn, het gesien dat Gwe alleen onder die kameeldoringboom sit. Hy het toe besluit om by Gwe te gaan sit.
Die aandlug was koel en die naghemel met sterre besaai. Gevolglik het Gwe en Kaggen besluit om ’n vuurtjie te maak.
Die geelrooi vlamtonge van die vuur het skadu’s, wat lyk soos dansende geeste op die hoë duine van die uitgestrekte Kalahariwoestyn, gewerp. Elke skadu was die draer van ’n storie wat oor tyd uit ’n spoor in die sand ontstaan het.
Kaggen, het na Gwe gesit en staar en hom verwonder aan die sagte glans van sy se gesig.
“Gwe,” sê Kaggen geamuseerd, “Jy kry te veel lof van die mense maan-man. Die mense wag vir jou. Hulle sing elke aand om die vuur van jou en vir jou.
Hulle is vrolik want hulle kan in jou lig sing en dans terwyl hulle hande klap van blydskap.”
Gwe het net stil geglimlag, soos iemand wat nie alles wys nie. Sy gesig was nie volrond nie, want die helfte van sy gesig het in die duisternis van die Kalahari-nag om hulle gelê.
“Ek bring nie net lig nie,” sê Gwe saggies. “Ek bring tyd. Ek bring ritme. Ek bring rus.”
Kaggen het geskater van die lag. “Rus!” sê hy. “Jy speel seker, rus is vir die dooies.
“Ѐk bring lag, verandering, chaos! Sonder my is die wêreld net ’n groot, stadige drif sonder sprankel”, spog Kaggen, maar in sy hart het jaloesie begin knaag.
Kaggen, wat graag die sterre se ordening omgooi en die slang-god tart, het ’n plan bedink. Hy sou Gwe se lig steel, die tyd ontwrig en self die hemel laat draai volgens sy grille.
Een nag, toe die maan vol aan die hemel hang en die mense stories vertel het van liefde, geboorte en jag, het Kaggen ongemerk oor die duine gesluip. Hy het ’n groot swart driepootpot van obsidiaan, (vulkaniese glas), gemaak, en dit onder die lig wat Gwe uitstraal gehou. Die pot het begin om Gwe se lig in te trek. Gevolglik het Gwe begin verbleek. Sy ronde glans het begin kwyn.
“Wat is jy nou besig om te doen?” fluister Gwe benoud vir Kaggen.
“Ek gee die mense iets nuuts. Ek gee hulle tyd sonder verwagting. Tyd sonder herhaling. Ek breek die kring waarin jou spore loop,” sê Kaggen met ’n koggel-lag soos ʼn hiëna terwyl hy soos jakkals die nag in verdwyn.
Die maan het begin om sy glans in geheel te verloor en die Kalahari was in algehele duisternis gedompel. Die nag het skielik stom geraak. Doodse stilte het oor die Kalahari-nag gehang. Daar was geen naggeluide van diere soos uile wat roep en jakkalse wat tjank nie.
Die mense het verdwaas na mekaar in die donker begin soek terwyl hulle uitroep:
“Waar is die maan? Waar is ons tyd? Het die wêreld dan nou sommer so skielik opgehou draai?”
Sonder die maan het die die jagters hul oriëntasie verloor, die kinders hul drome. Die nag het nie meer stories gehad nie, net stilte en verwarring.
Maar in die diep hart van die Kalahariwoestyn, het Gwe gelê. Hy het nie geweeklaag nie. Hy het gelê en luister na die voetstappe van die voorvaders. Na die klop van drome. Na die lied van water onder die grond. Hy het geweet: waar daar ritme was, sal daar weer lewe wees.
Hy het homself begin opbou, nie uit lig nie, maar uit sy geheue. Uit die trane van ou moeders, uit die asem van die gras van die duineveld, uit die stilswye van ’n kalksteenklip, het hy sy vorm teruggevind.
Toe die maan opnuut verskyn, nie as ’n vol lig nie, maar as ’n dun boog, het die mense geweet: “Hy is terug. Hy het die donker oorleef. Hy het ons nie vergeet nie.”
Kaggen het weer probeer – hy het wolke gestuur, mis, selfs ‘n storm van sprinkane. Maar niks kon Gwe keer nie, want sy lig was nou nie net weerkaatsing nie, dit was herinnering. Elke stukkie van hom was gevorm uit mens en dier, sand en ster.
Op ’n nag toe Gwe weer vol geskyn het, het hy vir Kaggen geroep. “Kyk,” sê hy, “ek het jou nie gehaat nie. Ek het verstaan. Jy wou nuwe dinge doen. Maar sonder balans is nuwe dinge net lawaai.”
Kaggen, het met ’n skaam glimlag net sy skouers opgelig en gesê: “Jy het gewen my vriend.”
Maar Gwe het sy kop geskud en gesê: “Niemand wen nie. Niemand verloor nie. Ѐk keer terug, jý ontwrig. Saam vorm ons die lied van die wêreld.”
Sedertdien hou die mense die maan dop, nie net om te weet wanneer om te plant of te jag nie, maar om hulself te herinner dat elke lig ook ’n skadu het en dat elke skadu lig dra, En in die stryd tussen Gwe en Kaggen leef die balans van alle dinge.
——————————————–ooo00ooo————————————————–
©Pieter Mostert
Voetnotas:
Die simboliek en Interpretasie van hierdie storie is die volgende:
- Gwe simboliseerherinnering, ritme, sikliese tyd, hy is verteenwoordigend van orde, stilte, verdieping.
• Kaggen is die bedrieër, draer van verandering, chaos en vernuwing, maar ook van verwarring en ontwrigting as dit nie begrens is nie.
• Die obsidiaanpot is ’n metafoor vir traumatiese vergete geheue, donker en glad, maar aantreklik vir kragte wat lig wil verswelg.
• Die stilte van die nag verteenwoordig ’n verlies aan kosmiese en kulturele oriëntasie.
• Die heropbou van Gwe uit geheue is simbolies van hoe gemeenskappe hulself kan herstel ná verlies, nie uit materiële goed nie, maar uit herinnering, storie en spirituele verbondenheid met die aarde.
Ek het hierdie insiggewende storie kon saamstel uit die bestudering van die volgende bronne:-
Bronne
• Guenther, M. (1999). Tricksters and Trancers: Bushman Religion and Society. Bloomington: Indiana University Press.
• Biesele, M. (1993). Women Like Meat: The Folklore and Foraging Ideology of the Kalahari Ju/’hoan. Johannesburg: Witwatersrand University Press.
• Barnard, A. (2007). Anthropology and the Bushman. Oxford: Berg.
• Mathes, M. (2018). “The Moon in San Cosmology: Cycles of Death and Return.” African Spiritual Traditions, vol. 12(3), pp. 215–229.
——————————————–ooo00ooo—————————————————
©Pieter Mostert
[Woordtelling = 1099]
SEPTEMBER 2025 – ORDE NA CHAOS PROJEK
1.Orde-dans uit die as van chaos
Pieter sit langs Buks Appelblaar se vuurtjie in afwagting van hom om een van sy nuutste stories aan te hoor. Buks en drie van sy vriende het so pas teruggekeer ná drie dae se jag tussen die duine van die Kalahariwoestyn.
Skielik kom daar ’n geweldige wind oor die duine aangerol en swiep die kole van die vuur soos verskietende sterre die hemelruim in. Oral rondom hulle word die veld aan die brand gesteek met reuse kletterend vlamtonge aangedryf deur ’n woedende wind. Verskrik spring Pieter regop terwyl hy hardop vra: “Is dit dan die oordeelsdag?” Daar heers ’n absolute chaos onder die mense wat gil en skree terwyl hulle oorbluf en verward in alle rigtings hardloop.
Die naghemel is so rooi soos ʼn reuse vuuroond en die lug gevul met rook en stof van roet.
Modderhuise kraak nog onder die hitte en die grasdakke gloei soos sterre in die donker. Die vuur spoel in ʼn vloed van vlamme soos ’n tsunami deur die hutte.
In die middel van die vlakte staan Buks Appelblaar verstar van ongeloof en skok na die chaos, sy bors kloppend soos ’n drom. ‘Ek keer ná drie dae se jag terug, net om my eie kamp in chaos te vind’, dink hy met trane in sy oë. Sy eie mense, sy vrou, sy kind, sy susters, en sy broers, is êrens in die donker. “Hulle is seker uitasem geskreeu van vrees,” dink hy hardop. Hy kon sweer hy hoor hulle roep na hom, maar die rook het almal se stemme saamgesmelt in een dowwe gegons wat klink soos ’n Babelse verwarring .
