Groot vlieënde varke met klein vlerkies
(Woordtelling: 802)
Dit is maar moeilik om met iemand vriende te wees wat sukkel om by die waarheid te hou. En soms is dit so erg dat jy by die venster moet uitkyk om te sien of die son werklik skyn. Jy is letterlik die hele tyd besig om hul oggend- en aandpraatjies te vergelyk en alles wat by hul monde uitkom te weeg.
Die makliker manier is om nie sulke vriende te hê nie. Die moeilikheid kom egter in wanneer een van jou sibbe gedurig die waarheid so effens na links verdraai en ‘n ander die gewoonte het om elke iedere ding bietjie blinker en bietjie groter as die werklikheid voor te hou. In kort, dit is uitputtend. Die lagwekkendheid daarvan is dat hulle hulself glo en glad nie raaksien dat ander soms openlik vir hul stories lag nie.
Maar so sit Jan eendag in ons sitkamer, skoene blink gepoleer en ‘n gaatjie in sy broek. Sy hare geolie en agteroor gekam. My liewe suster plak soos ‘n magneet aan sy lippe en slurp al sy stories met blink ogies op. Hy vertel dat hy gehelp het om Sun City daar buite Rustenburg te bou. Jip, hierdie man wat ‘n hele paar jaar my junior is, het gehelp om Sun City te bou. As kind het ek van hierdie bouery in die Sondagkoerant gelees en as tiener die geleentheid gekry om die plek te besoek. In ‘n poging om nie per ongeluk my te eerlike opinie te lug nie, luister ek net met ‘n halwe oor. Dit is immers Ousus se nuwe (jonger) liefde en die eerste keer wat ons hom ontmoet. Sug.
Terwyl Jan voel dat hy die gehoor aan sy voete het, moet hy aanhou borduur, hoe hard hy gewerk het en so aan. Dit raak al hoe warmer op my stoel en die vlamme wil-wil groei terwyl die rook by my ore uitborrel. Hoe groter my kriewel raak, hoe minder beheer het ek oor my mond en daar glip dit uit, dat hy darem nou nie net ‘n vark gooi nie, maar sommer ‘n hele varkplaas. Onmiddellik daal daar ‘n dik stilte oor die geselskap neer. Ma spring gou op en gaan maak koffie, pa kug ongemaklik en Ousus gooi missiele in my rigting. Maar Jan se groot bek is nou uiteindelik stil.
Hoe groter Ousus se bewondering vir hierdie knaap raak, hoe groter raak haar liegstories en ondergaan sy ‘n totale persoonlikheidsverandering, reg voor ons oë. Die geld wat hulle leen om ‘n besigheid aan die gang te kry, verander in gefermenteerde druiwesap en groter leuens. Dit sneeubal tot niemand meer weet waar die waarheid is, en of daar ooit ‘n waarheid was nie. Van terugbetaal is daar natuurlik geen sprake nie en toe die geld op is, gee Jan vir Ousus ‘n paar blou, verbrand haar klere en verdwyn. Innerlik slaak ons ‘n sug van verligting en help Ousus om weer die stukke van haar lewe op te tel.
Maar Ousus het die ongemaklike gewoonte aangeleer om die waarheid so effense knyp te gee, en dink dat niemand dit agterkom nie. Ma glo natuurlik als wat uit haar liefling dogter se mond kom, maar mens kan met ‘n stok aanvoel dat die stories nie so lekker klink nie. Sy keer terug na die kerk, gee haar nog ‘n keer oor aan Jesus se vergifnis en sê lê haar ou lewe nog ʼn keer af. Na elke man wat uit haar lewe verdwyn, lê sy haar lewe af. En af. En af. Dis seker nou al die vierde keer en sy verander sommer ook haar naam.
Ons staan op die kantlyn en bekyk hierdie saak met groot oë. Van werklike belangstelling is daar nie juis sprake nie want die storie se einde is altyd dieselfde, maar ons probeer haar ondersteun in wat sy ookal aanvang.
Die jammerte van mense wat links en regs leuens vertel, is dat dit selde by ‘n paar verdraaide stories eindig. Op een of ander manier leer hulle ook om te subtiel te steel, of ten minste om ‘n ander se arm so te draai dat hulle net aanhou geld gooi. Skielik rits Ousus die hele wêreld vol met Pa se beursie en sy nuwe motor. Dis nie net Checkers toe en terug nie, maar honderde kilometers agter die skimme van Facebook-vriende aan – wat haar natuurlik ook met ‘n liegstorie gevang het.
Dit wat jy uitdeel sal jy seker ook ontvang, en hoe groter jou leuens, hoe makliker word jy deur ander se leuens verblind. Die hartseerste deel van so ‘n mens is dat hy sy eie leuens glo, of dit ten minste op een of ander opskure manier verdedig. Dit is ‘n wêreld op sy eie en soort soek soort. Hulle vind aanklank by mekaar en als spiraal net af in ‘n donker gat waarvan daar geen bodem is nie.
Word jy so gebore of is dit aangeleerde gedrag?
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April 2023 KLUG projek