Dan, net so skielik as wat hy sy verskyning gemaak het, het die wind gaan lê. Buks Appelblaar kniel neer en vat ’n handvol van die as, kyk daarna en strooi dit in die warm lug. Die plek waar sy hut was, is nou net ’n roetswart smeulende askring. Sy binneste voel soos daardie kring – uitgebrand, sonder middelpunt.
“Buks!” roep iemand deur die rook. Dit is sy ouma, Nabas – haar stem is vreesbevange-skril. Sy kom na hom toe aangehardloop, haar gesig oortrek van die as en roet. “Die wind het die vuur gebring. Ons het nie tyd gehad nie. Alles is weg.”
Buks kyk na haar en sien hoe haar oë angsvol heen en weer beweeg, soos die van ’n verbouereerde bok wat in ’n strik vasgevang is. Hy wil haar vra oor sy kind, oor sy dogtertjie, maar die woorde bly in sy keel vassteek. Hy voel net die hitte in sy longe.
Die mense skarrel soos springhase rondom hom. Sommige dra kruike water, ander sleep hout weg. Chaos heers in hul binnekring. Niemand weet waarheen nie. As ek, as die leier van my mense niks doen nie, sal ons almal net as word, dink Buks by homself, terwyl hy stadig na die groot Kameeldoringbome toe loop op die kant van die duineveld.
Onder een Kameeldoringboom lê ’n trom, half in die sand, half met roet bedek. Hy tel dit op. Die vel is nog gespanne, al is dit swart gesmeer van die roet. Hy vee dit met sy hand af en druk die trom styf teen sy bors vas. Sy hart slaan in dieselfde ritme.
“Wat maak jy daar, Buks Appelblaar?” sny ouma Nabas se stem soos ’n spies deur die rook wat oor hul nedersetting hang.
“Ons moet weer ’n middelpunt hê,” sê Buks. Sy stem is sag, maar vasberade.
Hy dra die trom terug tot in die middel van die vlakte. Mense kyk na hom soos na ’n malman.
“Hoe kan hy speel terwyl hulle alles verloor het?” vra een hardop. ?”
Buks Appelblaar ignoreer die vraag en gaan sit op sy hurke waar die vuur sy hut verbrand het. Dan lig hy sy hande op en slaan op die trom. Boom … Boom … Boom …
Die klank sny deur die geroep en gehuil. ’n Enkel ritme, Boom … Boom … Boom … Stadig maar seker begin die chaos onder sy mense bedaar en beweeg hulle in die rigting vanwaar die geboom-boom van die trom kom.
Die kinders, met hul grys as bedekte gesigte, is eerste om al dansende nader te kom. Die vrouens wie se hande vol potte en kruikies is, sit dit net daar neer en begin ritmies handeklap, dans en saamsing. Die mans, uitgeput van vuur doodslaan, kom nader en kniel langs Buks Appelblaar. Twee van hulle begin om weer ’n nuwe vuurtjie vir hom te maak. Soos ’n hart wat weier om te stop hou die trom ritmies aan boom … boom … boom.
Dít is dan ook die oomblik waarop absolute chaos die knie voor orde buig, nie omdat die huise weer herbou gaan word nie, nie omdat die vuur geblus is nie, maar omdat Buks Appelblaar besluit het om nie die as as die einde te sien nie. Hy het dit as begin gemaak. Begin van ’n nuwe lewe vir hom en sy mense.
Dan begin hy luidrugtig sing met ’n stem luider as die wind:
“Uit die vuur, uit die rook,
kom ons weer, kom ons soek.
Ons harte klop, ons voete leef,
die as is donker, maar die maan gee lig …”
Buks Appelblaar se mense begin saam sing, hul stemme sagter, maar in harmonie met syne. Saam vorm dit ’n sirkelklank. ’n Sirkel van eenheid, díé een vorm wat die vuur nie kon uitwis nie.
Teen dagbreek lê die vlakte nog vol as en gebrande hout, maar in die middel is ’n kring van mense, om ’n vuur wat weer brand – hierdie keer beheersd, klein, warm. Bo die vuur hang ’n pot water. Kinders slaap teen hul ma’s. Mans sit met hul hande op hul knieë. In die middel sit Buks Appelblaar nog steeds by sy trom. Hy is nou stil, sy hande rus op die vel. Hy kyk met moeë oë op na die son wat opkom oor die duine.
Hy weet hulle hutte sal stadig weer herbou word. Hy weet die wild sal op jagtogte eers skaars wees, want hul voorraad het verbrand. Hy weet nie of elkeen van sy mense dit gaan oorleef nie, maar hy weet dít: Hy het die sirkel teruggebring.
Hy fluister vir homself: “Chaos sal altyd kom, maar ons klop sal altyd harder as chaos wees.”
Buks Appelblaar se nedersetting was nooit weer dieselfde nie. Die bome wat afgebrand het, het nie weer hul takke herstel nie. Die mense het nuwe hutte gebou rondom daardie plek waar Buks Appelblaar die trom geslaan het. Daardie sirkel het ’n nuwe sentrum geword.
Wanneer die wind weer gevaarlik begin gons het, het hulle nie gevlug in paniek nie, hulle het begin sing, gedans en ritmies handegeklap, terwyl Buks se trom boom … boom … boom …
Hulle het geleer: orde begin by die hart wat klop in die middel van chaos.
En Pieter? Wel, hy was sprakeloos-verstom oor die wyse waarop Buks Appelblaar die chaos in orde omskep het. Om ’n ou Boesmangesegde te gebruik: “Hy het op sy hurke gaan sit sodat sy siel sy liggaam kan inhaal.”
————————————————oooOOooo——————————————————–
©Pieter Mostert
(Woordtelling = 1184}
OKTOBER 2025 – OOP PROJEK
2.Die aarde het geluister – die maanvrou het haar trane gegee
In die Kalahari, waar die wind stories oor die duine fluister en die sterre soos skitterende vuurvliegies aan die pikswart fluweel-karos van die naghemel hang, sit Pieter langs sy ou Boesmanvriend, Buks Appelblaar.
Buks se gesig blink soos gelooide leer in die maanlig, en die vlamme van die vuur dans in sy oë. “Hoor jy hom die wind, myse vriend?” vra hy vir Pieter, wat hom dom aankyk.
“Die wind hy praat vanaand met syse asem vani stof en die ruik vani warm sand by jouse neus. By onse Boese’mense hieri maand, jy roep hom October by jouse taal, is hom die maand wat onse mense stil wag om te gaan hom jag by die duineveld, ons wag hom die reën om te kom.” Dan staan Buks op en sê vir Pieter: “Nag my groot vriend, mag Naoea jou veilig toemaak binnekant by Syse karos vanaand.”
Pieter het nog lank by Buks se vuurtjie gesit terwyl hy nadink oor Buks se woorde. Toe onthou hy die ou Boesmangesegde wat lui: “Oktober is die maand wat die diere laat luister, die wind laat wag en die jagter se hart stadig laat klop, want dit is die tyd wanneer die Kalahari sy asem ophou om te hoor of die reën kom.”
Die volgende oggend het die son rooi-oog van die nag se slaap moeisaam oor die rooi duine begin klim toe ’n jong Boesmanseun, Nani, sy pyl en boog optel. Pieter het die petalje sit en dophou terwyl hy wonder waar Buks Appelblaar is, want hy is gewoonlik vroeg by die vuur.
Nani se ouma, Kara, sit buite haar gras-hut en krap stadig met ’n stok in die sand. Net sy sal daardie patrone wat sy met die stok uitkrap op die sand verstaan, dink Pieter.
“Moenie haastig wees nie,” sê sy vir Nani, sonder om op te kyk.
“Die wind slaap nog. Hy sal jou voete verraai.”
Nani sug diep. Hy weet sy praat nie van die wind alleen nie, maar van Oktober self. Oktober is mos die maand waarin alles op die rand van verandering staan.
“Al die watergate het reeds opgedroog, en die bome hou hul skaduwee styf vas,” sê Ouma Kara. “Dit is nou daardie tyd van die jaar wanneer die springbokke kies om in die ooptes op die duineveld te wei en wanneer die kameelperde se oë verlangend na die dooie bome staar.”
Pieter krap in die argiewe van sy geheue rond. Dan onthou hy dat Oktobermaand vir die Boesmans in die Kalahari die maand is van wag, wag vir reën, wag vir beweging, wag vir tekens.
Later die dag sit Nani saam met Buks Appelblaar en die ouer manne onder ’n kameeldoringboom. Hulle praat van jare toe die reën nog gekom het soos ’n vriend wat sy pad ken. Die oudste, Aob, trek aan sy pyp en sê:
“Ek onthou toe Oktober die reuk van belofte gehad het. Nou ruik dit na stof en vergete name.”
Die jonges luister. Hulle ken nie daardie wêreld waarvan Oupa Aob praat nie, maar hulle hoor die verlange in sy stem.
Oktober bring vir die Boesmans van die Kalahari ’n mengsel van hoop en geduld. Dit is die maand van skaduwee en vuur, van stilte en verwagting. Elke oggend kyk hulle op na die lug om te sien of die wolke begin vorm aanneem, soos stories wat lank gelede vertel was, wat stadig onthou word.
Teen sononder loop Nani saam met sy suster, Uma, na die watergat. Hulle dra twee leë volstruiseiers en ’n kalbas met laaste water van die vorige dag.
Die grond onder hulle voete is hard en gebars. Wonder bo wonder kruip daar uit een van daardie kraters ’n klein, geel blommetjie uit. Uma se gesiggie helder op terwyl sy ingenome glimlag. “Kyk daar Nani,” sê sy. “Die aarde glimlag, al is sy dors.”
Ja! Uma, as Ouma Kara hier was om dit te sien, sou sysê: “As die blom in Oktober glimlag, het die wolke haar naam gehoor,” sê Nani
Nani en Uma sit in stilte by die droë watergat. Hulle sit en kyk hoe ’n trop blouwildebeeste stadig met hul koppe omlaag voor hulle verbytrek.
“Die diere voel ook die verandering. Hulle beweeg nader aan die belofte van die somer. Ek wens die reën kon gou kom,” sê Uma.
Nani glimlag ondeund. “As jy te hard wens, sal die wolke jou nie hoor nie, Uma. Hulle hou van mense soos ek, wat saggies praat,” sê hy spottend. Uma rol haar oë, maar sy weet Nani herhaal maar net weer een van Ouma Kara se wyse gesegdes.
Daardie nag, toe die kampvuur se kole rooi gloei, vertel Ouma Kara die kinders die storie van die Maanvrou.
“In Oktober begin die Maanvrou om weer haar oë oop te maak. Sy kyk na die Kalahari en vra of die mense nog onthou om te luister,” sê Ouma Kara.
“Luister na wat?” vra Uma.
“Na die sand, na die diere, na jouself, want die reën kom net na die een wat kan hoor,” sê Ouma Kara.
Die nag is donker. Pieter sit langs Buks Appelblaar. Die vuur kletter vrolik, en vlamme dans soos babbelende Boesmantonge. Bokant hulle lê die Melkweg wyd uitgestrek. Die melkweg is volgens die Boesmans in die Kalahari, die ou pad van die jagters van lank gelede.
Teen middernag word Nani wakker van ’n koue wind. Hy loop uit en kyk na die horison. In die verte flikker ’n lig. Weerlig, die eerste teken van die seisoen wat draai.
“Oktober jaag nie met geraas nie, hy beweeg soos ’n slang oor die sand,” eggo Ouma Kara se woorde deur die kraters van Nani se brein.
Groot was Nani se vreugde toe hy die reën oor die vlaktes sien aankom. Die eerste weerligflits lyk soos ’n wit been teen die donker hemel. ’n Paar sekondes later rol die donder soos ’n ou drom, diep en ver.
Nani voel hoe sy hart saamklop met die aarde. Hy hardloop terug kamp toe met ’n gejubel roep hy: “Kom kyk, die reën! die reën! die reën kom!”
Almal wat hom hoor skree het van opgewondenheid, het uitgehardloop in die reën en begin sing en dans en hande geklap, met gesigte na die lug. Die eerste druppels val skaars waarneembaar, maar vir elkeen voel dit soos ’n seën. Die kinders lag, die oues glimlag, en Ouma Kara fluister met trane van dankbaarheid in haar oë: “Die aarde het geluister. Die Maanvrou het haar trane gegee.”
“Jy sien Pieter, my groot vriend,” sê Buks Appelblaar met sy hand op Pieter se skouer en ’n glimlag so wyd soos die uitgestrekte duineveld: “October syse maand, hy het homse beloofte gegee. By onse Boese’mese vani Kalahari hieri maand isi tyd wanneer alles hier by onse Kalahariland bly hom binnekant by die asem van eleke dag, van voor die storms hy kom tot by die stilte voor die drom syse dans.”
Buks bly ’n oomblik stil terwyl hy opkyk na die reën wat stadig begin val. Met sy arms wyd uitgestrek sê hy:
“Soos jy wag hom binnekant by October met jouse ore oop en jouse hart stil, sali Kalahari weer samet jou praat. Toe onse Kalahariland was hom gawees die Gees vani die Wind hy het gasê: onse Boese’mense moet hom bly stil, want die maand van luister het gakom. Die diere sal rus, die mense sal wag, en uit die stilte sal lewe weer opkom, want October isi maand vani asem tussen by die droogte eni reën, van die tyd waarin die sand self hy bid.”
“Pieter, my groot vriend, sos Ouma Kara, sy het gasê: “Die aarde het geluister. Die Maanvrou het haar trane gegee.”
———————————-ooo000ooo—————————–
©Pieter Mostert
3.Die taal wat kaalvoet praat – ’n Verhaal oor die woorde wat nie geskryf kan word nie
Hoe lees die ou Boesmangesegde nou weer? “Wie kaalvoet loop, hoor die grond se gebed. Die stilte hou die woorde wat geen mens kan skryf nie en ’n kaalvoet trap spore wat die wind nie kan uitvee nie … ”
Binne die Boesman-denke is die taal wat kaalvoet praat nie vasgevang in ink op papier nie, maar leef dit in die asem van die sand en die sterre. Dit is ’n taal van spore wat verdwyn en tog blywend is. Dit is ’n taal van stories wat rondom die vuur saans en deur die wind oor die duine gedra word en deur die duineveld gefluister word. Dit is die stem van hul voorouers wat in stilte voortleef en die wysheid van die grond wat mens leer om te luister. Om kaalvoet te loop is om weer deel te word van die aarde se polsslag en om te onthou dat ons nie die eienaars van die pad is nie, maar reisigers wat saam met die aarde se geheue beweeg … so sê die Boesmans van die Kalahari.
Vanuit ’n akademiese gesigshoek, is die taal wat kaalvoet praat ’n ontsluiting van ’n epistemologie van verbondenheid waarin mens, natuur en voorouerlike geheue verweef is. Dit herinner ons daaraan dat taal nie net ’n stelsel van tekens is nie, maar ’n lewende verhouding met grond en stilte. Hierdie taal roep ons op tot ’n ander manier van hoor, wees en leef. Dit herinner ons daaraan dat ons self spore is binne die groter weefsel van tyd.”
In die liries-poëtiese woorde van Buks Appelblaar by sy vuurtjie: “Pieter, my groot vriend, die taal wat hom kaalvoet praat, hy bly nie vas ini mond nie, hy loop saam met die wind oori duine. Dit fluister in die sterre, klop in die grond, en sing in die stilte van jouse eie hart. As jy jouse skoene hom uittrek en luister, jy sal hoor hom hoe die aarde self die laaste woord praat; stadig, diep en sonder einde.”
Die sand van die Kalahari was daardie aand rooi soos kole, en die sterre het begin oopgaan soos wit skitterende blomme in die donker nag-hemel. Pieter het die vuurtjie aangesteek, en Buks Appelblaar het sy pyp gestop met droë blare en stadig daaraan begin trek.
“Pieter, my groot vriend,” het Buks gesê, “jy vra altyd oor die taal vani mense, die taal vani diere, en die taal vani wind. Vanaand, my groot vriend, ek sal jou vertel vani taal wat nie geskryf kan word nie. Es hom nie taal vani letters of pampier nie. Es die taal wat die grond hom self praat.”
Pieter, kaalvoet daardie aand, het nader geskuif en sy knieë teen sy bors opgetrek terwyl hy aandagtig na Buks gesit en luister het.
“Lank … lank … sy tyd ,” het Buks begin, “toe die mense het hom nog kaalvoet galoop oori dyne soner hom spies of die pyl eni boog by homse hande, daar was die stem binnekant by alles gawees. Soos die eland hy het geloop, hy het hom die lied agtergelos met syse spore.
Die wind hy het hom die stories oori die duine gewaai. Onse mense het hom nie die boeke gehad nie. Ons het hom onse ore, onse oge en onse vel gehad. Die taal was oral. Jy kon hom hoor sos die nag se uil roep, jy kon hom sien sos die sterre oor jouse kop dans, jy kon hom voel sos die sand hom koud word onder by jouse voete.”
Buks se stem het sagter geraak: “Toe kom hom die mense met die penne eni pampier. Hulle wou hom die taal vani grond by die pampier vasmaak. Hulle wou dit bêre soos water ini volestrys syse eier en die kalabas.
“Pieter, my groot vriend,” het Buks ernstig voortgegaan terwyl hy deurgaans met sy hande op sy bors gekap het, “maar sê jy nou vanaand vir my, hoe jy sit hom die smaak vani wind in by die pampier vani boek?” Hoe skryf jy die ruik vani reën wat die sand se dors volmaak binnekant vani pampier vani boek?”
Pieter het Buks Appelblaar verleë aangekyk, terwyl daar ’n ongemaklike stilte tussen hulle was wat vir Pieter soos ’n ewigheid gevoel het.
“Jy kan nie, my groot vriend, want daai taal leef,” her Buks Appelblaar se stem soos ’n pyl uit sy boog deur die ongemaklike stilte gesny. D-a-a-r-i deng wat hom die lewe hou ,hy wili vasgemaak word met die pen by die pampier vani boek nie.”
Pieter het in die vlamme gekyk. “Buks,” wou hy weet, “hoe leer ’n mens dan daardie taal?”
Buks het ingenome geglimlag terwyl die vlamme van die vuur wat in die spieëls van sy oë weerkaats, lyk het asof hulle besig was om die dromedans uit te voer.
“Jy kan die taal wat hom kaalvoet praat nie leer sos by die pampier vani boek nie nie. Jy moet hom daari taal luister saamet jouse hart. Sos jy het galoop ini die sand vani dyne, jy moet hom luister en hoor hoe syse lyf hy praat. Sos jy staan by die dooie kameeldoring en jy voel hom syse hout, hoor hoe hy fluister van die droogtes wat gakom en gagaan het. Sos jy hou jouse hande oor by die vuur, jy sal hom hoor hoe die vlamme die taal van jouse voorouers terugpraat. Daardie taal is nie vir die oge wat hom die pen eni pampier soek nie. Daari taal es hom vir die ore wat hom die stilte hoor.”
Die nag het stil geword. Net die geknetter van die vuur het gepraat. Toe het Buks bygevoeg:
“Onse Boese’mense sê: Naoea, Hy het hom Syse asem in alles gablaas, maar Hy het Syse taal binnekant by die stiltes weggesteek. As jy die stilte kan hoor, Pieter, my groot vriend, dan jy sal hom verstaan die taal wat hom nie geskryf kan word nie.”
Pieter het sy oë toegemaak. Die sterre van die melkweg het geskitter soos ’n bruisende rivier van blinkende diamantjies.
Vir ’n oomblik, net ’n oomblik in daardie stilte, het hy gevoel asof hy ’n woord verstaan het, ’n woord wat nie op papier bestaan nie, maar net kaalvoet praat, in die hart van die Kalahari …
———————————————-oooOOOooo———————————————
©Pieter Mostert
NOVEMBER & DESEMBER 2025 – OOP PROJEK
3.Hier is my hart, jy kan dit sien. Ek kom sonder skadu’s
Die son se oog maak pêrel-pienk sy verskyning oor die hoë rooi duine van die Kalahariwoestyn en begin al hoër en hoër in die wolklose blou hemelruim opklim. Die jong Boesmanseun, Kuri, maak sy oë oop en met ’n groot gaap staan hy opgewonde van sy karos af op en hardloop na buite.
Dit is die dag waarop hy amptelik as ’n volwaardige lid van sy mense, die Xoé-San, ontvang gaan word.
Kuri loop en dink aan sy ouma, Uma, wat altyd vir hom gesê het: “In die Kalahari groet ’n mens nie met die mond nie, maar met die hart, want woorde kan lieg, maar die hart nooit. Groet die wêreld eers met jou hart, dan sal die wêreld jou nie as ’n dier sien nie.”
Kuri se groot Ouma, Nisa, het dit altyd so mooi gestel: “Ek wys my hart sodat jy kan sien ek kom sonder skadu. As jy met jou hart wys, sien die ander jou lig, nie jou donker nie.”
Só, het sy altyd bygevoeg: “As jy iemand groet met jou hand op jou hart, dan sê jy eintlik “Ek is nie ’n gevaar nie. Ek is ’n mens. Ek onthou wie ek is, want, my kind, in die hart woon jou voorouers, jou drome en jou belofte om nie skade te doen nie.”
“Daardie gesegdes van my en groot Ouma Nisa,” het sy ouma Uma gesê, “verwys na ’n groet van opregtheid. Daarmee wys hulle dat hulle niks wegsteek nie en dat hulle met vrede en eerlikheid nader kom.” (In Boesmankultuur is “skadu” nie net die fisiese donkerte nie, maar ook ’n beeld vir bedrog, woede of geheime pyn. Om “sonder skadu” te kom, is om met ’n oop gemoed en suiwer bedoelings te nader).
Kuri het egter nog altyd oor hierdie gesegdes gewonder wat so vrylik oor ouma Uma en sy groot Ouma Nisa se lippe gevloei het. Hoe is dit moontlik dat ’n hand op ’n bors meer beteken as duisend woorde, het hy altyd by homself geredeneer? Min het Kuri geweet dat hierdie einste gesegdes nog deur homself tot sy voordeel aangewend sal word.
Kuri het stadig na die groot kameeldoringboom gestap waar die oggendseremonie sou plaasvind. Die res van die groep, met hul gesigte wat soos gelooide leer blink in die oggendson, het in ’n kring gesit. Die oudste van die groep, Oupa Gau, het in stilte met ’n waardige houding penorent gesit. Hy het in die rigting van Kuri se skuiling gesit en kyk en toe hy hom sien, het hy hom met knik van sy kop nader gewink.
“Kuri,” begin Oupa Gau met ’n stem wat kraak soos droë hout van ’n ou kameeldoringboom, “vandag gaan ons jou iets leer wat die wêreld buite die Kalahari lankal reeds vergeet het. Die hand op die hart is ouer as die boog en ouer as die stories in die sand. Die groet met die hand op die hart, is die teken dat jy nie die wêreld nét met jou oë sien nie, maar ook met jou binneste.”
Kuri kniel voor oupa Gau in die koel sand van die Kalahari.
Oupa Gau vat ’n lang teug aan sy pyp en blaas wolkies rook die lug in terwyl hy lank in die rigting van die duineveld tuur. Dan sit hy sy regterhand plat teen sy bors op sy hart en sê:
“Wanneer jy só groet, Kuri, sê jy: “Hier is my hart, jy kan dit sien. Ek kom sonder skadu’s.”
Na ’n lang stilte gaan Oupa Gau voort met sy vertelling aan Kuri, wat ongemaklik op sy knieë in sand begin rondskuif.
“Lank gelede, het die mense van die Kalahari in verskillende groepe geleef. Daar was min water, min wild en baie onenighede tussen die mense. Daar was twee groepe wat heftig baklei het oor ’n klein watergat. Dit was om die minste te sê eerder ’n plassie modder met ’n paar druppels water, maar in die Kalahari beteken ’n druppel water, soos jy weet, die verskil tussen lewe en dood.”
“Die twee groepe het mekaar dag vir dag dopgehou, albei gereed om te veg vir die behoud van hierdie modder poeletjie. Op ’n warm dag het ʼn vrou met die naam Nisa, wat jou oumagrootjie was, uit haar groep gestap. Sy het stadig na die water geloop waar die ander groep gestaan het, gewapen met pyle, boë en spiese, gereed om haar af te slag. Die situasie was uiters gespanne.
Kuri, jou groot Ouma Nisa het egter kopgehou en kalm gebly te midde van hierdie gespanne situasie. Sy het haar hand stadig gelig en dit teen haar hart gesit. Sy het niks gesê nie. Sy het net gewys: “Ek bring nie gevaar nie. Ek bring my menswees.”
Oupa Gau glimlag effens. “En die wind het haar kant gekies daardie dag, want soos ons altyd sê: “Die wind van die Kalahari luister na die hart wat waar praat.”
“Die ander groep het uiteindelik hul eie hande opgelig en op hulle harte geplaas. So sonder dat enigeen ’n enkele woord gesê het, is die eerste vrede tussen hulle gesluit. Sedert daardie dae, het hierdie gebaar van met die hand op jou hart groet oor die hele Kalahari versprei.”
Kuri het aandagtig na Oupa Gau gesit en luister, maar hy het nie heeltemal verstaan wat Oupa Gau bedoel het nie. Hoe kon ’n eenvoudige gebaar werklik vrede bring? Was dit nie net ’n mooi verhaal nie? het Kuri homself afgevra.
Toe oupa Gau vir Kuri aan die einde van die seremonie beveel om sy eerste taak as man uit te voer naamlik om ’n stukkie heuning vir die groep te gaan soek, het die woorde van sy Oumagrootjie: “Ek bring nie gevaar nie. Ek bring my menswees,” aanhoudend in sy kop gemaal. Kuri moes, soos die gebruik vereis, alleen gaan om ’n stukkie heuning vir die groep te gaan soek.
Die skroeiende son hang alreeds hoog aan die blou hemel en die hittegolwe dans op die duine asof hulle die een of ander ritueel uitvoer.
Kuri volg die voetspore van die bye tot by ’n groot ou kameeldoringboom waar ’n kolonie wildebye se nes hang. Hy klim stadig en versigtig vir die geniepsige lang dorings in die boom op en haal uiteindelik ’n klein stuk heuningkoek uit. Toe hy egter besig is om van die boom af te klim nadat hy die heuning uitgehaal het, hoor hy ’n geluid soos ’n gemsbok wat weghardloop omdat hy vir iets of iemand geskrik het.
Dan gewaar hy hom. Net ’n paar tree van hom af staan ’n vreemde jagter met sy boog klaar gespan en reg op hom gerig. Kuri herken hom nie; dit moet iemand wees van ’n groep wat noord van hulle woon.
Ouma Uma se gesig doem skielik glashelder in Kuri se gedagtes op en hy hoor haar sê: “Groet die wêreld eers met jou hart, dan sal die wêreld jou nie as ’n dier sien nie.”
Kuri kyk die vreemde jagter aan met ’n sagte trek in sy oë terwyl hy sy regterhand stadig op sy hart plaas. Hy kan voel hoe sy hart benoud onder sy vingers klop.
Die vreemde jagter bly roerloos staan met sy oë emosieloos op Kuri vasgenael. Die oomblik voel vir Kuri soos ’n ewigheid. Hierdie is mos vir jou ’n bewys dat ouma Uma se groet met die hand op die hart niks beteken nie, dink hy byna hardop. Sy gedagtes was skaars koud toe die vreemde jagter sy boog laat sak en die aggressie in sy oë tot kalmte verander. Hy herken die gebaar van die groet met die hand op die hart. Hy buk vooroor en sit sy boog op die grond neer, waarna hy orent kom en sy regterhand ook op sy hart plaas.
Kuri en die vreemde jagter glimlag woordeloos vir mekaar en buig met ’n sagte klik van die tong vooroor. Geen woorde word geuiter nie. Twee mense, twee harte, onder dieselfde skroeiende Kalahari-son.
Die vreemde jagter stap ’n paar tree terug, dan draai hy stadig om, glimlag vir Kuri en verdwyn oor die duine.
Teen sononder kom Kuri taamlik uitgeput by die kamp van sy mense aan. Die groep sit om die vuur. Hy plaas die heuning voor Oupa Gau neer en kyk hom apologeties in die oë. Dan sê hy skaam en verleë op gedempte toon: “Oupa Gau, ek verstaan nou dat die groet met my hand op my hart beteken: “Ek bring nie gevaar nie …. Ek bring my menswees … Hier is my hart, jy kan dit sien … Ek kom sonder skadu’s …”
————————————————ooOoo————————————–
©Pieter Mostert
Bronne
• Barnard, A. 1992. Hunters and Herders of Southern Africa: A Comparative Ethnography of the Khoisan Peoples. Cambridge: Cambridge University Press.
• Lee, R.B. 1979. The !Kung San: Men, Women and Work in a Foraging Society. Cambridge, MA: Harvard University Press.
FEBRUARIE 2026 – OOP PROJEK
2.Die sand onthou elke voetspoor – Die wind besluit wat bly
Pieter sit langs Buks Appelblaar by sy vuurtjie, omring deur die nostalgie van die uitgestrekte rooi duine van die Kalahariwoestyn.
Buks Appelblaar en sy mense woon aan die rand van die Kalahariwoestyn, waar die duine soos reuse sandgolwe lê, versteen in tyd. Die wêreld hier is wyd, vreedsaam en stil, maar dit is ’n ander tipe stilte as waaraan Pieter gewoond is. Jy kan jou eie hart hoor klop as jy lank genoeg luister.
Die woestyn praat ook stadig en saggies met jou. Hy fluister in die wind. Dit is soos ’n rustige asemhaling van iemand wat in ’n diep slaap verkeer. Jy kan sy stilte ook voel. Soos Buks eenmaal vir Pieter gesê het: “As jy die stilte kan hoor sal jy nooit alleen wees of eensaam voel nie.
“As jy mooi luister met jou hart, Pieter, my groot vriend, sal jy weet stilte is nooit leeg nie,” was Buks se wyse woorde.
Die kole knetter opgewonde asof hulle in kompetisie met mekaar stories vertel, en die vlamme buig soos dansende skadu’s teen die sand. Die hemel bokant die Kalahariwoestyn lê soos ’n swart fluweelmantel wat met ontelbare skitterende klein diamantjies versier is, met die Melkweg breed en helder soos ’n reuse skitterende silwer waterval met miswolkies, wat op die duine neertuimel.
Die wind waai saggies deur die gras van die duineveld soos iemand wat iets wil sê, maar eers wag tot hy regop sit om te luister, dink Pieter.
Pieter trek sy skoene uit en woel met sy tone in die rooibruin sand van die Kalahari. Die sand voel koud tussen sy tone en dit voel vir hom kompleet asof die sand lewe onder sy kaal voete.
Pieter sit en wonder wat in Buks se storievertel-kop aan die maal is terwyl hy aandagtig na hom sit en kyk. Elke storie uit Buks Appelblaar se mond is uniek en verrassend vol wyshede en waardevolle lewenslesse, kom die gedagte by Pieter op.
Terwyl die vlamme van die vuur soos babbelende Boesmantonge in Buks se oë dans sê hy: “Pieter, my groot vriend, die sand onthou elke voetspoor van jou hier by onse Kalahariland, maar die wind hy besluit wat bly.”
Sonder om ’n verdere woord te sê buig Buks vooroor en gooi ’n stukkie kameeldoringhout op die vuur.
Pieter kyk Buks vraend aan. Hy verstaan nie heeltemal wat Buks bedoel nie. Vir hom is sand net sand. Dit brand onder sy kaal voete in die middag, en dit koel vinnig af wanneer die son sak, maar vir Buks is sand ’n lewende boek, soos Pieter nou al weet uit vele gesprekke tussen hulle.
Pieter onthou dat een van die ouer mans, met die naam Muri, in Buks Appelblaar se groep, hom eendag vertel het dat Buks Appelblaar op sy dag ’n uitstaande spoorsnyer was. “Buks, is nie net ’n man wat spore kon volg nie, maar een wat stories uit elke spoor kon lees. Hy kon uit ’n enkele spoor in die sand lees of dit ’n gemsbok was wat vir iets gevlug het, of een wat net water gesoek het. Hy kon sien of ’n jakkals bang of net honger was; en hy kon ook sien waarheen die hiënas in die nag loop,” het ou Muri destyds vir Pieter gesê.
“Pieter, my groot vriend,” onderbreek Buks se stem Pieter se gedagtes. “Alles in die lewe hier by onse Kalahariland los ’n spoor, selfs gedagtes. Jy sien dit nie, maar jy voel dit.”
Dan staan Buks op en gaan sit op sy hurke ’n entjie verder, maar nog steeds in die lig van die vuur. Hy wys met sy vinger na ’n reeks spore in die sand. “Wat sien jy? vra hy vir Pieter.
Pieter kyk … en hy kyk … en hy kyk weer … Dit lyk vir my soos ’n Babelse verwarring, dink Pieter. Dan raai hy: “Bokke, Buks, dit lyk soos ’n klomp bokke wat al in die rondte gemaal het, se spore.
“Ja! my groot vriend, jy het reg geraai,” sê Buks met ’n breë glimlag op sy gesig, “maar wat sien jy nog?”
Pieter kyk weer. Die spore is ongelyk. Party is dieper as ander. “Die bokke het geskrik vir iets en weggehardloop, Buks,” sê Pieter onseker.”
“Nie gehardloop nie, my groot vriend,” sê Buks, nog steeds glimlaggend en baie ingenome met homself. “Dit was ’n trop gemsbokke. Hulle was onseker. Sien jy hoe hulle tone wyer oop is? Hulle het gestaan en luister na iets. Iets het hulle laat skrik en hulle was gereed om weg te hardloop.”
Pieter voel hoe Buks Appelblaar se wêreld tussen die rooi duine vir hom oopgaan. Die sand praat. ’n Paar tree verder wys Buks vir Pieter ’n ander spoor. Die spoor is groter, duideliker en dieper in die sand getrap.
“Lyk vir my soos ’n luiperd se spoor,” fluister Pieter vir Buks.
Buks knik sy kop, duidelik ingenome met Pieter se antwoord.
“Ja,” sê Buks, “die luiperd het iets agtervolg maar hy was nie haastig nie, want daar was nie ’n ander luiperd in die omgewing waar hy jag nie. Hy het ook geweet hy word nie gesien nie.”
“Het hy sy bok gekry, Buks,” vra Pieter opgewonde?”
Buks lag uit sy maag uit en sê: “Pieter, my groot vriend, môreoggend ons sal saam loop by die duine dan sal ek jou leer om die spore by die sand te lees. Môre sal jy sien dat die sand elke voetspoor lees en onthou, maar dat die wind besluit wat bly.”
Buks staan op en sit met uitgestrekte arm sy hand op Pieter se hart. Terwyl hy vir Pieter diep in die oë kyk, sê hy: “Nou, my groot vriend, ek, Buks Appelblaar, ek voel die sand by my oge word swaar.
Ek sê jou goeienag. Mag Naoea jou veilig toemaak by sy karos vannag,” sê Buks. Dan draai hy om en stap na sy slaapskuiling.
Pieter het nog lank alleen by Buks se vuurtjie gesit en diep nagedink oor die wyshede van Buks Appelblaar.
Toe die kole van die vuur hul laaste snikke gee, staan Pieter op en stap diep ingedagte stadig na sy tentjie toe.
Die volgende oggend vroeg steek Buks sy kop by Pieter se tentjie in: “Kom, Pieter, my groot vriend,” sê hy sag’ “vandag leer ek jou lees.” “Ek sal jou leer dat die sand elke voetspoor onthou, maar dat die wind besluit wat bly.”
Pieter stap saam met Buks Apppelblaar die duine van die ongenaakbare Kalahariwoestyn in. Hulle stap in stilte. Die lug is koel. ’n Dun laag mis hang soos spierwit spookasem laag bokant die duine. Voordat Pieter kon vra, sê Buks, asof hy Pieter se gedagtes kon lees: “Dít is die asem van die duine, wat nog nie besluit het om op te staan nie.”
Hulle volg die spore tussen die duine waar die sand nog sag is van die nag se koelte. Die onseker spore van die trop gemsbokke asook die stil berekende spoor van die luiperd wat Buks Appelblaar gisteraand vir hom gewys het, is nog vars in Pieter se geheue.
Voorheen het Pieter net eenvoudig oor spore geloop en hulle skaars raakgesien. Hy begin nou anders na die spore kyk sover hulle loop. Pieter besef nou dat wanneer jy na spore in die sand kyk, jy nie net met jou oë nie, maar ook met jou hart daarna moet kyk.
By ’n holte tussen twee groot duine gaan sit Buks op sy hurke en wys vir Pieter met sy hand. “Kyk, my groot vriend, sien jy die sand is omgekrap. Daar lê ook ’n paar hare lê rondom die spore as jy mooi kyk. Enkele tree verder is daar ’n groot dowwe spoor diep in die sand getrap.”
“Dit is ’n groot luiperd se spoor, nè Buks,” sê Pieter selfversekerd en baie ingenome met homself.
Buks knik sy kop bevestigend, dan sê hy: “Die wind het al klaar begin werk, my groot vriend. Wat gebeur het, lê nie meer oop en bloot nie. Net genoeg bly oor vir dié wat kan lees.”
Pieter herhaal Buks Appelblaar se woorde hardop vir homself: “Die wind het al klaar begin werk. Wat gebeur het, lê nie meer oop en bloot nie. Net genoeg bly oor vir dié wat kan lees.”
Met ’n breë glimlag op sy gesig staan Pieter van sy hurke af op. Hy verstaan skielik. Dit is asof daar ’n nuwe wêreld vir hom oopgaan, die wêreld van sy goeie vriend Buks Appelblaar. Die sand onthou alles; elke huiwering … elke besluit … elke ja … en elke nee, maar dit is die wind wat sif en wegneem. Wat oorbly is nét dit wat saak maak. Die wind is tyd ingereken by Naoea se genade, dink Pieter. Ons spore is in hierdie sand, maar die genade van Naoea voed ons spore. Die sand onthou elke voetspoor, maar die wind besluit wat bly.
Pieter kyk terug na hul eie voetspore. Party is reeds half verdoesel deur die oggendbriesie. “Teen vanaand sal ons spore weg wees, maar dit beteken nie dat ons nooit hier was nie, nè Buks?” vra Pieter half hartseer.
Buks sien die hartseer in Pieter se oë. Hy kom staan langs Pieter en sit sy arm om Pieter se skouers.
“Buks, jy het gisteraand vir my gesê die sand onthou. Ek sien dan nou geen enkele spoor meer nie. Die wind het alles toegewaai,” sê Pieter.
Buks glimlag half verleë. “Die wind onthou elke spoor wat hy toewaai, Pieter,” sê hy. “Die wind kies watter spoor moet bly.” Jy moet leer om spore te lees soos jy jou boeke lees.
Ons mense se spore is moeiliker om te lees as diere sin. ’n Mens kan ’n spoor los wat nie in sand sigbaar is nie, maar die wind weet van elke spoor. Woorde is ook spore wat die wind dra,” sê Buks.
“Wat as die wind alles wegwaai, Buks,”? vra Pieter. “Wat bly dan oor, Buks?”
“Pieter, my groot vriend,” sê Buks, “ons almal loop. Ons almal los spore, maar wat bly, is nie altyd dit wat ons dink nie. Nét die waarheid van jou hart bly binnekant jou spore onder by die sand… Die sand onthou elke voetspoor, maar die wind besluit wat bly.”
Dan kyk Buks na die horison waar die son begin sak en sê: “Pieter, my groot vriend, soos my oë die horison lees is die wind op pad. Ons moet begin omdraai terug kamp toe.” Buks se woorde was skaars koud toe die wind begin opsteek. Eers kom hy liggies oor die duine aan soos die sagte stem van ’n ou Boesman wat besig is om stories te vertel.
Buks en Pieter begin op hul spore wat nou amper heeltemal toegewaai het onder die sand, terugstap kamp toe. Op een van die hoë duine staan hulle vir ’n paar minute lank stil en kyk hoe die wind halfmaan-sekeltjies teken in die sand. Ons staan op die duin van tyd en kyk hoe die hemel kobaltblou oor ons ontvou, dink Pieter by homself.
Die duine begin beweeg. Die oppervlak verander, maar diep onder die sand bly lae wat eeue lank lê. Onsigbaar vir die blote oog, maar stil, getrou en opreg.
Net so skielik as wat die wind gekom het, gaan lê hy en laat die Kalahariwoestyn spoorloos na. In onskuld, soos iemand wat ’n nuwe blaaitjie omgeslaan het, het
lê die Kalahariwoestyn saggolwende en eindeloos in tyd uitgestrek voor die oë van Pieter en Buks Appelblaar.
Vir Pieter, wat ’n ongemaklike knop in sy keel het, voel die oomblik asof heilig en kyk hy met nuwe oë na die nostalgie van die Kalahariwoestyn.
Tot groot verbasing van Buks Appelblaar, sak Pieter die volgende oomblik op sy knieë neer in die rooi sand. Hy druk sy hand plat in die sand so diep as wat hy kan. Hy hou sy hand vir ’n paar sekondes so in die sand, asof hy iets wil inprent.
Daarna staan hy op, terwyl Buks, wat nou behoorlik aangeklam is, sê: “Pieter, my groot vriend, laat die wind die spoor wat jou hand in die sand gelaat het, vat soos hy wil, want die sand onthou elke spoor, maar die wind besluit wat bly.”
Nou verstaan ek, Buks,” sê Pieter met trane in sy oë: “Die wind kan nie wegwaai wat jy met jou hart geskryf het nie. Die wind vee uit … ; Die sand bêre …; en iewers tussen uitvee en bêre word ’n mens se verhaal geskryf.”
————————————————oooOooo———————————————–
©Pieter Mostert
Naoea = volgens die Boesmans die Hoogste Gesag
MAART 2026 – HERFS/KAS PROJEK
1.Wanneer die Kameeldoringboom sy blare laat val…
Pieter kuier by sy vriend, Johan, op sy plaas in die Kalahari. Johan se pa is ’n jaar gelede oorlede en Johan het die plaas geërf waarop hy deesdae voltyds boer. Dit is die begin van Maart en die tekens van herfs is reeds sigbaar in die natuur.
Pieter is bekommerd oor sy vriend wat hom sedert sy pa se dood al meer en meer van die sosiale lewe onttrek en ’n kluisenaars bestaan begin voer. Gevolglik is die doel van Pieter se kuiertjie by Johan om Johan sover te kry om sy oorlede pa se klerekas uit te sorteer, sodat hy vrede kan maak met die feit dat sy geliefde pa nie meer met hom is nie.
Dit is laatmiddag en Johan het so pas hul braaivleis-vuurtjie aangesteek. Hulle sit onder ’n reuse ou kameeldoringboom en gesels oor hul kinderjare waartydens hulle vir ure lank onder hierdie einste kameeldoringboom gespeel het. Die boom het nou al begin om van sy blare af te gooi en oral op die grond lê daar verdroogde kameeldoring peule.
Pieter kyk op na die blou-blou lug bokant hulle. “Herfs in die Kalahari het darem maar ’n nostalgiese bekoring van sy eie. Johan, kan jy nog Toon van den Heever se gedig, In die Hoëveld, onthou?”
“Ja,” antwoord Johan en begin die gedig hardop voordra. “In die hoëveld, waar dit oop is en die hemel wyd daarbo, …
“Ja … Ja …,” val Pieter vir Johan in die rede. “Ek dink as Toon van der Heever vandag hier langs ons gesit het, sou hy sy gedig só aangepas het: “In die Kalahari, waar dit oop is en die hemel wyd en blou-blou lug daarbo … ”
Hulle lag heerlik saam, sit dan lank in stilte en staar na die uitgestrekte saggolwende duineveld van die Kalahari. Dan vra Pieter ewe taktvol “Johan, het jy al jou pa se klerekas uitgepak en herrangskik? In die stede maak baie mense letterlik hul klerekaste oop wanneer die herfs aanbreek. Die mense haal hul somersklere uit en bêre dit elders of in tasse. Sommige kledingstukke word vir liefdadigheid weggegee. Dit is ’n klein Herfs-ritueeltjie van ordening, sê hulle.”
“Nee, Pieter, sedert my pa se dood hierdie tyd laas jaar, het ek nog nie die moed gehad om sy klerekas uit te sorteer nie. Daar is soveel herinneringe in daardie kas van hom. Ek raak opnuut hartseer wanneer ek sy kas oopmaak. Miskien kan jy my help om die kas uit te sorteer, Pieter? Jy was immers vir my pa soos ’n eie kind gewees,” sê-vrae Johan.
“Ja, my vriend,” sê Pieter, “ek sal jou met plesier help om dit te doen, maar voordat ons dit doen, kom ons ry eers môre na Buks Appelblaar toe. Ek verlang nogal na die wyse ou siel wat altyd ’n antwoord of ’n storie vir alles het waaraan jy kan dink. Ek wed jou hy het nie ’n storie oor ’n herfskas opruim nie”, sê Pieter terwyl hy nog ’n stomp op die vuur gooi.
“Dit is nou ’n goeie idee, my vriend,” sê Johan met ’n glimlag. “Môre sal ons sien of wysheid sy Boesman gevang het of nie,” skerts Johan. Min het hy besef dat Pieter se voorstel van die kuiertjie by Buks Appelblaar juis daarop gemik is om hom sover te kry om sy pa se klerekas te ontruim; en op die wyse vrede in sy gemoed te vind met die feit dat sy pa nie meer daar is nie. Pieter is egter in sy hart daarvan oortuig dat Buks Appelblaar Johan met een van sy wyse vertellings sal oortuig om daardie takie af te handel.
Die volgende dag vertrek Pieter en Johan na Buks Appelblaar toe in die suide van die Kalahari waar hy en sy mense woon.
Hulle is skoon oorweldig met die hartlike manier waarop Buks hulle met die hand op die hart en met trane van blydskap groet. Vir Pieter omhels hy sommer. Toe Buks hom omhels, kan Pieter nog die reuk van Buks se vuurtjie van die vorige aand aan sy riempieslyf ruik.
“Ai … ai … my groot vriend, my hart het verlang vir jou. Naoea, Hy het jou teruggebring by my. Nou my hart hy spring soos die jong springbok by die dyn se veld,” sê Buks met ’n breë glimlag op sy koperbruin gesig.
Daardie aand sit Pieter en Johan onder die sluier van die volmaan saam met Buks Appelblaar by sy geliefde vuurtjie. Terwyl Buks die kole in die vuur met ’n stok regkrap kyk Pieter en Johan met ’n geheimsinnige glimlag vir mekaar. Buks merk dit op. Asof hy Pieter se gedagtes kan lees vra hy: “Pieter, my groot vriend, watter jakkals dra jy en Johan by julle se kop vanaand? Ek hoor hom, hy huil nie, hy lag soos die hiëna.”
“Buks,” sê Pieter verleë, ken jy ’n klerekas? In die stede maak baie mense hul klerekaste oop wanneer die herfs aanbreek. Dan maak hulle hul herfskaste skoon of pak dit reg vir die winter. Ons praat van die herfs as die najaar. Hoe maak julle mense?”
Buks Appelblaar staar lank na die kole van die vuur wat gloeiend rustig asemhaal soos ’n dikgevrete leeumannetjie wat rustig onder ’n boom lê en slaap. Dit is asof Buks ’n antwoord op Pieter se vraag in die vuur soek. Êrens in die stilte van die nag roep ’n uil na sy maat en die windjie wat nou al begin koel raak, waai liggies oor die duineveld.
Net toe die lang stilte tussen hulle ongemaklik begin raak, sê Buks met ’n glimlag op sy gesig terwyl hy steeds in die vuur staar sonder om op te kyk.
“’n Klerekas, sê jy? Pieter, my vriend …, die duine van die Kalahari het nie klerekaste nie. Die dyn se veld bêre sy goeters anders.”
Buks buig vooroor, tel ’n droë kameeldoringpeul van die grond af op en hou dit tussen sy vingers.
“Pieter, onse Boese’mense, hier by onse Kalahariland, ons het hom ook die herfskas. Net onse Boese’mense, onse herfskas hy staan nie binnekant by die huis soos julle se mense by die dorpe nie. Onse herfskas hy lê onder by die hemel.” Buks wys met sy kierie na die sand rondom hulle.
“Wanneer die warm dae begin terugstaan en die eerste koel asem van die nag langer word, dan weet die dyn se veld dit is die tyd om sy sakke leeg te maak.”
“Kyk daar!” Buks wys met sy kierie na die grond onder een van die kameeldoringbome waar peule, droë gras en afgevalle blare lê. “Wanneer die kameeldoringboom sy blare laat val, weet die woestyn dit is tyd om ligter te reis. Die kameeldoringboom maak sy sak oop en gooi sy ou goed uit. Die wind kom dan en hy vat dit en dra dit rond. Party sade gaan slaap in die sand. Party word kos vir die gemsbok en die springbok. Niks word weggegooi nie. Alles kry net ’n nuwe pad. Dit is hoe die dyn se veld sy kas skoonmaak, Pieter,” sê Buks.
Die wind fluister deur die takke van die groot kameeldoringboom en die maan hang soos ’n groot ronde wit bal bo die duine van die Kalahariwoestyn. Buks gooi die droë kameeldoringpeul wat hy in sy hand het in die vuur waar dit sag kraak onder die hitte van die gloeiende kole. en Dan kyk hy op na Pieter. Pieter het vroeër die middag vlugtig vir Buks vertel van die dilemma waarmee hy sit met Johan en die ontruim van sy pa se klerekas. Pieter glimlag en knik vir Buks.
“Buks,” sê Pieter, “in die stad waar ek woon gooi mense sommer baie goed weg. Ou klere, ou dinge. Party keer ook ou herinneringe.”
Die wyse ou Buks Appelblaar snap onmiddellik waarop Pieter afstuur. “Aha! …” sê hy terwyl hy sy hande saamvou. “Nou verstaan ek die jakkals wat by jou en Johan se kop lag.” Hy draai na Johan toe en kyk hom met deernis reg in die oë. Johan skuif ongemaklik rond, vermy Buks se oë en staar in die vuur wat nou byna net warm as is.
“Dit gaan oor my pa se kas, Buks,” sê hy sag, sonder om op te kyk. “Ek kry nie die moed bymekaar om dit oop te maak en reg te pak nie.”
Buks trek met sy kierie ’n sirkel in die sand, dan sê hy saggies: “Johan, toe my eie pa lank terug geloop het na die groot kamp van die voorvaders, het ek ook sy sak nie oopgemaak nie.”
“Die maan hy het vir baie nagte lank hier by die dyne verby geloop soos jy sien hom daarbo vanaand,” beduie Buks met sy kierie na die maan. “My pa se goeters hulle het net daar gelê. Sy ou veldsak met sy pylpunte. Sy riem. Sy mes. Sy kalbas wat hom die water dra. Sy karos. Allemal syse goeters.”
Buks kyk na Johan met erns reg in die oë. “Ek het gedink as ek dit aanraak, sal my hart weer oopbreek soos ’n droë peul van die kameeldoringboom, maar toe sê my ouma vir my iets.”
Buks bly vir ’n oomblik stil, wat vir Johan soos ’n ewigheid voel. Pieter, wat aandagtig sit en luister na wat Buks vir Johan vertel, sien die ongemak op Johan se gesig en besluit om die stilte van die oomblik te breek.
“Wat het jou Ouma gesê, Buks?” vra Pieter.
“My ouma sy het gesê: “My kind, die kameeldoringboom by die veld hy hou nie aan sy ou blare vas nie. As hy dit doen, sal die nuwe groen nooit kom nie.”
Buks buk vooroor en vee die sirkel wat hy vroeër met sy kierie in die sand getrek het met sy hand uit. Pieter en Johan is nou die ene ore en sit nader aan Buks, so asof hulle bang is hulle mis ’n stukkie van Buks Appelblaar se wysheid.
“Toe maak ek my pa se sak oop,” gaan Buks voort. “Ek het nie alles weggegooi nie. Party goeters het ek gehou. Sy pylpunte. Sy mes. Sy stories … maar party goeters het ek vir die wind gegee, want die mens se hart is soos ’n veldsak. As hy te vol word, kan hy nie meer nuwe dae dra nie.”
Buks kyk na Johan met ’n sagte glimlag op sy gesig. “Wanneer julle môre jou pa se kas oopmaak, Johan,” sê hy, “moenie dink julle gooi sy lewe weg nie. Nee, julle doen net wat die kameeldoringboom in die herfs doen. Julle laat die ou peule val sodat die nuwe sade kan opkom.”
Buks tel weer ’n kameeldoringpeul op en breek dit oop. Die sade val uit sy hand in die sand.
“Luister mooi, my vriende,” sê Buks, “’n mens se lewe bly nie in sy klere nie. Dit bly in die stories van onthou, wat ander mense nog vertel.”
’n Stilte sak oor die drie mans. Ver agter die duine tjank ’n jakkals gevolg deur die koggellag van ’n hiëna.
Pieter kyk na die volmaan wat nou al hoër bokant die duine begin hang. Hy gee ’n diep sug van verligting en sê: “Buks, jy het weer ’n antwoord gehad op ’n vraag wat ons eers nog nie mooi kon verstaan nie.”
Buks lag saggies. “Dit is nie my antwoord nie, Pieter, my groot vriend,” sê hy. “Dit is die dyn se veld se antwoord. Ek luister net. Waar die wind draai, lê die antwoord. Die dyn se veld hy skryf nie met die pen by die pampier nie. Hy skryf hom met die wind by die seisesoene.”
Hulle sit lank in stilte elkeen besig met sy eie gedagtes. Die maan klim hoër en hoër op in die naghemel bokant die Kalahari. Buks staan op en gooi nog ’n stomp op die warm as van die vuur, wat nou weer begin opvlam. “Gaan slaap nou, my vriende,” sê hy. “Môre wag daar die oopmaak van Johan se pa se kas vir julle.”
Dan kyk hy vir Johan en sê: “Môre gaan jy jou pa se kas oopmaak, né, Johan? Nie met hartseer nie, maar soos die duineveld wat sy herfs begin … ”
Die volgende middag, ry Pieter en Johan terug na sy plaas toe. Teen laatmiddag staan hulle voor die ou houtkas in Johan se oorlede pa se kamer. Die venster staan effens oop. ’n Droë Kalahariwindjie beweeg liggies deur die gordyn en bring met dit saam die skerp reuk van kameeldoringpeule wat op die grond val.
Johan staan ’n oomblik net daar. Sy hand rus op die kas se koperhandvatsel; ’n handvatsel wat sy pa duisende kere oopgetrek het. Johan haal diep asem.
“Is jy gereed?” vra Pieter sag. Johan knik, maar hy vat nog ’n paar sekondes voordat hy die kas oopmaak. Die skarniere kraak soos ’n ou herinnering wat lank stil gelê het.
Die bekende reuk van sy pa se tabak kom hulle tegemoet en dit voel asof die reuk van die tabak die kamer omhels. Vir ’n oomblik sê niemand iets nie. Pieter en Johan staan net vir mekaar en kyk. Dan haal Johan sy pa se hoed versigtig van die rak af. Hy draai die hoed in sy hande, kyk daarna, en sit dit dan op sy kop. Met ’n breë glimlag op sy gesig, sê hy: “Jy weet Pieter, Buks Appelblaar was reg … ”
Johan kyk dieper in die kas. Rye hemde, hang netjies soos sy pa dit altyd gehou het. Party is reeds verbleik van die son. Hy haal ’n paar uit en vou dit stadig op. “Party dinge, bly maar by ’n mens en party dinge moet weer die pad vat,” sê hy sag.
Pieter stap na die venster en kyk uit oor die werf. Die goue strale van die laatmiddag son streel sagkens oor die rooi sand. Die wind suis deur die takke van die ou kameeldoringboom en sy droë peule val een vir een grond toe. Die Kalahari het ’n eenvoudige manier om ’n mens iets te leer, dink Pieter. Ons leef in ’n wêreld waarin niks vir ewig voortbestaan nie, hetsy of dit die blare van ’n boom, spore in die sand of ’n mens se lewensdae is.
Agter Pieter vou Johan nog ’n hemp netjies op en lê dit versigtig op die bed neer terwyl hy saggies prewel: “Mooi is die lewe en die dood is ook mooi.” *
Die klerekas van sy se oorlede pa staan nou wawyd oop soos ’n deur waardeur die verlede rustig kan uitstap.
Buite huil die wind soos ’n jakkals wat hartroerend tjank, terwyl die kameeldoringboom sy blare laat val …
————————————————–oooOooo————————————————
©Pieter Mostert
[woordteling = 2444]
Notas:
Naoea = volgens die Boesmans die Hoogste Wese.
*Aangehaal uit die digter N.P. van Wyk Louw in sy gedig, Nog in my laaste woorde.